Blog

Vyf wenke om jou beeste in een kraal te hou

Deur Carna Cloete

Landbouvakspesialis: SOS

Die tweede kwartaal is hier, en baie van ons herstel nog van die gejaag en uitdagings van kwartaal een. Vir baie landbouleerders begin die gedagtes reeds dwaal na die plaas en die Junie-vakansie, maar intussen wag daar nog ’n belangrike doelwit: die Junie-eksamen.
Die uitdaging is nie net om kinders fisies in die klas te kry nie, maar ook om hulle teenwoordig, gefokus en gemotiveerd te hou.

Hier is 5 wenke om jou kind reeds nou gereed en gemotiveerd te kry vir die Junie-eksamen:

  1. Maak teenwoordigheid ’n prioriteit

    Motiveer en verseker dat jou kind elke dag klas bywoon.
    Deur eenvoudig op te daag, is 80% van die stryd reeds gewen.

  2. Gesels oor wat in die klas gebeur

    Vra elke dag:
    “Wat was vandag die interessantste ding wat jy geleer het?”
    Wanneer leerders oor hul werk praat, help dit om kennis beter vas te lê en belangstelling te bou.

  3. Maak die buitelug jou klaskamer

    Landbou leef nie net in boeke nie — dit gebeur rondom ons elke dag.
    Teorie bly slegs teorie totdat dit toegepas word.
    Kom buite en:
    * toets die verskillende eienskappe van grond
    * kyk of jy verskillende gewasse kan identifiseer
    * plant jou eie saadjies in ’n potjie
    * bestudeer jou troeteldiere se gedrag
    * let op hoe diere se liggame verskil en aangepas is
    Die wêreld buite is een van die beste leeromgewings vir Landbou.

  4. Begin vroeg leer

    Moenie wag tot net voor die eksamen nie.
    Deur elke dag net die dag se werk kortliks te hersien, word vaslegging vroeg gedoen en spaar dit baie tyd en spanning wanneer eksamenvoorbereiding begin.

  5. Verstaan die werk — moenie dit net leer nie

    Die belangrikste van alles: maak seker jou kind verstaan die werk reeds in die klas.
    Landbou is ’n vak wat verstaan moet word, nie net gememoriseer nie.
    Wanneer konsepte sin maak, word leer makliker en eksamens minder oorweldigend.

Kwartaal 2 hoef nie ’n gejaag te wees nie. Met klein, daaglikse stappe kan groot sukses bereik word.