Deur Leana Espach
Student: Akademia
Na ‘n oorweldigende matriekjaar het ek uitgesien om in 2021 die rustigheid van die studentewêreld te betree. Ek het gedroom om lekker klas te draf, nuwe mense te ontmoet en weekliks ‘n ander reeks klaar te kyk. Een van die baie lekker dinge van studentwees, is vakansies. Na afloop van ses maande se harde werk wat geëindig het in uitmergelende eksamens, kan ek uiteindelik my voete optel, Netflix aansit en net ontspan! Maar – eerder as my voete optel, trek ek maar my netjies stewels aan; eerder as Netflix aansit, maak ek my rekenaar oop; en eerder as ontspan, kies ek om iemand in my droomwerk, heeldag soos ‘n skaduwee te volg.
Hoekom sou ek my vakansie opoffer om ‘n vreemdeling in ‘n spesifieke beroep, te volg en hier en daar werkies of takies te verrig sonder om eers betaal te word?
Skaduwerk is nie werklik ʼn formele werkservaring nie, maar ook nie ʼn vorm van internskap nie. Dis eerder ‘n kort, agter die skerms geleentheid wat vir jou ‘n prentjie skep van hoe ʼn tipiese dag in jou droomberoep of loopbaankeuse lyk. Dit kan jou hoop gee en opgewonde maak, of jou moedeloos en onseker laat oor die beroep wat jy wil volg. Skaduwerk is ‘n geleentheid wat jou wys wat die boeke jou nie kan leer nie. Dit gee vir jou ‘n idee van watter vaardighede, kennis, persoonlikheid en mentaliteit jy benodig om die beroep van jou keuse te betree en daarin te presteer.
Skaduwerk laat jou die belangrike vrae vra: Is hierdie beroep regtig vir my? Sal ek elke dag saam met hierdie tipe mense kan werk? Sal ek dit geniet om hierdie elke dag te doen?
Buiten al hierdie voordele, kan skaduwerk vir jou ʼn magdom geleenthede oopmaak. Dit gee vir jou ‘n voorsprong bo jou eweknieë, deurdat jy nog ʼn item op jou CV kan voeg en boonop begin bou aan ʼn professionele netwerk van kundiges in ʼn spesifieke bedryf. Die mense wat jy tydens skaduwerk ontmoet (en beïndruk) is waardevolle verwysings en wie weet, hulle kan selfs vir jou ʼn voltydse pos aanbied met die indruk wat jy gemaak het tydens daardie week of dag wat jy iemand se skaduwee was.
Ek het onlangs self die geleentheid gekry om deur Solidariteit skaduwerk te doen by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum, wat vir my die brein van onderwys en onderrigmodelle in Afrikaans kon wys.
My week van skaduwerk het my tien teen een ‘n bietjie vakansiepret laat misloop, maar in hierdie week saai ek die saad van bome wat baie vinnig gaan groei en waarvan ek binnekort die lekker sappige vrugte gaan proe.