deur Melanie Buys
Hoof van Ontwikkeling: SOS
Die Departement van Basiese Onderwys (DBO) het op 20 Maart 2026 ’n hersiene Geskiedenis-kurrikulum vir openbare kommentaar bekendgemaak. Hierdie stap volg op vorige pogings om Geskiedenis as verpligte vak vir Graad 10–12 in te stel.
Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) ondersteun in beginsel ’n sterker fokus op Suid-Afrikaanse en Afrika-geskiedenis. ’n Dieper begrip van ons eie verlede is noodsaaklik vir die ontwikkeling van ingeligte en verantwoordelike burgers.
SOS is egter bekommerd dat die voorgestelde kurrikulum steeds nie ’n gebalanseerde weergawe van die geskiedenis bied nie. Die bestaande kurrikulum beeld die Afrikaner-geskiedenis grotendeels negatief uit, terwyl betekenisvolle bydraes en prestasies geïgnoreer word. In die voorgestelde kurrikulum word ingrypende gebeure, soos die Anglo-Boereoorlog, uitgelaat. Daar is ook steeds geen erkenning vir die rol wat Afrikaner-leiers gespeel het om die land op te bou nie. Inisiatiewe soos Sanlam, Volkskas, Yskor, Sasol en Krygkor het ʼn reuse bydrae tot ekonomiese groei en tegnologiese vooruitgang in Suid-Afrika gemaak en behoort deel van ʼn inspirerende Geskiedenis-kurrikulum te vorm.
Eensydige voorstelling van die verlede bevorder nie onderlinge begrip nie en dra eerder by tot verdeling en ideologiese vooroordele. Die hersiene kurrikulum behoort daarop te fokus om kritiese denke, wedersydse begrip en waardering vir Suid-Afrika se diverse kulture te bevorder, sonder om een interpretasie van die verlede as die sogenaamde “meesterverhaal” voor te hou.
Geskiedenis as vak kom slegs tot sy reg wanneer dit vry van ideologiese beïnvloeding en indoktrinasie aangebied word. ’n Gesonde Geskiedenis-kurrikulum behoort ruimte te skep vir verskeie perspektiewe en die stories van verskillende gemeenskappe. Geskiedenis moet leerders help om krities te dink en hul eie, ingeligte menings te vorm. Dit vereis kundige en gebalanseerde onderwysers wat nie slegs feite oordra nie, maar onafhanklike denke en waardes vorm. Die SOS glo dat ’n kurrikulumraamwerk wat die verlede uit verskeie perspektiewe belig, die beste benadering is om kulturele diversiteit te erken en te bevorder.
Die Suid-Afrikaanse historikus, prof. Hermann Giliomee, wys tereg daarop dat elke gemeenskap ’n gebalanseerde geskiedenis nodig het – een wat nie net leer nie, maar ook inspireer. Volgens die DBO het slegs 11 % wit leerders in vergelyking met 32% swart leerders in 2024 Geskiedenis in graad 12 geneem en 57 Afrikaanse hoërskole het nie meer Geskiedenis as vak aangebied nie. “Die Afrikaanse gemeenskap kan dit nie bekostig dat geskiedenis as vak sy relevansie verloor nie. Geskiedenis bly ’n kernvak wat kinders help om die wêreld rondom hulle te verstaan en ʼn beter toekoms te bou”, sê Melanie Buys, Hoof van Ontwikkeling by die SOS.
Skole en gemeenskappe behoort ’n aktiewe rol te speel in die bevordering van ’n gebalanseerde Geskiedenis-kurrikulum. Ouers en onderwysers moet doelbewus ook die positiewe verhale en prestasies uit die verlede leer ken en dit op ’n inspirerende wyse aan kinders oordra. Hulpbronne soos boeke, video’s, kultuurkampe en opvoedkundige inisiatiewe kan hierin ’n waardevolle rol speel.
Leon Fourie, uitvoerende hoof van die SOS sê: “Daar is nie net één geskiedenis nie. ’n Gebalanseerde kurrikulum moet daarop fokus om denkprosesse en goeie oordeel te ontwikkel, sodat kinders vry en objektief leer dink.”