SOS-Nasionale Kongres stel aksieplan vir beskerm, toerus en bou bekend
Die toekoms van Afrikaanse onderwys gaan nie deur staatsbeleid bepaal word nie, maar deur gemeenskappe wat bereid is om hul skole te beskerm, toe te rus en sterker selfstandig te maak.
Dít was die kernboodskap van die Toekomsberaad van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), wat vandag as deel van die SOS-Nasionale Kongres by die Voortrekkermonument in Pretoria aangebied is. Die kongres het skoolhoofde, beheerliggame, onderwysleiers, gemeenskapsorganisasies en politieke meningsvormers byeen gebring om ’n praktiese aksieplan vir die volgende dekade van Afrikaanse onderwys te bespreek.
Die beraad het plaasgevind teen die agtergrond van groeiende druk op skole: krimpende begrotings, staatstoewysings wat nie betaal word nie, groter klasse, gebrek aan departementele ondersteuning, risiko’s van die BELA-wet en die voortdurende debat oor taal, toelating en skoolselfstandigheid.
“’n Gemeenskap wat ’n beraad soos hierdie kan aanbied, met soveel idees, energie en planne, is nie ’n sterwende gemeenskap nie – inteendeel. Dit is ’n gemeenskap wat verantwoordelikheid vir sy eie toekoms neem en bereid is om te bou waar ander afbreek. Die toekoms van Afrikaanse onderwys lê in gemeenskappe wat hul skole versterk, hul onderwysers ondersteun en volhoubare instellings vir die volgende geslag vestig,” sê dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit.
Tydens die paneelgesprek “Aksieplan vir volhoubare Afrikaanse onderwys” het dr. Dirk Hermann, Leon Fourie en Kallie Kriel praktiese stappe bespreek wat skole kan neem om hul volhoubaarheid te verseker. Die gesprek het gefokus op moedertaalonderrig, die opleiding en behoud van uitnemende onderwysers, versterkende tegnologie en gemeenskapsgedrewe oplossings.
Leon Fourie, uitvoerende hoof van die SOS, sê skole kan nie net op goeie bedoelings staatmaak nie. “Die toekoms van Afrikaanse onderwys gaan nie gewen word deur te wag vir ’n gunstiger politieke klimaat nie. Dit gaan gewen word deur skole wat hul gemeenskappe organiseer, hul onderwysers ontwikkel, tegnologie doelgerig gebruik, beheerliggame versterk en hul eie volhoubaarheid ernstig opneem. Skole wat vandag bou, gaan môre staande bly.”
Helen Zille en dr. Wynand Boshoff het die implikasies van die Regering van Nasionale Eenheid vir taal, toelating, skoolbestuur en gemeenskapsbetrokkenheid bespreek.
Dr. Wynand Boshoff, VF Plus se woordvoerder oor basiese en hoër onderwys, sê onderwys is meer as die oordrag van kennis. “Onderwys is die daaglikse hergeboorte van ’n kultuur. Skole bestaan nie bloot om kennis oor te dra nie, maar om gemeenskappe toe te rus om hul taal, waardes en erfenis verantwoordelik aan die volgende geslag oor te dra. Die toekoms van Afrikaanse onderwys lê daarom nie in groter sentralisering nie, maar in sterk gemeenskappe wat verantwoordelikheid vir hul skole aanvaar.”
Helen Zille het beklemtoon dat geen onderwysstelsel sonder sterk vennootskappe kan slaag nie. “Ouers, onderwysers, beheerliggame en gemeenskappe is nie bloot belanghebbendes nie – hulle is mede-bouers van suksesvolle skole.”
Sy het verder beklemtoon dat moedertaalonderrig die grondslag van gehalte-onderwys vorm en leerders beter toerus om ander tale suksesvol aan te leer.
Volgens die SOS is die BELA-wet een van die dringendste brandpunte omdat dit die verhouding tussen skoolgemeenskappe, beheerliggame en provinsiale onderwysdepartemente verander. Die debat oor taal en toelating is daarom nie bloot administratief nie, maar gaan oor wie uiteindelik die karakter, gemeenskapsband en lewensvatbaarheid van ’n skool bepaal.
Dr. Dewald Strydom, skoolhoof van Hoërskool Zwartkop, sê skoolleiers ervaar die druk daagliks. “Die krisis in skole is ‘n kombinasie van oorregulering wat onnodige administratiewe las teweeg bring, kapasiteitstekorte, groeiende gemeenskapsbehoeftes en die verwagting dat skole elke maatskaplike probleem moet hanteer. Die oplossing lê daarin dat skole ruimte kry om professioneel bestuur te word, met sterk ouers en ’n gemeenskap wat agter die skool staan.”
Die kongres het beklemtoon dat moedertaalonderrig nie teenoor meertaligheid staan nie, maar juis identiteit vestig en die grondslag vorm vir leerders om ander tale suksesvol te bemeester. Deur moedertaalonderrig word waardering ontwikkel vir die land se unieke verskeidenheid taal- en kultuurgemeenskappe.
Die Solidariteit Beweging se benadering kan in drie woorde opgesom word: beskerm, toerus en bou. Dit beteken regshulp, onderwyserbeskerming en skoolveiligheid; opleiding, data, tegnologie en bestuurskundigheid; en die vestiging van ’n breër Afrikaanse onderwysekosisteem wat nie by elke politieke skommeling in duie stort nie.
“Ons kinders kan nie uitgelewer word aan die staat se vermoë of onvermoë om te presteer nie,” sê Hermann. “Hulle verdien skole wat vandag werk en môre nog sterker is. Daarom beskerm, toerus en bou ons aan ’n volhoubare toekoms vir Afrikaanse onderwys.”