Blog

SOS en AfriForum neem regstappe om Gautengse onderwysplasings uit te stel

Verskeie skole in is uiters ontsteld oor foutiewe plasingslyste wat hulle sedert Vrydag 13 September van die Gautengse Onderwysdepartement (GDO) ontvang het. Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) en AFriforum eis nou dat die GDO plasings uitstel tot probleme opgelos is. Skole was redelik gerus dat foute op die aanvanklike plasingslyste tydens gesprekke met GDO distrik-amptenare reg gestel is. “Finale plasingslyste” wemel egter van foute: Leerders wat vroeg aansoek gedoen het en kwalifiseer vir toelating, is weggelaat, terwyl ander se name op die lyste verskyn wat nooit dokumentasie by die skole ingedien het nie of in ‘n taal onderrig wil ontvang wat nie deur die skool aangebied word nie.

 Verskeie skoolbeheerliggame het met die (SOS) en AfriForum in verbinding getree oor foutiewe lyste. Die SOS en Afriforum het reeds ʼn lang konsultasie proses met die GDO gevolg om probleme met die plasings uit te klaar en eis nou dat die GDO die bevestiging van plasings uitstel totdat die probleme opgelos is. Skoolbeheerliggame het skriftelik beswaar aangeteken oor eensydige en foutiewe plasings by die Hoof van die Onderwysdepartement, mnr Edward Mosuwe, asook by Minister Motshekga. Ouers word aangemoedig om appél aan te teken indien hulle kinders nie geplaas word by skole van hul keuse nie.

Bo-en-behalwe probleme met die aanlynstelsel wat nie ouers se adresse kon opspoor nie of afstande totaal verkeerd bereken, lei die gewysigde toelatingsregulasies wat in in Maart vanjaar gepubliseer is, tot verskeie absurditeite: leerders wat reeds in Graad R by ‘n skool is, kry nie plek in graad 1 by dieselfde skool nie, broers en susters word in verskillende skole geplaas en selfs ouers wat by ‘n skool werk, se kinders kry nie plek in dieselfde skool nie. Die gevestigde regsbeginsel van “eerste in tyd, eerste in reg” is ook met sekere plasings blatant deur die GDO geïgnoreer.

Die SOS het van verskeie skole verneem dat die departement leerders wat die naaste aan skole bly, voorkeur gee bo leerders wat ook binne die voedersone bly, al het hierdie leerders se ouers nie eerste aansoek gedoen nie. “Volgens die regulasies moet leerders wat eerste aansoek doen en binne die skool se voedingsgebied woon, eerste geplaas word. Die SOS en AfriForum wil ook verseker dat die departement die leerder en skool se taal van onderrig en leer in aanmerking neem by die plasing van leerders,” sê Melanie Buys, hoof van ontwikkeling aan die SOS. Dit blyk egter of die GDO hulle eie voorskrifte verontagsaam het.

Ouers moes vroeër vanjaar aansoek doen op die GDO se nuwe aanlyn aansoekstelsel om toelating vir hul kinders in gr. 1 en gr. 8 te verkry. Verskeie organisasies en vakbonde het toe reeds hulle bekommernis gelug oor die aansoekstelsel wat geen ruimte laat vir die taal van onderrig nie. “Die Departement se aanlynplatform sou kwansuis ouers en skole moeite spaar, maar ons sien toenemend dat dit meer onsekerheid, moeite en chaos veroorsaak,” sê Buys.

Volgens die SOS en Afriforum se regspan moet die plasingsproses dringend uitgestel word sodat skole meer tyd het om hulle plasingslyste kan deurgaan.


Ontvang ons nuusbrief

En bly op die voorpunt van onderwys in Afrikaans
[gravityform id=36 title=false description=false ajax=true tabindex=49]