“Opvoeders vandag het die verantwoordelikheid om die onderwysprofessie te vorm. Oor vyf-en-twintig jaar gaan die onderwys in die hande van ons kinders wees. Daar is geen twyfel dat ons visie, of tekort aan een, diepgaande gevolge sal hê nie.” Hierdie aanhaling deur Kevin Ryan, ontvanger van die 1998-toekenning vir Uitnemendheid in Opvoedkunde, is nie onlangs gemaak nie, maar reeds in 1969.
In 2022 staan onderwys voor ‘n keerpunt: óf ons draai die kurwe opwaarts vorentoe, óf ons gaan onvermydelik op ‘n afwaartse trajek. Daar is nie ‘n middeweg van ‘voortgaan soos altyd nie’. Onderwysers, as meesters van onderwys (meesteronderwysers), moet die verandering in die klaskamer begin. Is die tradisionele manier van klasgee nog opvoedkundig verdedigbaar?
Die omgekeerde klaskamer
Die eerste tree vorentoe na vernuwende onderrigpraktyke, is die omgekeerde klaskamer. Hierdie praktyk is nie nuwe nuus nie. Skole in die buiteland en universiteite in Suid-Afrika gebruik hierdie model van onderrig al vir jare met groot sukses. In die omgekeerde klaskamer kom nie net die onderwyser voorbereid in die klaskamer in nie, maar ook die leerders. Tegnologie, soos Die Wolkskool, maak dit vir leerders moontlik om tuis voor te berei deur kort videos, werkkaarte en assesserings te doen wat aanlyn beskikbaar is. Onderwysers kry terugvoer van assessering se uitslag en kan voor die klas sien wie wat weet en sy/haar les daarvolgens beplan. Die toepassing van die inhoud kan op dié manier in baie meer diepte in die klaskamer, onder die leiding van die opvoeder, gebeur.
Kringonderrig
Skole verwag vir eeue al dat een onderwyser alles moet wees vir alle leerders te alle tye van die skooldag. Geen wonder soveel onderwyser verlaat die beroep nie! Met kringonderrig (spanonderrig of “co-teaching”) word ‘n groep opvoeders saamgevoeg sodat hulle as span verantwoordelikheid neem vir die voorbereiding, beplanning en onderrig van ‘n groep leerders. Kringonderrig benut verspreide kundigheid in een span en leerders kry toegang tot die beste van nie net een opvoeder nie, maar van almal. Hierdie praktyk word reeds met groot sukses in verskeie Afrikaanse openbare skole in Gauteng toegepas.
Tegnologie
Digitale tegnologie kan nooit ‘n opvoeder in die klaskamer vervang nie, maar tegnologie in die hande van ‘n kreatiewe opvoeder, kan leer op hoër vlakke laat plaasvind. Tegnologie maak oplossings in onderwys moontlik wat vroeër ondenkbaar was. In die verlede het klastoetse en huiswerkkontrole waardevolle klastyd opgeneem. Met die Wolkskool weet onderwysers presies wie voorberei het, wat hulle weet en waar die leemtes is wat in die klas aangespreek moet word. Luister hier na ‘n nuwe perspektief op tegnologie in die onderwys.
Waardes en dissipline
Kweek ons leerders om ‘n graad te kry of kweek ons leerders met ruggraat? Karakter is die ruggraat van wat beweging (of gedrag) moontlik maak en elke waarde is ‘n werwel. Met die Christelike geloof as rugmurg en ‘n ruggraat wat gedrag bepaal, kan ‘n kind sy/haar roeping op skool ontdek en na skool suksesvol bydra tot die gemeenskap waar God hom/haar geplant het. Dissipline is ‘n probleem in ‘n “waardelose” klaskamer en skool. Om ‘n waardegedrewe skool te word, gebeur nie oornag nie, maar die resultaat is ʼn belegging in die toekoms van die volgende geslag. Karakterontwikkeling in skole is ononderhandelbaar. Lees gerus ook: Hoe lyk respek en medemenslikheid in skole?
Die hoop van Afrikaanse onderwys lê nie in die gemak van tradisionele onderwyspraktyke nie. Die SOS werk hard om die toekoms van Christelikbegronde Afrikaanse onderwys te verseker. Jy kan saam werk.
Kyk gerus na die webinaar: Die Toekoms van Onderrig en Leer