Blog

Uitstekende voorbereiding vir die rekordeksamen

deur Hendrik de Kock

Wolkskooldosent: Assessering

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) bied vanjaar weer ons voorbereidingseksamen om matrikulante te help om voor te berei vir die Wiskunde-rekordeksamen.

Die hele doel van die voorbereidingseksamen is om aan leerders ‘n geleentheid te gee om eerstens bemeestering van die kurrikulum te demonstreer (dus assessering van leer). Dit skep ook ‘n geleentheid vir die leerders om te konsentreer op afdelings wat nog steeds uitdagings veroorsaak (assessering vir leer). Leerders behoort na hierdie eksamen beter voorbereid te wees vir hulle skool se interne rekordeksamen, maar ook meer gereed te wees vir die eindeksamen.

Die rekordeksamen is nou reeds op die Die Wolkskool beskikbaar.

Die formaat: Multikeuse vrae gegroepeer volgens KABV-fokusareas.

Tydsduur: 3 ure per vraestel soos per KABV-riglyne.

Aantal vrae: 50 vrae per vraestel.

Inhoud: Fokusareas volgens die onderskeie gewigte wat daaraan toegeken word deur die KABV-riglyne.

Kognitiewe vlakke: Volgens KABV-riglyne van Teorie/Kennis, Roetine Prosedure, Komplekse Prosedure en Probleemoplossing.

Moeilikheidvlakke: Vrae wissel tussen Maklik, Gematig en Klippekou (moeilik).

Memorandum: ‘n Volledige memorandum met modelantwoorde word beskikbaar gestel.

Die eksamen self en die administrasie daarvan: Leerders sal die meeste by hierdie rekordeksamen baat deur die volgende beginsels toe te pas, indiwidueel of in klasverband:

  • Skep jou eie eksamenomstandighede (d.w.s. hou by die tydsbeperking, geen onderbrekings, geen hulpmiddels nie (behalwe die wat voorgeskryf is), ens.
  • Voltooi elke vraag volledig (asof dit ‘n normale vraestel is). Eers hierna kan antwoorde met die moontlike keuses vergelyk word. Die regte keuse word daarna gemaak.
  • Moet nooit bloot raai nie – gebruik die geleentheid as ‘n voorbereidingsoefening.

Voordele: Daar is verskeie voordele vir leerders, onderwysers en ouers:

  • Onderwysers hoef nie ure te werk om vraestelle op te stel en weer na te sien nie.
  • Oombliklike resultate is beskikbaar. Direk nadat leerders die eksamen voltooi het, is die uitslae beskikbaar.
  • Modelantwoorde gee aan leerders die geleentheid om hulle eie bewerkings met die modelantwoorde te vergelyk.
  • Remediëringsprosesse kan dadelik begin.
  • Ouers kry insae in hulle kinders se vlak van bemeestering en kan hulle begelei en aanmoedig om so goed as moontlik voorbereid te wees vir die komende matriekeksamen.

Kom wen en leer saam deur deel te neem aan die tegnologies-gevorderde SOS Rekordeksamen van wêreldgehalte.

Die Wolkskool, ‘n aanlyn leerplatform van die SOS, staan die matrieks van 2021 by met ‘n volwaardige Graad 12 Wiskunde-rekordeksamen ter voorbereiding van vanjaar se interne rekordeksamen. Dit dien ook as ‘n uitstekende voorbereiding vir vanjaar se matriekeindeksamen.


Teken in op ons nuusbrief