Deur Melanie Kroukamp
Onderwysspesialis: Robotika/Kodering & KI
As iemand wat daagliks met skole, onderwysers en leiers oor KI werk, probeer ek doelbewus luister na wat in die breër onderwyslandskap gesê word — nie omdat enige enkele persoon of organisasie al die antwoorde het nie, maar omdat hierdie gesprek te belangrik is om in silo’s gevoer te word.
Ek het onlangs na ’n episode van Die Skoolkompas geluister: “KI in skole: Is ons REGTIG gereed daarvoor?” waarin Daniëlla van Heerden met Riaan van der Bergh van FEDSAS gesels oor KI in skole. En hoewel ek natuurlik deur my eie oor as KI-spesialis luister, was daar heelwat punte in die gesprek waarmee ek saamstem — veral rondom beleid, akademiese integriteit, onderwyserontwikkeling en die feit dat KI nie iets is waarvoor skole eers “eendag” moet voorberei nie.
Ek dink wel ons moet die gesprek verder neem. KI in skole gaan vir my nie bloot oor ’n beleid, ’n nuwe hulpmiddel of ’n vinnige antwoord op plagiaat nie. Die groter vraag is hoe ons skole lei, hoe ons onderwysers toerus, en hoe ons leerders help om verantwoordelik te dink in ’n wêreld waar antwoorde makliker as ooit gegenereer kan word.
KI het nie by die skoolhek opgedaag en gevra of hy mag inkom nie, hy is rééds binne. Leerders gebruik dit, ouers gebruik dit en onderwysers gebruik dit. Soms openlik, soms stilletjies, soms met groot kreatiwiteit en soms met baie onsekerheid. Vir my is onsekerheid eintlik die eerlikste plek om te begin. Die eerste reaksie op generatiewe KI was vir baie mense vrees. Wat beteken dit vir huiswerk, opstelle en assessering? Hoe beskerm ons akademiese integriteit? Wat gebeur met die rol van die onderwyser? Gaan kinders nog self dink? Gaan onderwysers vervang word? En hoe onderskei ons tussen wat eg is en wat gegenereer is?
Skole werk nie in ’n perfekte wêreld nie, skole werk met tydsdruk, kurrikulumvereistes, ouerverwagtinge, dissipline, ongelyke toegang, beperkte hulpbronne en onderwysers wat reeds baie dra. Juis daarom kan ons nie bekostig om die KI-gesprek net oppervlakkig te hanteer nie. Een van die punte waarmee ek sterk saamstem, is dat skole ’n KI-beleid nodig het. Sonder riglyne beweeg elkeen op gevoel. Die een onderwyser verbied alles, die volgende een gebruik dit kreatief, ouers verstaan nie altyd die skool se benadering nie, en leerders kry gemengde boodskappe oor wat aanvaarbaar is. ’n Beleid bring taal, rigting en duidelikheid. Tog moet ons versigtig wees om te dink ’n beleid op sy eie los die probleem op. ’n Dokument kan nie ’n skoolkultuur verander as die mense in die skool nie saam dink, saam leer en saam eienaarskap neem nie.
Dit is ook waarom ek baie opgewonde is dat die SOS binnekort by ons Nasionale Kongres ’n KI-manifes bekendstel. Vir my gaan dit nie net oor nog ’n dokument nie, maar oor ’n duidelike standpunt: skole het meer as reëls nodig. Hulle het taal, rigting, waardes en praktiese moed nodig om hierdie nuwe landskap verantwoordelik te betree. ’n Manifes gee rigting aan hoe ons oor KI in onderwys dink: hoe ons leer beskerm, onderwysers bemagtig en leerders help om nie net vinniger antwoorde te kry nie, maar beter vrae te vra. Vir my behoort ’n KI-beleid nie die eindpunt van die gesprek te wees nie. Dit behoort die beginpunt te wees. Elke skool behoort te vra:
- Wat glo ons oor leer?
- Wat beteken akademiese integriteit in ’n wêreld waar antwoorde binne sekondes gegenereer kan word?
- Wanneer is KI ’n hulpmiddel, en wanneer word dit misleiding?
- Hoe leer ons leerders om gebruik bekend te maak?
- Watter data mag nooit in ’n KI-platform ingevoer word nie?
- Hoe beskerm ons leerders se privaatheid?
- Hoe verseker ons dat KI nie diep leer vervang met mooi antwoorde sonder begrip nie?
Daardie laaste vraag is vir my baie belangrik. Die groot gevaar van KI in skole is nie net dat ’n leerder ’n opstel kan laat skryf nie. Die groter gevaar is dat ’n leerder kan dink hulle verstaan, omdat die antwoord goed lyk. Ek noem dit graag vals bemeestering – of soos almal dit ken, hallusinasies. Daarom moet die gesprek oor KI nie net oor opsporing en beheer gaan nie. Ons moet ook praat oor taakontwerp, assessering en leerprosesse.
- Hoe maak ons denke sigbaar?
- Hoe vra ons leerders om hul proses te verduidelik?
- Hoe bou ons mondelinge terugvoer, refleksie en konsepwerk in?
- Hoe leer ons kinders om KI-antwoorde te bevraagteken, te verbeter en verantwoordelik te gebruik?
Nog ’n punt wat vir my sterk uitgestaan het, is die rol van die onderwyser. Ek glo ook nie tegnologie kan die onderwyser vervang nie. Onderwys is te menslik daarvoor. ’n KI-stelsel kan verduidelik, vertaal, opsom, vrae genereer en idees gee. Dit kan lesbeplanning, differensiasie, administrasie, terugvoer en kreatiewe denke ondersteun. Soms kan KI selfs as ’n tipe tutor help wanneer ’n leerder vasbrand. Tog ken KI nie jou klas soos jy jou klas ken nie. Geen stelsel kan sien wanneer die kind dalk anders optree as gewoonlik , jy ken jou kinders en weet wanneer hy of sy byvoorbeeld emosionele uitdagings ervaar. Geen stelsel verstaan die dinamiek tussen leerders, die gemeenskap, die huislike konteks, die taalnuanses en die emosionele realiteite agter leer soos ’n onderwyser dit kan lees nie. Die onderwyser bly sentraal.
Ons kan nie vir onderwysers sê hulle moet KI verantwoordelik gebruik, maar hulle nooit ruimte gee om daarmee te eksperimenteer nie. Professionele ontwikkeling moet prakties wees. Nie net ’n eenmalige werkswinkel met mooi skyfies nie, maar gereelde geleenthede waar personeel kan speel, toets, foute maak en by mekaar leer.
- Gee vir onderwysers tyd om te vra:
- Hoe kan KI my admin ligter maak?
- Hoe kan ek ’n les verryk?
- Hoe kan ek vrae op verskillende vlakke genereer?
- Hoe kan ek ’n teks vereenvoudig sonder om die leerdoel te verloor?
- Hoe kan ek leerders leer om beter vrae te vra?
Die beste beginpunt is dikwels nie ’n groot strategiese plan nie. Dit is ’n klein, veilige oefenruimte. Die gesprek raak ook toegang. In ’n ideale wêreld het elke leerder gelyke toegang tot toestelle, data, betroubare internet en leiding. In die werklikheid weet ons die prentjie lyk anders. Daarom behoort ouers ook deel van die gesprek te wees. Nie in ’n paniekerige “KI is gevaarlik”-sessie nie, maar in ’n eerlike gesprek oor huiswerk, selfone, aanlyn gedrag, akademiese integriteit en verantwoordelike gebruik. Leerders moet ook deel wees. Hulle gebruik reeds hierdie hulpmiddels. Die vraag is of ons hulle gaan nooi om eerlik daaroor te praat, of hulle dwing om in stilte daarmee te eksperimenteer.
Vir my lê die kern van die KI-gesprek by leierskap: nie by voorgee dat ons al die antwoorde het nie, maar by die moed om die regte vrae te vra en saam te leer. Skoolleiers hoef nie KI-kundiges te wees voordat hulle begin nie. Hulle moet net die gesprek oopmaak: oor waardes, akademiese integriteit, onderwyserontwikkeling, praktiese riglyne en die tipe leer wat ons wil beskerm en versterk.
Is skole regtig gereed vir KI? Waarskynlik nie almal nie. KI gaan nie wag tot skole gemaklik voel nie, ons kinders ook nie. Skole moet nie net reageer nie, hulle moet begin lei.
#KIinOnderwys #KunsmatigeIntelligensie #EdTech #Onderwys #Skoolleierskap #AkademieseIntegriteit #Onderwyserontwikkeling #DigitalFluency #FutureOfLearning
