Terwyl skolesport al hoe meer deur borgskappe, uitslae, keuringsdruk en openbare verwagtinge beïnvloed word, het die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) skole gewaarsku om nie die oorspronklike doel van sport uit die oog te verloor nie: om kinders te vorm, nie te verteer nie.
Dié boodskap het sterk na vore gekom tydens die sportfokus van die SOS se Nasionale Kongres, waar sprekers beklemtoon het dat die ware betekenis van skolesport nie net in medaljes, bekers of ligatellings lê nie, maar in die mens wat ná die eindfluitjie van die veld afstap.
Volgens Hugo Vermeulen, hoof van opleiding by die SOS, dwing die huidige debat oor die kommersialisering van skolesport skole om eerlik te vra waarom sport steeds deel van opvoeding behoort te wees.
“Skolesport is op sy beste ‘n vormingsgeleentheid, nie ‘n vertoonvenster nie,” sê Vermeulen. “Wanneer ‘n kind se waarde, ‘n onderwyser se welstand of ‘n skool se kultuur begin ly onder die druk om net aan te hou wen, het ons die balans verloor.”
Die SOS meen skole moet waak teen ’n kultuur waar jong sportlui te vroeg soos professionele atlete behandel word, terwyl hulle emosioneel, akademies en sosiaal nog besig is om te ontwikkel. Prestasie het ’n plek, maar dit mag nie die kind se welstand, skoolervaring of liefde vir deelname verdring nie.
Die beginsels van die SOS se Sportmanifes het ook sterk neerslag gevind in die dag se gesprekke. Die manifes plaas die kind se fisieke en emosionele welstand sentraal en beklemtoon dat gesonde deelname belangriker is ’n wen-ten-alle-koste-benadering.. Dit moedig skole en afrigters aan om sport doelbewus te gebruik om eienskappe soos deursettingsvermoë, selfbeheersing, verantwoordelikheid, pligsgetrouheid en respek te kweek.
Myan Subrayan, lewensafrigter, skrywer en spreker het daarop gewys dat die beginsels wat op die sportveld aangeleer word, dikwels net so waardevol in die klaskamer en later in die werksplek is. Volgens hom is sport ’n belangrike instrument om leerders se potensiaal te ontsluit en vaardighede soos dissipline, spanwerk en veerkragtigheid te ontwikkel.
Dr. Leandie Bräsler van die SOS het ook gewaarsku dat prestasie nie ten koste van sport se opvoedkundige waarde mag kom nie.
“Sport leer kinders om teleurstelling te hanteer en om in ‘n span saam te werk, en hoewel dit ‘n goeie ding is om op die sportveld te presteer, is dit belangrik dat ons nie ons kinders te vroeg uitbrand en die opvoedkundige doel van sport laat verlore gaan nie,” sê Bräsler.
Die SOS se boodskap is dat skolesport steeds ’n belangrike plek in skole het, maar slegs wanneer dit gegrond is in opvoeding, balans en verantwoordelike begeleiding. Wanneer die kind eerste gestel word, word sport meer as net ’n wedstryd. Dit word ’n oefenveld vir die lewe.