
Valentyn van der Merwe
Wat gebeur met ’n gemeenskap wanneer sy skool verswak? En daarteenoor, wat gebeur
wanneer daardie skool floreer?
Hierdie vrae is nie teoreties nie. Dit is prakties. Dit is tasbaar. In baie dorpe en woonbuurte
regoor Suid-Afrika sien ons daagliks hierdie antwoord voor ons uitspeel.
Ek woon my hele lewe lank in die Pretoria Moot. Dit is ’n gebied ryk aan geskiedenis –
van Eloffsdal en Les Marais tot Rietondale, Villieria en Waverley. Generasies het hier
grootgeword, besighede opgebou en kinders skool toe gestuur. Die strate dra die name
van pioniers, onderwysers, sakelui en kultuurleiers. Dit herinner ons daaraan dat
gemeenskappe oor tyd gebou word – deur mense wat die besluit neem om
verantwoordelikheid te vir hul gemeenskap te aanvaar.
Die afgelope paar jaar het ek iets besonders in die Moot gesien: gewone mense wat
besluit het om nie net te kla oor verval nie, maar om self te iets daaraan te begin doen.
Die beginsel is eenvoudig – as jy die klein dinge regmaak en standaarde handhaaf, volg
groter veranderinge. Wanneer mense omgee, verander omgewings en wanneer
omgewings verander, verander gemeenskappe.
Dieselfde beginsel geld vir skole.
’n Skool is baie meer as ’n plek waar akademiese inhoud oorgedra word. Dit is die plek
waar ’n gemeenskap se waardes, taal en kultuur geleef word. Dit is waar identiteit gevorm
word en waar jong mense voorberei word om verantwoordelik deel te neem aan die
samelewing.
Wanneer ’n skool netjies is, goed bestuur word en hoë standaarde handhaaf, stuur dit ’n
duidelike boodskap: hierdie gemeenskap gee om. Maar wanneer ’n skool begin verswak,
akademies of kultureel, is die impak daarvan wyer as net die skool. Die effek spoel oor na
gesinne, besighede en uiteindelik die breër gemeenskap.
’n Skool is nie net ’n instelling nie, dit is ’n anker. En sonder ’n anker begin ’n gemeenskap
dryf.
Die wêreld waarin ons kinders grootword, verskil radikaal van die wêreld waarin baie van
ons skoolgegaan het. Vandag se kinders leef digitaal, verwerk inligting vinnig en
bevraagteken makliker. Hulle wil weet hoekom hulle iets moet leer en hoe dit in hul wêreld
pas.
Dit beteken dat skole nie meer net kennis kan oordra nie. Skole en onderwysers moet
kinders vlerke geen deurdat hulle vaardighede van kinders ontwikkel, soos: kritiese denke,
probleemoplossing, aanpasbaarheid en samewerking. Skole moet kinders toerus met
toekomsvaardighede wat hulle in ’n vinnig veranderende wêreld staande sal hou.
Maar hierdie vlerke moet saam met wortels kom. Wortels in taal. Wortels in waardes.
Wortels in kultuur en gemeenskapsbewustheid. As ons net wortels gee, beperk ons ons
egter kinders en as ons net vlerke gee, ontneem ons hulle van identiteit. ’n Sterk skool
gee albei.
Wanneer ’n sterk Afrikaanse skool in ’n gemeenskap funksioneer, bly jong gesinne in die
omgewing. Eiendomme word gekoop, plaaslike besighede floreer en sportklubs en
kultuurorganisasies bly lewendig. Wanneer ’n skool egter begin agteruitgaan, is die
gevolge daarvan vinnig. Gesinne trek weg. Koopkrag verminder, besighede kry swaar en
die gemeenskap verklein.
Skole is dus nie net opvoedkundige instellings nie, maar hulle is ekonomiese en kulturele
ankers. Om in ’n skool te belê, is nie liefdadigheid nie, maar dit is strategiese
gemeenskapsbou.
By die Skoleondersteuningsentrum werk ons vanuit die oortuiging dat sterker skole lei tot
sterker gemeenskappe. Deur akademiese ondersteuning, onderwyserontwikkeling en
data-gedrewe insigte help ons skole om doelgerig en volhoubaar te ontwikkel. Met
Wolkskool fokus ons op die sinvolle integrasie van tegnologie in onderwys, nie om
onderwysers te vervang nie, maar om hulle te versterk en om meer doelgerig te werk en
elke leerder beter te ondersteun.
Geen organisasie kan egter alleen ’n skool dra nie. Uiteindelik is dit ’n gemeenskap se
betrokkenheid, visie en volgehoue ondersteuning wat bepaal of ’n skool sal floreer. Elke
gemeenskap kom by ’n punt waar ’n besluit geneem moet word: gaan ons toekyk, of gaan
ons bou?
Die toekoms van ’n gemeenskap lê elke oggend in ’n klaskamer, in die onderwyser wat
voorberei, in die ouer wat betrokke raak, in die beheerliggaam wat verantwoordelik leiding
gee, en in die donateur wat glo in iets groter as vandag.
’n Gemeenskap kan sonder baie dinge oorleef, maar nie sonder ’n sterk skool nie. Nie as
hy sy identiteit, sy ekonomie en sy toekoms wil beskerm nie.
Wanneer ’n skool sterk staan, floreer die gemeenskap.
En dit begin by ons.