Die bekendmaking van 2023 se TIMSS-verslag (Trends in International Mathematics and Science Study), het weereens bevestig dat leerders baat by onderrig wat kritiese, kreatiewe en analitiese denke bevorder. Hierdie internasionale studie stel leerders bloot aan komplekse, realistiese scenario’s wat meer as blote memorisering vereis. Suid-Afrikaanse Graad 5-leerders het, soos in 2019, weer die heel laaste telling (362) behaal in vergeleke met 57 ander lande. Graad 9-leerders se tellings (397) het effe verbeter. Die bespresterende land was weereens Singapoer (612).
Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) doen daarom ‘n dringende beroep op die Departement van Onderwys (DBO) om die huidige benadering tot Wiskunde-onderrig in Suid-Afrika te hersien. Onderwysers, wat die kundiges binne hulle vak- en fasegebied is, se vermoë om effektief te onderrig word belemmer deur beperkende voorskrifte en ‘n oorbeklemtoning van prosedurele kennis.
“Wiskunde is nie net ‘n reeks prosedures en formules nie. Dit is ‘n taal. Daarom is dit belangrik om te onthou dat alhoewel moedertaalonderrig en Wiskunde nie onafhanklik ontwikkel nie, ‘n leerder se moedertaal eers goed vasgelê moet wees voordat abstrakte simbole en Wiskunde as taal geleer kan word,” sê Maryke Bellingan, Wiskunde-onderwysspesialis by die SOS.
Wiskunde bestaan uit drie hoofkomponente:
• Feitekennis: Basiese begrippe (woordeskat) en memorisering vorm deel hiervan.
• Prosedurele kennis: Die metodes en stappe om wiskundige probleme op te los.
• Konseptuele kennis: Die vermoë om probleme te ontleed, te vergelyk, inligting te interpreteer en menings te vorm.
Bellingan verduidelik: “Die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel fokus hoofsaaklik op prosedurele onderrig, wat ‘n leemte laat in kritiese, kreatiewe en analitiese denke. Dit lei tot leerders wat prosedures kan volg maar nie konsepte verstaan of kan toepas nie. Memorandums beperk leerders tot die volg van prosedures, met punte wat toegeken word vir spesifieke stappe. Dit is belangriker vir die ouderdom leerder om die “verstaan” van ‘n konsep weer te gee as blote simbole. Alhoewel prosedurele kennis belangrik is, moet feitekennis en konseptuele kennis ook in ag geneem word om kritiese, kreatiewe en analitiese denke te ontwikkel.”
Die Kurrikulum- en Assesseringsbeleidsverklaring (KABV) bied wel ruimte vir konkrete leer, maar die DBO se gebruik van werkkaarte en die “ATP’s”, oftewel JOPPE, om onderwysers te kontroleer, beperk hulle vermoë om interaktiewe, begripgebaseerde lesse en probleemoplossing aan te bied.
Jerome Bruner se konstruktivistiese teorie beklemtoon dat leerders vaardighede moet ontwikkel deur eers konkrete ervarings te beleef, dan na semi-konkrete begrippe te beweeg, en uiteindelik abstrakte voorstellings weer te gee. Hierdie natuurlike progressie word egter nie in die huidige stelsel ondersteun nie.
Bellingan verduidelik: “Die SOS se besoek aan Singapoer in 2023 het ons duidelik gewys dat Suid-Afrikaanse onderwysers en leerders, met die regte ondersteuning, dieselfde vlakke van sukses in Wiskunde kan bereik as hul Singapoerse eweknieë. Om hierdie sukses te behaal, moet ons egter wegbeweeg van oorregulering en eerder ‘n model aanvaar wat die professionele oordeel van onderwysers en die begrip van leerders vooropstel.”
Die SOS beplan om in 2025 ’n taakgroep byeen te roep om die impak van die TIMMS-verslag vir Afrikaanse skole te bespreek en ’n aksieplan te bedink om uitdagings aan te pak.