Deur Melanie Kroukamp
Onderwysspesialis: Robotika/Kodering & KI
Wat begin met net ses kleurvolle bakstene, eindig dikwels met iets baie groter: onderwysers wat lag, bou, dink, beweeg, saamwerk en skielik besef: “Wag ’n bietjie… ek kan dit môre in my klas gebruik!”
Sedert die begin van die jaar het SOS reeds verskeie Six Bricks-geleenthede aangebied om onderwysers op ’n praktiese en speelse manier toe te rus. Op 17 Januarie is Six Bricks tydens ’n Kodering en Robotika-seminaar bekendgestel aan 20 deelnemers. Daarna het die Six Bricks Vlak 1- en Vlak 2-opleiding op 18 April by Eduplex plaasgevind, met 20 deelnemers. Op 9 Mei is die opleiding weer by Sol-Tech aangebied, hierdie keer met 60 onderwysers wat saam gebou, gespeel en geleer het.
Die doel van die werkswinkels is eenvoudig: onderwysers moet Six Bricks self ervaar. Hulle moet die bakstene in hulle hande hê, die aktiwiteite doen en sien hoe vinnig Six Bricks fokus, luistervaardighede, probleemoplossing, beweging, kreatiwiteit en samewerking in die klaskamer kan ondersteun.
Speel is nie ’n wegbreek van leer nie; dit is een van die natuurlikste maniere waarop kinders leer. Wanneer kinders konkreet kan bou, skuif, voel, probeer, verander en weer probeer, raak abstrakte idees makliker om te verstaan. Six Bricks gee kinders iets tasbaars in hulle hande waarmee hulle kan dink. ’n Eenvoudige aktiwiteit met Six Bricks is baie meer as net “speel”. Dit kan ’n luisteroefening, ’n wiskunde-ontdekking, ’n storie, ’n bewegingsaktiwiteit of ’n sosiaal-emosionele gesprek word. Kinders leer terwyl hulle speel, omdat hulle aktief betrokke is, foute veilig kan maak en nuwe idees met hulle hande kan toets.
Die terugvoer van onderwysers wat alreeds ons Six Bricks-werkswinkels bygewoon het was besonder bemoedigend. Baie het genoem dat hulle nuwe idees gekry het om Six Bricks in verskillende vakke te gebruik, en dat die praktiese aktiwiteite hulle gehelp het om die waarde daarvan beter te verstaan. Die mooiste terugvoer bly wanneer ’n onderwyser sê: “Ek kan dit môre in my klas gebruik.”
Ons Six Bricks-reis is nog lank nie klaar nie. Daar is reeds verdere opleidingsgeleenthede op pad: 6 Junie in Paarl, 25 Julie by Sol-Tech en 22 Augustus by Laerskool Nelspruit in die Laeveld. Daar word ook beplan om ’n Six Bricks-lusmaker-webinaar later vanjaar aan te bied, asook verdere geleenthede om onderwysers te help om Six Bricks nog meer doelgerig in hulle klasse en vakke te integreer.
Six Bricks herinner ons dat leer nie altyd groot, ingewikkeld of duur hoef te wees om betekenisvol te wees nie. Soms begin verandering met iets kleins in ’n onderwyser se hand — en groei dit tot iets groots in ’n kind se kop, hart en klaskamer.