Blog

Wêreldonderwys baat by VAW se kennis

Meer as 6000 onderwysers woon jaarliks die NCTM-kongres in die VSA by en vanjaar gaan die Skoleondersteuningsentrum (SOS) se Hoof van die Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers (VAW) ʼn sessie aanbied by hierdie spoggeleentheid.

Die NCTM (National Congress of Teachers of Mathematics) bestaan reeds sedert 1920 en is ook die wêreld se grootste Wiskunde-organisasie vir onderwysers. Vanjaar se kongres word in Chicago gehou vanaf 1 tot 4 April en lok kongresgangers van regoor die wêreld.

Die aanbieding van die sessie is ‘n heel eerste vir Johan en sommer vir die SOS. Vir hom is dit ʼn reuse-eer.

Koekemoer se sessie, getiteld “Mathematics in real life: Open-ended problems can connect the dots”, gaan kongresgangers inspireer om anders na Wiskunde te kyk en die oplossing van probleme meer prakties voor te stel.

“Ek hoop dat ek die Suid-Afrikaanse Wiskunde-onderwysers trots sal maak wanneer ek met my Afrikaanse aksent voor al daardie hordes op die verhoog staan.”

Johan Koekemoer, Hoof van die VAW

Koekemoer word vergesel deur vier Afrikaanse Wiskunde-onderwysers – almal lid van die VAW. Hulle is Carin Rademeyer van Laerskool Wierdapark, Jana Olivier van Laerskool Lynnwood, Celizma Lotz van Ashton College Ballito en Estelle Oberholzer van Hoërskool Ben Vorster. Die vier onderwysers gaan later vanjaar saam met Koekemoer sessies aanbied by die SOS se jaarlikse Nasionale Kongres vanaf 10 tot 11 Junie in Centurion.

Ontvang ons nuusbrief

En bly op die voorpunt van onderwys in Afrikaans
[gravityform id=36 title=false description=false ajax=true tabindex=49]