Deur Melanie Kroukamp
Onderwysspesialis: Robotika/Kodering & KI
KI gaan nie verdwyn nie, en leerders gáán dit misbruik. Dit is ‘n feit soos ‘n koei, en daar is geen manier om verby hierdie waarheid te kom nie. Ons kan dit probeer ignoreer, ons kan dit probeer verbied, maar dit is reeds hier. Dit is hier waar ek dink baie van ons onderwysers vasval.
Ek gaan gereeld na kongresse en werkswinkels toe, en baie keer hoor ‘n mens slim mense praat. Dan sê hulle goed wat jy eintlik weet. Jy sit daar en knik jou kop, want ja, jy stem saam. Jy weet KI is hier, jy weet leerders gebruik dit, jy weet assessering moet verander, jy weet ons moet kritiese denke beskerm. Maar hier is die probleem: baie keer weet ons die , maar ons weet nie die hóé nie. Ek hoor jou, ek stem saam met jou, maar verduidelik vir my hóé. Sodra ‘n mens daardie kruks-vraag begin vra, word jy soms gebrandmerk as iemand wat nie ’n spanspeler is nie. Al wat jy eintlik gedoen het, was om te vra: “Ja, maar hoe doen ek dit Maandagoggend in my klas?”
Ek is onlangs deur ‘n hoërskool uitgedaag om vir hulle ‘n aanbieding te doen oor hoe onderwysers hulle leerders kan help in hierdie grys wêreld van KI. En kom ons wees eerlik, dit is ‘n baie grys wêreld. Veral in ‘n tyd waar selfs grootmense en amptelike dokumente soms sukkel om KI reg te gebruik. Solly Malatsi, minister van kommunikasie en digitale tegnologie, het die konsepbeleid oor KI geskrap net omdat die omstrede beleid bronne bevat het wat nie bestaan nie.
So ja, KI is ‘n baie, baie grys area, en ek is nogal mal oor grys areas. Hoekom? Grys areas beteken iemand moet begin toets. Iemand moet begin vra. Iemand moet bereid wees om te sê: “Julle, ek het hierdie probeer, dit werk nie.” Of: “Hierdie een werk dalk, laat weet my” Of selfs: ” Ek het gedink dit is ’n briljante plan, maar toe werk dit soos groepwerk sonder duidelike instruksies.”
Ek en my persoonlike assistent het behoorlik kopgekrap oor hierdie uitdaging. Ek het immers net een uur gehad om vir ’n hele saal hoërskoolonderwysers te wys hoe hulle leerders in hierdie grys KI-wêreld kan help. Ek het begin met ‘n praktiese KI-verkeerslig vir leerders. Die idee was eenvoudig: kom ons gee vir hulle groen, oranje en rooi voorbeelde, sodat hulle nie net hoor “moenie KI misbruik nie”, maar verstaan wat dit beteken.
Met die groen lig verduidelik ek vir hulle dat KI jou kan help om idees te kry, vrae duideliker te maak, terugvoer te vra, opsommings te vergelyk en studienotas te maak. Met ander woorde: KI kan jou help om te dink, te verstaan en te organiseer. Maar die belangrike deel ist: jy bly die een wat leer.
Die oranje lig kondig aan dat jy versigtig moet wees. KI kan jou help met beplanning, ‘n eerste konsep, of om jou eie bronne beter te verstaan, maar jou eie denke, moeite en stem moet steeds die werk laat leef. Oranje beteken nie “moenie” nie. Oranje beteken: gebruik jou kop, ry stadig; kyk links en regs. Moenie net blindelings oor die kruising jaag nie!
En dan is daar die rooi lig. Kopieer en plak, vals bronne gebruik, KI take laat doen sonder dat jy self verstaan wat aangaan. Leerderdata of ander mense se werk inlaai en KI gebruik waar dit uitdruklik verbied is. Dit is nie net ‘n bietjie stout nie, dit is oneerlik, onveilig en kan jou regtig in die moeilikheid bring.
So nou het leerders ‘n praktiese prentjie van wat aanvaarbaar is en wat nie. Nie net ‘n lang preek nie. ’n Verkeerslig, groen, oranje en rooi. Daarna het ek beweeg na die volgende groot idee: moenie KI in ‘copy mode’ gebruik nie, gebruik dit in ‘coach mode.’ Wat bedoel ek daarmee?
‘n ‘Copy-mode prompt’ klink so: “Skryf vir my ‘n toespraak oor sosiale media.” Dit klink onskuldig, maar eintlik sê jy vir jou brein: “Jy kan maar gaan slaap, KI gaan nou alles doen.”
‘n ‘Coach-mode prompt’ klink anders: “Jy is my ‘toespraak-coach.’ Ek is in Graad 10 en moet ‘n 2-minuut toespraak oor sosiale media voorberei. My standpunt is dat sosiale media mense kan verbind, maar ook druk op tieners plaas. Help my om drie sterk argumente te kies. Vra my vrae en gee terugvoer op my idees. Moenie die toespraak namens my skryf nie.”
Sien jy die verskil? In ‘copy mode’ doen KI die werk en die leerder se brein gaan slaap. In ‘coach mode’ help KI die leerder dink. Die leerder bly steeds verantwoordelik vir die werk, die stem, die keuses en die finale produk. Dit is waar ek dink ons as onderwysers ‘n groot geleentheid het. Ons hoef nie net vir leerders te sê: “Moenie KI gebruik nie.” Ons kan hulle eerder wys hoe om KI beter te gebruik.
Nadat ek dit verduidelik het, het ek vir hulle vyf maklike stappe in hulle “eie” taal gegee, sodat hulle die hóé kan verstaan.
- Kies jou ‘coach’
- Sê vir KI wie hy moet wees. Moet hy jou tutor wees, jou ‘debat-coach’, jou skryfmaat, jou vrae-vra-maat of jou oefenmaat?
- Byvoorbeeld: “Jy is my ‘skryf-coach’. Help my om my idees beter te orden.”
- Sê wat jy wil ‘unlock’
- Verduidelik wat jy wil verstaan, verbeter of oefen.
- Moenie net sê: “Help my met Afrikaans” nie.
- Sê eerder: “Help my om my inleiding sterker te maak” of
- “Help my om my argumente beter te verduidelik.”
- ‘Drop’ jou konteks
- Gee jou graad, vak, onderwerp en wat jy reeds weet.
- KI werk beter wanneer jy vir hom die regte inligting gee, anders raai hy maar net.
- Kies die tipe hulp
- Vra vir vrae, terugvoer, voorbeelde of stap-vir-stap hulp.
- Jy kan sê: “Vra my eers drie vrae voordat jy raad gee” of
- “Gee vir my terugvoer, maar moenie dit namens my oorskryf nie.”
- Hou jou eie stem
- Moenie laat KI alles skryf nie, gebruik dit om beter te dink.
- Jou stem, jou idees en jou begrip moet steeds in die werk wees.
- Vra vir vrae, terugvoer, voorbeelde of stap-vir-stap hulp.
- Verduidelik wat jy wil verstaan, verbeter of oefen.
Die doel is nie om KI weg te wens of leerders bang te maak vir elke ‘prompt’ nie. Die doel is om hulle te leer om KI soos ’n ‘coach’ te gebruik, nie soos ’n spookskrywer nie. Die groot vraag vir onderwysers is nou: hoe assesseer ons dit?
As ons leerders net op die finale produk assesseer, gaan KI altyd een tree voor ons wees. Dan sit ons met ’n pragtige opstel, ’n blink toespraak of ’n perfekte PowerPoint, maar ons weet steeds nie of die leerder werklik gedink het nie. Ons weet net iets is ingehandig.
Dalk kan ons begin vra hoe die leerder by die finale produk uitgekom het. Nie net: “Waar is jou opstel?” nie, maar eerder: “Wys my jou eerste breinkaart. Wys my jou beplanning. Wys my die ‘prompt’ wat jy gebruik het. Wys my wat KI voorgestel het en wat jy verander het. Wys my waar jou eie stem ingekom het.”
En voor iemand nou benoud raak: dit hoef nie ‘n administratiewe monster met twaalf koppe te word nie. Niemand het tyd vir nog ‘n papierdraak op ‘n Maandagoggend nie. Prosesbewyse kan eenvoudig wees:
- ‘n Foto van ‘n breinkaart.
- ‘n Kort beplanning.
- ‘n ‘Prompt-log.’
- ‘n Weergawegeskiedenis.
- ‘n Twee-minuut mondelinge verduideliking.
- ‘n Kort refleksie waarin die leerder antwoord: “Wat het KI voorgestel? Wat het ek gehou? Wat het ek verander? Hoekom het ek dit verander?”
Die doel is nie om meer werk te skep nie. Die doel is om ’n manier te vind wat leerders se denke sigbaar maak. KI kan vir ‘n leerder ‘n antwoord gee, maar KI kan nie namens daardie leerder verduidelik hoe hy gedink het, waar hy getwyfel het, wat hy gekies het en hoekom hy dit verdedig nie.
Dit is waar ons as onderwysers die leer kan raaksien. Miskien moet ons dus minder vra: “Het jy dit self geskryf?” En meer vra: “Kan jy my wys hoe jy hierby uitgekom het?” Dit verander die hele gesprek. KI is dan nie net die groot vyand wat in die donker hoekie van die klas wegkruip nie. Dit word iets wat ons kan bestuur, bespreek en gebruik om beter denke uit leerders te trek.
Gaan leerders steeds probeer kanse vat? Natuurlik. Hulle is tieners. Tieners vind ’n skuiwergat vinniger as wat ’n onderwyser ’n selfoon onder ’n bank raaksien. Dit beteken nie ons is magteloos nie. Ons kan hulle leer wat groen-, oranje- en rooigebruik is. Ons kan hulle wys hoe ‘copy mode’ verskil van ‘coach mode.’ Ons kan hulle help om beter ‘prompts’ te skryf. Ons kan hulle leer dat hulle eie stem saak maak. Ons kan ons assessering so aanpas dat ons nie net die finale produk sien nie, maar ook die proses daaragter.
KI gaan nie verdwyn nie, die rol van die onderwyser word net belangriker. Miskien is dit juis ons taak in hierdie nuwe grys wêreld: ons kyk nie net of die werk mooi lyk nie; ons vra hoe die leerder daarby uitgekom het. Ons raak nie paniekerig oor elke nuwe KI-hulpmiddel nie; ons bly kalm genoeg om vir leerders te wys: “Dít is hoe jy dit verantwoordelik gebruik, hiér moet jy dink en hier moet jou stem inkom.”Op die einde van die dag is KI net ‘n hulpmiddel.
- Nie ‘n plaasvervanger vir jou denke nie.
- Nie ‘n plaasvervanger vir jou stem nie.
- En beslis nie ‘n plaasvervanger vir goeie onderwys nie.
So ja, dis my plan: die verkeerslig gee vir hulle grense, “coach mode” gee vir hulle ’n beter manier om KI te gebruik, en prosesbewyse wys vir ons waar leer plaasgevind het. Dalk is dit nie die perfekte antwoord op KI in die klaskamer nie, maar dit is ten minste ’n begin wat ons môre kan gebruik.
Tussen al die grys areas deur kan ons dalk weer iets baie belangrik raaksien: die leerder se denke agter die werk. Die finale produk wys wat ingehandig is, maar die proses wys waar leer plaasgevind het.
