Die SOS bied in Julie en Augustus twee Robotika-seminare vir onderwysers in Gauteng en die Wes-Kaap aan. Angela Harris, ’n Amerikaanse kenner van Robotika in skole, sal onderwysers tydens ons seminare toespreek. Met die oog hierop, het ons meer gaan uitvind oor Angela en haar liefde vir robotte en die onderwys. Angela hou die afgelope vier jaar reeds skool by Rocky Branch Elementary in Georgia, waar sy Robotika in die plaaslike kurrikulum integreer.
Wat behels jou werk by Rocky Branch Elementary?
My doel as onderwyser in Robotika is om onderrig en studente se deelname aan die vak te bevorder. Die kurrikulum vir staatskole sluit nie Robotika in nie. Omdat die programmering van robotte die onderrig van ander leer-areas kan ondersteun, is dit my taak om Robotika in die kurrikulum te integreer. Ek leer kinders om robotte te programmeer en kodeer en laat hulle dan deelneem aan robotiese uitdagings.
Wat is jou kwalifikasies?
Ek het ’n graad in Wetenskap in die Onderwys aan die Universiteit van Georgia en het my Meestersgraad deur Nova Southeastern University voltooi, met die fokus op tegnologie integrasie. In 2018 is ek deur Northeast Georgia Resa aangewys as STEM-onderwyser van die jaar in ons streek, weens my toegewydheid aan die integrasie van wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde. Ek het ook reeds talle kongresse oor Robotika aangebied in Georgia en Florida.
Hoekom behoort ons Robotika in ons skole te implementeer?
Tegnologie is besig om alle fasette van ons daaglikse lewens oor te neem en te verander. Dit is ons taak as opvoeders om kinders voor te berei op hierdie tegnologie-aangedrewe wêreld. Deur kinders vroeg reeds aan Robotika bloot te stel, kan ons ’n belangstelling vir programmering en innovasie by hulle kweek. Die integrasie van Robotika in die kurrikulum help ook kritiese denke en probleemoplossingsvaardighede ontwikkel. Om robotte te programeer is boonop groot pret en kan studente se konsentrasievlakke verbeter.
Wat kan onderwysers verwag tydens die Robotika-seminaar in Julie en Augustus?
Hierdie sessie is vir onderwysers wat Robotika by hul skool wil implimenteer of Robotika by hul lesse wil inkorporeer. Tydens die seminaar sal ek ’n demonstrasie gee van die basiese programmering van Robotika, soos Sphero, WeDo 2.0 Lego Robotics, Ozobot, Drones en Blue Bott. Ons sal dan bespreek hoe Robotika in die lesplan ingesluit kan word om die kurrikulum te verryk. Daar sal ook ’n geleentheid wees vir eerstehandse interaksie met die robotte.
Vir meer inligting oor die seminaar en om te registreer, gaan na www.skole.co.za/robotika/