Bou ’n sterk skoolhandelsmerk van binne na buite
Dr. Leandie Bräsler

’n Skool bestaan nooit in isolasie nie. Elke skool is deel van ’n groter netwerk van ouers, plaaslike sakeondernemings, kerke, burgerlike organisasies, oudleerders, plaaslike leiers en ander instellings.
Tog maak skole soms die fout om die gemeenskap hoofsaaklik as ’n bron van nuwe inskrywings, borgskappe of skenkings te sien. Die gemeenskap is egter nie net ’n teikenmark nie. Dit is ’n vennoot.
Van bemarking na verhoudingsbou
- Tradisionele bemarking vra dikwels: “Hoe kry ons mense om ons skool te kies?”
- Verhoudingsgerigte skoolbemarking vra eerder: “Hoe kan ons saam met ander waarde skep?”
Hierdie verskil is belangrik.
- ’n Skool wat slegs met die gemeenskap kommunikeer wanneer dit geld, hulp of inskrywings nodig het, bou nie noodwendig vertroue nie.
- ’n Skool wat egter deurlopend luister, dien, erkenning gee en samewerking bevorder, word ’n geloofwaardige deel van die gemeenskap.
Vertroue word oor tyd gebou deur konsekwente gedrag en wederkerige verhoudings.
Vrae wat skole behoort te vra
’n Skool se kommunikasie- en bemarkingstrategie behoort verder te gaan as die vraag: “Hoe kan die gemeenskap ons help?”
Skole behoort ook te vra:
- Hoe dien ons die gemeenskap?
- Watter plaaslike behoefte kan ons help aanspreek?
- Hoe kan ons fasiliteite of kennis gedeel word?
- Watter organisasies deel ons waardes?
- Hoe kan ons oudleerders meer betekenisvol betrek?
- Hoe erken ons ons vennote en ondersteuners?
- Hoe kan ouers se vaardighede benut word?
- Hoe maak ons seker dat die gemeenskap se stem gehoor word?
’n Skool wat waarde toevoeg, bou ’n sterker reputasie as ’n skool wat voortdurend net sy eie prestasies bevorder.
Ouers is belangrike handelsmerkvennote
Ouers is van die kragtigste draers van ’n skool se reputasie. Wat ouers by sportbyeenkomste, werk, kerke, gemeenskapsfunksies en op WhatsApp-groepe oor die skool sê, beïnvloed ander mense se persepsies.
Dit beteken nie dat skole ouers moet probeer beheer of kritiek moet onderdruk nie. Dit beteken dat skole doelbewus goeie verhoudings, duidelike kommunikasie en toeganklike terugvoerkanale moet skep.
Ouers word positiewe handelsmerkambassadeurs wanneer hulle:
- Ingelig voel.
- Gerespekteer word.
- Vertroue in die skool se leiding het.
- Weet waar om vrae te vra;
- Vinnig en professioneel geantwoord word.
- Voel dat hul kinders raakgesien word.
Baie reputasieprobleme ontstaan nie slegs uit foute wat gemaak word nie, maar omdat mense voel dat niemand geluister of duidelik gekommunikeer het nie.
Oudleerders is meer as ’n databasis
Oudleerders dra die geskiedenis, herinneringe en reputasie van die skool saam met hulle. Hulle kan mentors, kundiges, borge, sprekers, netwerkvennote en rolmodelle wees.
Skole behoort oudleerders nie net te kontak wanneer fondse benodig word nie. Verhoudings moet voortdurend onderhou word deur nuus, uitnodigings, erkenning en geleenthede om weer betekenisvol by die skool betrokke te raak.
’n Sterk oudleerdernetwerk bevestig dat die skool se invloed verder as die matriekjaar strek.
Plaaslike sakeondernemings wil betekenisvolle vennootskappe hê
Plaaslike sakeondernemings ontvang dikwels talle versoeke om borgskappe. ’n Algemene brief wat slegs geld vra, gaan maklik verlore.
Skole moet eers om die verhouding met rolspelers fokus en daar moet ’n duidelike vennootskapsvoorstel ontwikkel word.
Dit behoort die volgende te verduidelik:
- Wie die skool is.
- Wat die projek wil bereik.
- Wie daarby sal baat.
- Hoe die sakeonderneming erken sal word.
- Hoe die vennootskap by gedeelde waardes aansluit.
- Hoe die verhouding oor tyd uitgebou kan word.
Die doel is nie bloot om ’n borg te vind nie. Die doel is om ’n vennoot te vind wat saam met die skool waarde wil skep.
Kommunikasie moet tweerigting wees
Skoolkommunikasie bestaan dikwels uit kennisgewings, instruksies en aankondigings.
Goeie kommunikasie moet egter ook “luister” insluit – luistervaardighede is ook ’n belangrike leiereienskap.
Skole kan gereelde terugvoer kry deur die volgende:
- Oueropnames.
- Fokusgroepe;
- Personeelgesprekke.
- Leerderforums.
- Gemeenskapsbyeenkomste.
- Gesprekke met plaaslike vennote.
Die skool hoef nie elke voorstel te aanvaar nie, maar mense moet weet dat hul insette ernstig oorweeg word. Luister is nie ’n teken van swak leierskap nie, maar dit is ’n bron van inligting wat beter besluitneming moontlik maak.
Die gemeenskap help om die skool se verhaal te bevestig
’n Skool kan baie positiewe dinge oor homself sê, maar ’n handelsmerk word werklik sterk wanneer ander mense dieselfde verhaal vertel.
Wanneer ouers, oudleerders, plaaslike sakeondernemings en gemeenskapsleiers spontaan oor die skool se integriteit, diens en gehalte praat, word die handelsmerk geloofwaardig. Dit gebeur nie deur ’n enkele veldtog nie, maar deur volgehoue diens, goeie verhoudings en eerlike kommunikasie.
In die finale blog van hierdie reeks kyk ons na die mense wat die skool se kommunikasie bestuur: die bemarker, hoof en beheerliggaam. Ons ondersoek ook die opleiding wat nodig is om hierdie belangrike funksie professioneel te verrig.