Blog

Aan wie behoort openbare skole: die staat of gemeenskappe?

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het ‘n omvattende regsmening ingewin om die regmatigheid van die onteiening van staatsondersteunde skole in 1996 te bepaal. Die regsmening fokus spesifiek op die oorgangsbepalings in die Suid-Afrikaanse Skolewet (1996) met die oorgang na die nuwe onderwysbedeling.

Volgens Melanie Buys, hoof van Ontwikkeling by die SOS is die volhoubaarheid van Afrikaanse gemeenskappe verbind aan die volhoubaarheid van goeie Afrikaanse skole in die gemeenskap. Ekonomiese agteruitgang in plattelandse gemeenskappe loop dikwels hand aan hand met die verval van goeie skole in die dorp. Gemeenskappe soek dringend nuwe antwoorde.

“Goeie skole wil graag bestuur optimaliseer, nuwe onderrigmetodes implementeer, kurrikulum aanpassings maak of leerders die keuse bied om IEB-eksamens te skryf, maar departementele voorskrifte beperk en benadeel skole dikwels. Die SOS streef na groter selfstandigheid van skole. Die afwenteling van besluitnemingsmag en eienaarskap na skoolvlak, is n internasionale neiging in top-onderwyslande – behalwe in Suid Afrika. Goeie openbare skole in Suid-Afrika ervaar al meer staatsbeheer, maar al minder staatsondersteuning.”

Die SOS het, met hulp van die Solidariteit Regsfonds, ’n omvattende regsmening aangevra oor die regmatigheid van die onteiening van staatsondersteunde skole in 1996. Artikel 55(1) van die Skolewet (1996) het bepaal dat alle “staatsondersteunde” (openbare) skole se onroerende eiendom aan die staat oorgedra word deur n enkele kennisgewing in die staatskoerant.

Aktesoektogte van ‘n paar openbare skole het aan die lig gebring dat verskeie skole se titelaktes steeds in die skool se naam is. Dit het gelei tot heelwat vrae oor die eienaarskap van skole voor en na die onteiening wat deur die Skolewet (1996) teweeggebring is.

Die Onteieningswet, aangepas volgens die bepalings van die Grondwet (1996), vereis dat spesifieke prosedures gevolg word wanneer ’n eiendom onteien word. Hierdie prosedures was egter nie gevolg nie. Die bepalings van Artikel 55 is ongrondwetlik en die wyse waarop die onteiening van skole in 1996 plaasgevind het, was onbillik.   

Met hierdie regsmening is die laaste woord oor die onafhanklikheid van openbare skole nie gesê nie, maar word die eerste tree geneem wat die weg baan vir skole om te beding vir groter selfstandigheid, selfs onafhanklikheid, van die staat. Die SOS glo dat hierdie regsmening nuwe feite op die tafel plaas wat moontlik ‘n groot verandering in openbare skole te weeg kan bring. Die SOS het belangstellende skole genooi om die moontlikhede wat hierdie regsmening oopmaak, saam met hulle verder te ondersoek.

Vir navrae, kontak Melanie Buys [email protected] of 076 850 3157.

Teken in op ons nuusbrief