Meer as ’n logo: Bou ’n skoolhandelsmerk wat mense vertrou
’n Vierdelige reeks oor waardes, kultuur, gemeenskap, kommunikasie en strategieseskoolbemarking
Dr. Leandie Bräsler

In die eerste blog van hierdie reeks het ons gekyk na die gedagte dat ’n skool se handelsmerk nie by ’n logo, slagspreuk of advertensie begin nie. Dit begin by identiteit en waardes. In hierdie blog fokus ek op skoolkultuur.
Skoolkultuur is moeilik om in een sin te omskryf, maar mense voel dit byna onmiddellik wanneer hulle ’n skool besoek. Dit is sigbaar in hoe mense mekaar groet, hoe leerders optree, hoe personeel saamwerk en hoe besluite geneem word.
Kultuur is die manier waarop dinge gedoen word wanneer niemand spesifiek voorskryf wat moet gebeur nie.
Kultuur skep ’n gevoel van behoort
’n Sterk kultuur help leerders, ouers en personeel om te verstaan:
“Dit is wie ons is, dit is wat vir ons belangrik is en só tree ons hier op.”
Hierdie gevoel van behoort kan nie deur advertensies geskep word nie. Dit ontwikkel oor tyd deur konsekwente gedrag, gedeelde ervarings en geloofwaardige leierskap.
Kultuur leef dus in:
- die stories wat oor die skool vertel word;
- die tradisies wat beskerm en ontwikkel word;
- die manier waarop nuwe leerders en personeel ontvang word;
- die manier waarop sukses gevier word;
- die wyse waarop teleurstelling hanteer word;
- die taal wat mense gebruik; en
- die gedrag wat aanvaar of gekorrigeer word.
’n Skool met ’n sterk kultuur het nie noodwendig die meeste geld, die beste fasiliteite of die grootste bemarkingsbegroting nie. Geld kan geboue verbeter en vol programme ondersteun, maar dit kan nie vertroue, karakter of samehorigheid koop nie.
Kultuur skep bemarkbare stories
Wanneer ’n skool se kultuur sterk is, ontstaan geloofwaardige bemarkingsinhoud vanself. Dink aan die onderwyser wat ná skool ekstra tyd aan ’n leerder afstaan. Dink aan die ouers wat saamwerk om ’n sportveld op te knap. Dink aan die oudleerder wat terugkeer om jong mense te mentor. Hierdie stories wys die karakter van die skool.
Ander voorbeelde sluit in:
- Leerders wat ’n gemeenskapsprojek ondersteun.
- Jong leerders wat deur ouer leerders verwelkom word.
- ’n Span wat waardigheid in ’n nederlaag toon.
- Personeel wat opleiding bywoon om hul onderrig te verbeter.
- Ouers wat hul tyd en vaardighede tot voordeel van die skool aanbied.
Dit is dié stories wat mense onthou. Nie omdat dit luid of indrukwekkend aangebied word nie, maar omdat dit eg is.
Moenie net die hoogtepunte wys nie
Skole fokus in hul bemarking dikwels hoofsaaklik op toppresteerders, eerste spanne en groot geleenthede. Hierdie prestasies verdien erkenning, maar hulle verteenwoordig nie die volle skoolgemeenskap nie.
’n Sterk kommunikasiestrategie moet ook ruimte maak vir:
- akademiese groei;
- alledaagse klaskamerervarings;
- ondersteuningspersoneel;
- kultuuraktiwiteite;
- diensprojekte;
- onderwysers se professionele ontwikkeling;
- jonger sportspanne;
- herstel ná mislukking; en
- klein oorwinnings wat groot betekenis dra.
Die doel van goeie skoolkommunikasie is nie om ’n volmaakte beeld te skep nie. Dit is om ’n eerlike, herkenbare en hoopvolle verhaal te vertel.
Die hoof se rol in kultuurbou
Die skoolhoof is een van die belangrikste draers van kultuur. Personeel en leerders let nie net op na wat die hoof sê nie. Hulle let op na wat die hoof doen, wat die hoof toelaat en waarop die hoof reageer.
Wanneer die hoof gereeld oor waardes praat, maar onrespekvolle gedrag ignoreer, word die boodskap verswak. Wanneer die hoof egter kalm, konsekwent en mensgerig optree, veral tydens moeilike omstandighede, word die skool se waardes geloofwaardig.
Die hoof hoef nie elke sosialemediaplasing te skryf nie, maar moet toesien dat die skool se kommunikasie ’n eerlike weerspieëling van die kultuur is.
Die bemarker se rol in kultuurvertelling
Die bemarker moet sensitief wees vir die stories wat reeds binne die skool bestaan. Dit vereis goeie verhoudings met onderwysers, afrigters, administratiewe personeel, ouers en leerders. Die bemarker kan slegs betekenisvolle stories vertel wanneer mense vertrou dat hul ervarings met respek en akkuraatheid hanteer sal word.
Die beste skoolbemarkers is dus nie net mense wat mooi ontwerpe kan maak nie. Hulle is luisteraars, waarnemers en storievertellers.
Hulle vra die volgende vrae:
- Waar leef ons waardes tans sterk?
- Watter mense maak ’n stille verskil?
- Watter stories kry te min aandag?
- Wie binne ons skoolgemeenskap voel nog onsigbaar?
- Hoe kan ons die volle karakter van ons skool wys?
Kultuur moet bestuur word
Elke skool het ’n kultuur, selfs wanneer dit nooit doelbewus bespreek word nie. Die vraag is of die kultuur deur die skool se waardes en visie gevorm word of bloot deur gewoontes, informele groepe en ou praktyke.
Skoolleiers behoort kultuur doelbewus te monitor deur gesprekke te voer, opnames te maak, terugvoer te gee en te kry; en om versigtig waar te neem.
Vra personeel, ouers en leerders die volgende:
“Hoe voel dit om deel van hierdie skool te wees?”
Die antwoorde kan soms ongemaklik wees, maar dit bied waardevolle insig. ’n Skool kan nie ’n geloofwaardige handelsmerk bou wanneer dit nie bereid is om eerlik na sy eie kultuur te kyk nie.
In die volgende blog kyk ons na die rol van die gemeenskap en waarom ’n skool se handelsmerk sterker word wanneer mense nie as ’n teikenmark nie, maar as vennote behandel word.