Blog

Gauteng se Gr. 1- en Gr. 8-toelatings steeds nie oop nie: SOS vra dat skole self aansoeke ontvang

24 Julie 2026

Presies ‘n jaar nadat die Gautengse Departement van Onderwys (GDO) se aanlyn toelatingsproses vir 2026 eers op 24 Julie geopen het, is daar steeds geen aankondiging oor die 2027-toelatingsproses vir Graad 1- en Graad 8-leerders nie.

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) waarsku dat verdere vertraging die chaos van verlede jaar kan herhaal, toe duisende ouers in Desember steeds nie geweet het by watter skool hul kinders die nuwe skooljaar sou begin nie.
Hoewel die GDO vroeër hierdie week ouers aangeraai het om “gereed te wees”, is geen datum vir die opening van die aanlynstelsel of bestuursplan vir die 2027-toelatingsproses nog bekend gemaak nie. In die Wes Kaap is 2027-aansoeke reeds in April ontvang en plasings in Junie gedoen.
Die SOS doen daarom ‘n beroep op die GDO om skole onverwyld toe te laat om self aansoeke vir Graad 1 en Graad 8 te ontvang en te verwerk. Die departement het reeds vroeër vanjaar erken dat Graad R-aansoeke deur skole self hanteer moet word. Dieselfde benadering behoort ook vir Graad 1 en Graad 8 gevolg te word.
Die SOS moedig ouers aan om nie op die aanlynstelsel te wag nie, maar reeds nou die nodige dokumentasie by die skool van hul eerste keuse in te dien. Dit stel skole in staat om hul kapasiteit betyds te beplan en aansoeke aan die GDO deur te gee sodra die aanlynproses open.
Die SOS beveel verder aan dat ouers slegs by een, of hoogstens twee, voorkeurskole aansoek doen. Veelvuldige aansoeke bemoeilik kapasiteitsbeplanning en vertraag plasing van leerders.
Vir Graad 1- en Graad 8-aansoeke behoort ouers die volgende dokumente gereed te hê:
* Bewys van woonadres (nie ouer as drie maande nie);
* Gesertifiseerde ID van die ouer of voog (of toepaslike immigrasiedokumente);
* Gesertifiseerde geboortesertifikaat van die leerder;
* Kliniekkaart of immunisasieverslag (Graad 1); en
* Die mees onlangse Graad 7-rapport (Graad 8).
 
Die SOS herinner ouers daaraan dat Graad 8-leerders slegs geplaas kan word by skole wat dieselfde taal van onderrig aanbied as wat op hul Graad 7-rapport aangedui word.
 
Melanie Buys, Hoof van Ontwikkeling by Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS).

Die gewysigde Wet op Basiese Onderwys (BELA) plaas toenemende druk op skole se toelatings- en taalbeleid. Skole wat hul taalbeleid wil beskerm, moet daarom verseker dat hulle oor goedgekeurde taal- en toelatingsbeleide, asook ‘n wettig vasgestelde kapasiteit beskik. Vroeë en volledige aansoeke is ‘n belangrike deel van hierdie proses.

Skole kan nie verantwoordelik beplan indien die toelatingsproses telkens laat begin nie. Ons moedig ouers aan om nou reeds hul dokumentasie by hul voorkeurskool in te dien, sodat skole betyds vir 2027 kan voorberei. Die SOS staan skole graag by om hul kapasiteitsbepaling en toelatingsbeleide wetlik en administratief te versterk,” sê Melanie Buys, Hoof van Ontwikkeling by die SOS.