Blog

Die gevaar is nie KI nie, dis die uitkontraktering van ons denke

deur Melanie Kroukamp

Ek het onlangs op Pretoria FM se Impak saam met Este Gross gesels oor UNISA se kommer dat studente KI in eksamens misbruik.

Ons sê gou: “Die KI hulpmiddels is te maklik beskikbaar.” Beskikbaarheid is nie dieselfde as gebrek aan integriteit nie. KI is nie die skurk in hierdie storie nie.

Ek werk elke dag met KI en ek leer onderwysers hoe om dit te gebruik. Ek sien die paniek in hul oë en ek hoor die fluisteringe in gange: “Gebruik jy dit ook?” En ek sien hoe universiteite en skole nou haastig beleide probeer opstel.

Die vraag is nie: “Hoe keer ons dat studente KI gebruik?” nie. Die vraag is: “Wat gebeur as studente ophou dink omdat KI namens hulle dink?”

Dis waar die ongemak lê. Op ’n kongres waar professor Anné Verhoef (NWU) gepraat het, het iets my getref: opsporing alleen gaan ons nie red nie. Alhoewel KI-opsporing beter raak, word studente slimmer. Die tegnologie verander vinniger as wat beleide kan byhou – en dit is nou as daar enige duidelike beleide is.

Dis soos om ’n sinkplaatpad met ’n liniaal gelyk te probeer druk. Wat ons eintlik moet doen, is om die voertuig te verander. Ons assessering lyk nog soos 2005:

  • Skryf ’n opstel.
  • Gee ’n navorsingsverslag.
  • Antwoord vrae gebaseer op wat jy gememoriseer het.

 

As assessering net vra: “Herhaal wat jy geleer het,” dan toets ons geheue, nie begrip nie. In ’n wêreld waar Google binne sekondes feite kan gee, is blote herhaling nie meer ’n bewys van intelligensie nie. Dis hoogstens ’n bewys van goeie korttermyngeheue.

Intelligensie wys nie in wat jy kan opsê nie. Dit wys in:

  • Wat jy kan verduidelik.
  • Wat jy kan verbind.
  • Wat jy kan bevraagteken.
  • Wat jy kan toepas wanneer die vraag effens anders lyk as die voorbeeld in die handboek.

 

Memorisering kan jou deur ’n toets dra, maar begrip dra jou deur die lewe. Ons moet leerders en studente leer om die volgende vrae te vra:

  • “Verduidelik jou redenasie.”
  • “Verdedig jou bron.”
  • “Wys my jou eerste konsep.”
  • “Waarmee het jy gesukkel?”

 

En hier kom die deel wat party mense laat regop sit het toe ek dit op radio gesê het: hoe meer ek met KI werk, hoe “dommer” raak dit – nie omdat dit werklik dom is nie, maar omdat ek sien hoe afhanklik dit van my insette is. Vae insette gee vae uitsette. Wanneer ek moeite doen met konteks en bronne, begin KI soos ’n kollega voel – nie soos iemand wat my werk oorneem nie.

KI vervang nie kritiese denke nie; dit ontbloot dit. Hier begin dit minder oor tegnologie en meer oor karakter gaan: integriteit. Dis nie net ’n universiteitsprobleem nie, laerskole worstel reeds daarmee. Opvoeders gebruik dit ook, al sê hulle dit nie altyd hardop nie. Studente gebruik dit om tyd te spaar, en beleide is nog besig om asem te kry.

Integriteit begin nie by ’n Turnitin-verslag nie — daardie sagteware wat kyk of ’n student se werk dalk net ’n mooi herverpakking van iemand anders s’n is. Dit begin wanneer ons kinders leer om eerlik te wees oor hul proses:

  • “Ek het KI gebruik om my idees te orden.”
  • “Ek het dit gebruik om my taal te verbeter.”
  • “Hier is my oorspronklike denke.”
  • Nie skaam nie, en wegsteek nie.

 

Die toekoms is mens mét KI. Die werklike toets is nie hoe goed die antwoord lyk nie, maar of die student kan wys hoe hy daarby uitgekom het. Dalk is dit die ware eksamen: nie of ons KI kan beheer nie, maar of ons ons denke sterk genoeg kan hou in ’n wêreld waar tegnologie dit vir ons kan doen. En daardie denke – dit bly steeds ons verantwoordelikheid.