Blog

Tiekies vir ’n Tassie

’n Haasbek dogtertjie staan skamerig nader toe haar juffrou haar naam hardop lees. Sy steier vorentoe en voel hoe haar wange gloei. “Waar is jou skryfgoedjies, hartjie?” vra die juffrou. Sy haal haar plastieksakkie met ’n paar stomp potlode en ’n uitveër wat halfpad gekou is uit. “Mamma,” stotter sy, “sal die res van die penne aan die einde van die maand vir my koop.”

Die doel van Solidariteit Helpende Hand se Skooltassie-projek strek wyer as om net ’n tassie vol skryfbehoeftes in ’n graadeentjie se hand te plaas – dit skep hoop, gee selfvertroue en verseker die kind dat daar iemand is wat in hom of haar glo.

Regoor Suid-Afrika is daar duisende graadeens wat opgewonde en vol selfvertroue hulle skoolloopbaan betree, maar daar is ook duisende kinders wat opdaag met ’n paar stomp potlode en ’n uitveër wat halfpad gekou is.

Vir Solidariteit Helpende Hand is die Skooltassie-projek ’n hartsaak. Vir die afgelope 13 jaar slaag ons daarin om duisende tassies regoor die land te versprei. Daar word gereeld navorsing gedoen om seker te maak dat die inhoud van die tassie voldoen aan meeste van die skole se skryfbehoefte vereistes. Die waarde van so ’n tassie met die inhoud is R300.

Die jaar is amper verby en graad een-inskrywings vir 2021 is grotendeels afgehandel.  Ons besef egter dat dit ʼn uitdaging is om die behoefte in Oktober al te identifiseer veral voor die aanvang van die nuwe skooljaar en juis daarom kan die volgende maatstaf vir die identifisering van behoeftige graad R’e  gebruik word:

  1. Graad R leerders wie se ouers nie op ’n gereëlde basis skoolgelde betaal nie;
  2. Graad R leerders wat deur ’n maatskaplike werker as behoeftig geïdentifiseer is;
  3. Graad R leerders wat deel van die skool se voedingskema-projek is.
  4. Graad R leerder wat deur ’n Helpende Hand-verteenwoordiger of -vennoot (kerke en organisasies in die gemeenskap) as behoeftig geïdentifiseer is.
  5. Leerders wat nie na die inperkingstyd teruggestuur is skool toe nie weens finansiële redes.

Om 2021 se Skooltassie-projek ’n sukses te maak, wil ons graag vroegtydig die nodige inligting van u skool ontvang. Ons doen ‘n beroep op u skool om die volgende inligting spoedig moontlik aan Helpende Hand te voorsien:

Aansoeke sluit 23 Oktober 2020.

Kontak ons gerus by [email protected]  indien u meer inligting verlang.