Om ou patrone en gewoontes te verander kan moeilik wees en dit kan ons soms terughou. Onderwysers wat tans in die beroep is, kom voor talle uitdagings te staan. Tegnologie speel ʼn groter rol as ooit en by talle skole is aanvaarding daarvan steeds traag .
Besin vir ʼn oomblik oor jou eie daaglikse praktyk in jou klaskamer. Voel jy werklik dat jou huidige praktyk jou die vryheid gee om te doen waartoe jy geroep is? Tegnologie speel ʼn toenemende rol in die vooruitgang en ontwikkeling van beskawings. Dit is egter so dat ʼn voortdurende spanning tussen tegnologie en die onderwys heers.
Die kommer bestaan dat tegnologie die onderwys al verbygesteek het. As dit teen dié trant sou aanhou, gaan die onderwys soos ons dit ken “verouderd” of agtergelaat word. Dít is nie goed vir taal-, kultuur- en waardeoordrag nie. Die huidige onderwysaanbod skep nog nie genoeg ruimte vir tegnologie nie en die tyd is dus ryp om die onderwys nou aan te pas en te verbeter.
Van ons huidige leerders sal eendag werk betree wat op die oomblik nog nie eers bestaan nie. Hoewel ons dus ons leerders toekomsgereed moet maak, is daar in ons huidige onderwysstelsel weinig indien enige ruimte en tyd om aan toekomsgerigte vaardighede te werk.
Ons is dikwels vasgevang in ʼn situasie waar ons bloot vakinhoud in klastyd oordra, waarna leerders aan hulle eie genade oorgelaat word wat die toepassing, evaluering en ontleding van inligting betref. Leerders word dikwels opgelei om soos robotte die regte ding op die regte tyd te sê of te skryf, maar kan bitter min van wat hulle op skool “leer” (of eintlik “hoor”) in die praktyk toepas.
Die onderwys moet leerders in eersteklaslandsburgers omskep; nie tweedeklasrobotte nie. Die realiteit van onderwys is dat ʼn groot deel van onderwysers se dag aan administratiewe take spandeer word. As onderwyser behoort jou hooftaak te wees om leerders vir die toekoms toe te rus deur hulle dieper en met meer insig te leer kyk na die inhoud wat behandel word.
Solidariteit het ʼn oplossing vir die huidige uitdagings wat jy as onderwyser in die gesig staar. In Solidariteit se kursus oor die omgekeerde klaskamer sal jy kennis maak met ʼn onderrigmetode wat vir jou die ruimte sal bied om binne die huidige skoolstelsel aan die voorpunt van ontwikkelings in die onderwys te bly, met die voordeel van tyd.
Die kursus bied ʼn metode aan onderwysers om deur die inhoud van hul vak te kom sonder om sekere temas aan die leerders self oor te laat. Dit stel ook onderwysers in staat om tyd te kry om persoonlik met elke leerder op sy of haar eie vlak te skakel, of die klas nou uit 10 of 60 leerders bestaan. Sommige leerders benodig meer konkrete oefeninge en hierdie kursus wys onderwysers hoe om tyd aan sulke leerders te bestee om hulle te verryk. Kennis is mag, maar ons neem dit een tree verder. Danksy die kursus sal onderwysers tyd hê om hul leerders met kennis te bemagtig, maar om hulle ook ʼn dieper begrip te gee van hoe hulle dié kennis kan gebruik.
Die geleenthede wat hierdie kursus bied, is eindeloos. Ontsluit jou wêreld en wees deel van die sukses van jou leerders se toekoms. #RaakTuis by Solidariteit en sluit sommer vandag nog hier aan om jou kursus oor die omgekeerde klaskamer te voltooi. Lees meer hier oor hoe jy vir dié kursus kan inskryf.