Blog

Aandag skoliere: Kry jou gratis hulpbronne hiér!

Die Vierde Industriële Revolusie (4IR) is op ons voorstoep en dit beteken dat allerhande nuwe gratis hulpbronne vir veral skoliere nou beskikbaar is. Hordes webwerwe het opgeduik wat gratis toegang bied tot die beste hulpbronne wat daar is. Van kosbare kunswerke tot video’s oor wetenskap-eksperimente; die Internet bied vandag se jongmens alles wat hulle nodig het.

Afrikaanse ensiklopedieë op Wikipedia

Een van die grootste hulpbronne vir Afrikaanse leerders is die groot getal Afrikaanse artikels op Wikipedia. Wikipedia, vroeër gesien as ʼn onbetroubare bron van inligting, se beeld is die afgelope paar jaar afgestof en vorm nou ʼn onmisbare deel van die 4IR. Byna 90 000 artikels bestaan reeds in Afrikaans en bied kliniese, akademiese artikels vir die navorsing van skoolprojekte.

Die Wêreldspektrum-ensiklopedieë is so deel van Afrikaanse huisgesinne soos melktert en is danksy Maroela Media nou ook op die Afrikaanse weergawe van Wikipedia gelaai. Wêreldspektrum is  ʼn ikoniese hulpbronreeks wat vorm gegee het aan 450 nuwe Wikipedia-artikels en bygedra het tot 617 reeds bestaande Afrikaanse artikels. Feite is dikwels bygewerk om die inhoud relevant te hou.

Die Kennis-ensiklopedieë, nog ʼn gunsteling in talle huishoudings, is ook in die proses om opgelaai te word.

Sien kunswerke soos nooit tevore

Die wêreld van kuns is ook onherroeplik verander deur die 4IR. Museums fokus nie meer net op fisiese besoekers nie, maar ook, met behulp van die nuutste tegnologie, op digitale museumbesoekers. Verskeie museums het reeds hulle kunswerke aanlyn geplaas waar die publiek dit gratis kan aflaai, onder andere die Van Gogh-museum, die Britse Museum en die Rijksmuseum.

Een van die voorlopers op die gebied is Google, wie se splinternuwe webwerf oor kuns en kultuur, deur die publiek se soektogte beïnvloed word. ʼn Wye verskeidenheid temas in die hedendaagse lewe, sowel as die verlede word bespreek. Indien jy ʼn sekere kunstenaar opsoek, kan jy sy verskillende werke sien, die museums aanlyn “besoek” waar die werke gehuisves word. Of gaan stuk-vir-stuk deur temas in die bekendste kunswerke.

Die natuurwetenskappe kom tot sy reg

Natuurlik bied tegnologie ook baie vir wetenskaplike vakke. Die webwerf Biodiversity Heritage Library bestaan uit dieresketse, historiese diagramme, botaniese studies en verskillende wetenskaplike navorsing wat versamel is uit honderde-duisende vaktydskrifte en biblioteke regoor die wêreld. In ‘n poging om inligting te deel rakende die voortslepende klimaatkrisis en om samewerking te bevorder om dit te bekamp, spog die webwerf met ‘n versameling van meer as 55 miljoen bladsye literatuur, waarvan sommige uit die 15de eeu dateer.

Ontvang ons nuusbrief

En bly op die voorpunt van onderwys in Afrikaans
[gravityform id=36 title=false description=false ajax=true tabindex=49]