Blog

Maak jou kind lief vir lees

Die grendeltyd is die ideale tyd om jou kind lief te maak vir lees. Die Skoleondersteuningsentrum (SOS), wys jou hoe.

’n Liefde vir lees kan meebring dat jou kind “‘n duisend lewens leef voordat hy sterf”…wat maar eintlik beteken dat lees ’n kind se verbeeldingswêreld stimuleer en hom die geleentheid gee om enigiets oor alles en alles oor enigiets te leer.

Die voorlees van verhale tuis en op skool moet nooit as blote tydvulling of selfs tydmors beskou word nie. Ouers en onderwysers moet dit beslis ook nie sien as ‘n vreugdelose plig nie. Die geesdriftige voorlees van stories is ’n belegging in die luistervreugde en ontdekkings van jou kind. Op skool is die doelwit van lees om te kan leer en daarom is die vaardigheid om behoorlik te kan lees dus die grondslag of voorvereiste vir enige leersukses. Maar hoe gemaak as jou kind nie wil lees nie?

 

Begin by die oorsaak

Wanneer ’n kind sukkel om te lees, gaan hy dit outomaties vermy en daarom is dit belangrik om vas te stel wat die oorsaak van die leesprobleem is.  Alle leer vind in lae plaas en dit is nodig om vas te stel watter basiese vaardigheid van lees jou kind dalk nog nie baasgeraak het nie.

Die basiese vaardighede van lees is logiese denke, geheue, perseptuele vaardighede en konsentrasie.  Perseptuele vaardighede sluit onder meer in die vermoë om visueel te kan diskrimineer, sintetiseer en analiseer in terme van voorgrond-agtergrond, vorm, grootte, kleur en posisie-in-die-ruimte.

Om dus net ‘n boek in die hand te stop en te sê “lees”, gaan nie lees met genot tot gevolg hê nie.  Indien jou kind met een of meer van bogenoemde vaardighede sukkel, is dit noodsaaklik dat jy eers werk maak daarvan. Maak ‘n afspraak by ’n kenner soos ’n opvoedkundige sielkundige of klop aan by ’n organisasie soos Edublox. Intussen kan jy tuis toesien dat jou kind genoeg buite klim en klouter, oor en oor aandui waar links en regs is en die posisie van objekte ten opsigte van homself bepaal, byvoorbeeld “regs van my”, “links van my”, “agter my” en “voor my”.

 

Maak lees ’n gewoonte

Maak die besoek aan die biblioteek of boekwinkel een van jou eerste vakansie-uitstappies sodat daar genoeg leestyd oor is!  Die meeste kenners is dit eens dat dit goed is om hardop vir kinders voor te lees, selfs tot diep in die hoërskool. Die skrywer Carin Krahtz (bekend vir haar boek Elton amper-famous, April en juffrou Brom) sê hoe langer ‘n mens vir kinders voorlees, hoe meer ywerig raak hulle om self te wil lees en met hoe meer selfvertroue en begrip doen hulle dit. Die teendeel is ook waar vir kinders wat nié goed kan lees nie.

 

Kry ’n lekker-lees-boek vir jou kind

Die meeste boekliefhebbers sal vir jou vertel dat daar altyd daardie een boek is wat die skaal laat kantel en van jou ‘n passievolle leser maak. Vir party van ons oueres was dit Trompie, Saartjie, die Uile en Jasper, maar vir die jonger geslag is dit dalk eerder boeke uit Jaco Jacobs of Fanie Viljoen se pen. Help die lees-gogga om jou kind te byt deur hom bekend te stel aan ‘n verskeidenheid boeke wat sy leeslus sal aanwakker!

 

*Die SOS glo dat lees in ’n kind se moedertaal onontbeerlik is vir akademiese sukses as hy of sy ouer word. Daarom bied die SOS op 23 April 2020 ‘n leesseminaar vir onderwysers aanbied. Bespreek jou plek hier: https://zoom.us/webinar/register/WN_a-a80dGnQz-VizVprw4Adw

Teken in op ons nuusbrief