Kindgesentreerdheid is die negatiewe situasie in ’n gesin waar die kinders voel, beleef en daagliks prakties ervaar dat hulle die middelpunt van die gesin en die samelewing is. Alles in die kindgesentreerde gesin draai om die kinders se gemak, genot, gerief, grille en giere. Dit is nooit vir ons kinders opvoedkundig voordelig wanneer ons gesinne so ingerig word nie. Gesinne van Afrikaners, soos alle ander kultuurgroepe wêreldwyd, is egter vandag by verstek kindgesentreerd, tensy ons dit daagliks aktief teëwerk. Ons kinders gaan nêrens as volwassenes die middelpunt van die samelewing wees nie – dis onnatuurlik om ’n gesin só in te rig dat dit so vir die kinders voel. Natuurlik behoort alle kinders te beleef dat hulle ’n wonderlike, geliefde toevoeging is wat seën bring tot ’n reeds-bestaande gesin, maar hulle behoort nooit te voel asof hulle die middelpunt daarvan is nie.
Kindgesentreerdheid het tot gevolg dat ons kinders voorregte, vryhede en besittings kry lank voordat dit toepaslik is. Daarom het 12-jarige boetie meestal vryhede wat hoort by ’n 15-jarige en lyk 18-jarige sussie se matriekafskeid soos ’n troue. Ons kinders het meestal té veel besittings, té veel speelgoed en té veel vryhede. Dit sal ons en veral ons kinders baie baat om te streef na eenvoud. Dis vir ons kinders goed om soms te moet wag, soms moeg te word, soms verveeld te wees, soms warm te kry, soms vir ’n kort rukkie honger te wees, soms gestraf moet word vir hul foute, soms vergifnis te moet vra, soms werk in die huis te moet doen. Hulle sal uit hierdie ervaringe leer om vas te byt (deursettingsvermoë) – iets wat Angela Duckworth in haar boek Grit beskryf as dié sagte vaardigheid wat van kinders suksesvolle volwassenes maak. Deursettingsvermoë ontspring egter nooit vanuit die fontein van ’n kindgesentreerde gesin nie.
Die ouers van kindgesentreerde gesinne meng té gereeld in by skole se reëlings en besluite, veral wanneer dit kom by straf. Om egter in te meng by dít wat gewoon die logiese gevolge van verkeerde keuses en dade is, is onopvoedkundig en stel aan kinders ’n baie slegte voorbeeld. Hierdie ouer-inmenging neem epidemiese afmetings aan en het reeds die gevolg dat die onderwysberoep nie aantreklik is vir talentvolle jongmense nie. Die artikel “Helicopter parents raise unemployable children” deur Marcia Sirota is ’n skokkende oproep aan alle ouers om terug te staan sodat hul kinders onafhanklik belangrike sagte vaardighede kan aanleer.
Alle ouers moet te alle tye veg teen die suigkragte van kindgesentreerdheid. Ons moet daagliks daarteen beur met ’n stille vertroue dat ons kinders lewenslank daarby sal baat. Hulle skouers is eenvoudig nie breed genoeg om die gewig te moet dra van besluitnemer en middelpunt van ’n gesin nie. Kinders het ’n reg tot beter leiding en ouers het ’n plig tot beter leiding.
Eenvoud in ons gesinne is uitstekend, die een fout is kindgesentreerdheid.
Dr. Danie Brink – Besturende direkteur: Skoleondersteuningsentrum