Deur Hildegard Brummer, Onderwysspesialis en Netwerkskool-koördineerder
“Hoekom moet ek dit leer?”
Dit is ’n vraag wat menige onderwyser en ouer al gehoor het. En eintlik is dit ’n baie goeie vraag.
Buite die skool werk die wêreld immers nie in netjiese vakperiodes nie. Wanneer ons ’n probleem oplos, ’n begroting uitwerk, ’n reis beplan of oor ’n omgewingskwessie besluit, gebruik ons kennis en vaardighede uit verskillende vakgebiede. Tog ervaar kinders leer dikwels as afsonderlike blokkies: nou Wiskunde, dan Afrikaans, daarna Natuurwetenskappe.
Geïntegreerde leer probeer juis daardie blokkies met mekaar verbind.
Dit beteken nie dat vakke verdwyn of dat vakkennis minder belangrik word nie. Inteendeel, leerders moet steeds die nodige kennis en vaardighede in elke vak aanleer. Die verskil is dat hulle ook geleenthede kry om te ontdek hoe daardie kennis saamwerk.
Dink byvoorbeeld aan ’n ondersoek oor waterbesoedeling.
Só word Natuurwetenskappe, Wiskunde, Lewensvaardighede en Afrikaans deel van een betekenisvolle leerervaring™.
Wanneer kinders die verbindings begin raaksien.
In my navorsing het ek ondersoek hoe ’n groep graad 4-onderwysers by ’n openbare skool in Gauteng geïntegreerde onderrig ervaar.
Een van die opvallendste bevindinge was wat onderwysers in hul leerders begin raaksien het. Tydens geïntegreerde leer het leerders meer vrae gevra, kennis uit vorige lesse gebruik en dit wat hulle geleer het, met hul eie leefwêreld begin verbind.
Dit gaan dus oor meer as om bloot ’n les interessanter te maak. Wanneer ’n kind kan sê: “Ons het iets soortgelyks in Natuurwetenskappe geleer,” of “Ek kan daardie Wiskunde hier gebruik,” begin kennis ’n netwerk vorm eerder as ’n versameling losstaande feite. Dít is waar dieper leer kan begin gebeur.
Integrasie gebeur nie vanself nie.
Van buite kan geïntegreerde onderrig eenvoudig lyk: Kies ’n tema en voeg ’n paar vakke saam.
Goeie integrasie werk egter nie so nie.
Die onderwysers in die studie het weekliks as ‘n Meesterkring
Die Meesterkring™ bestaan uit Meesteronderwysers™ uit verskillende vakgebiede. Hierdie samestelling skep ruimte vir professionele gesprekke waarin vakkennis en goeie onderrigpraktyke saamkom om innoverende, maar werkbare leerervarings™ te ontwikkel.
Die onderwysers het egter ook struikelblokke ervaar, waaronder beperkte beplanningstyd, onvoldoende opleiding en assesseringspraktyke wat steeds sterk binne afsonderlike vakgrense funksioneer.
Ons kan daarom nie bloot vir onderwysers sê: “Integreer meer,” en verwag dat dit vanself sal gebeur nie. Hulle het praktiese opleiding, tyd vir gesamentlike beplanning, ondersteunende skoolleierskap en ruimte vir professionele gesprek nodig.
Dit is juis waarom samewerking binne ’n Meesterkring™ waardevol kan wees. Dit bied ’n geleentheid vir onderwysers om hul kundigheid te kombineer, by mekaar te leer en saam praktiese oplossings te ontwikkel.
Wat beteken dit vir ouers?
Ouers wonder dalk of geïntegreerde leer beteken dat ’n kind minder Wiskunde, Afrikaans of Natuurwetenskappe gaan doen. Dit is glad nie die geval nie.
Goeie integrasie vervang nie sterk vakkennis nie. Dit gee kinders eerder meer geleenthede om daardie kennis in verskillende kontekste te gebruik, met ander vakinhoud te verbind en prakties toe te pas.
Juis daarom kry die kinders meer geleentheid om tyd aan die verskeie vakke se inhoud te spandeer.
Ouers kan hierdie manier van dink ook tuis aanmoedig. In plaas daarvan om net te vra: “Wat het julle vandag geleer?”, kan ons vra:
“Waar anders kan jy dit gebruik?”
“Waaraan laat dit jou dink?”
“Hoe sluit dit aan by iets wat jy reeds weet?”
Dit is eenvoudige vrae, maar dit help kinders om iets belangriks te ontdek: Die wêreld bestaan nie uit afsonderlike skoolvakke nie.
As ons kinders wil voorberei om sin te maak van ’n komplekse, verweefde wêreld, moet ons hulle nie net leer om kennis te onthou nie. Ons moet hulle ook leer om die verbande raak te sien. Want uiteindelik lê die waarde van leer nie net in wat ’n kind weet nie, maar in wat daardie kind met sy of haar kennis kan doen.