deur Sarina Prinsloo, Skakelbeampte: SOS
en Marnelda de Beer, Hoof: AGV

Die streng afsonderingsmaatreëls om die Korona-pandemie te beveg, noodsaak ouers en kinders om 21 dae lank in mekaar se onmiddellike geselskap te spandeer. Baie ouers sit reeds met hulle hande in die hare. Hoe hou ek die klomp woelwaters konstruktief besig vir 21 dae?
Roetine en dissipline gaan hand-aan-hand

Daar is min geleenthede soos dié in ons alledaagse, gejaagde lewens. Werkende ouers sien soms hulle kinders vir net twee of drie ure per dag. Dit is die ideale tyd om gesinsbande te bou.
Kinders sal heel moontlik eendag terugkyk na hierdié tyd met wonderlike herinneringe aan saamwees, eerder as met herhinneringe aan vrees of uiterste verveling.
Verskeie kenners is dit eens: bly by jou roetine. Dit skep ’n gevoel van veiligheid – nie net vir kinders nie, maar ook vir volwassenes. Staan op, was, trek aan en eet ontbyt. Eet jul gereelde etes – saam, aan tafel, sover moontlik. Beplan wat julle gedurende die dag gaan doen. Gaan slaap op ʼn vaste tyd en kry genoeg rus. Mense wat nie genoeg slaap of reg eet nie, is nie aangename huismaats nie.
‘n Duidelike dagprogram help kinders van enige ouderdom om meer verantwoordelik te word. So ʼn skedule kan die vorm van ʼn eenvoudige kaart sonder enige tydverwysings aanneem vir ‘n voorskoolse kind, terwyl ‘n mens vir ‘n ouer kind kan aandui wanneer dit tyd is om huiswerk te doen en wanneer dit tyd is om elektronika vir die nag weg te sit.

As jou kind sukkel om te lees, gebruik prente om elke aktiwiteit uit te beeld. Hang jou roetine-kaart in die vertrek waar jou kind dit die meeste nodig het – miskien in sy/haar slaapkamer of die badkamer. Kontroleer so nou en dan deur te vra: “Het jy alles op jou lysie gedoen”, eerder as om hom/haar heeltyd te herinner aan die takies.

Wat van die kleuters tot graad R?
Geen formele werkkaarte is nodig of word aanbeveel nie. Bêre jou selfoon en rekenaar ’n bietjie weg en spandeer tyd saam met jou kind.
Hier volg ’n paar wenke vir doendinge:
- Teken eerder ’n prent as om in ’n inkleurboek in te kleur.
- Gebruik koerantpapier om op te teken. Goeie voorgrond-agtergrond oefeninge.
- Skryf met ‘n witbordpen op die ruit. Dit vee maklik af en sorg dat skouerspiere geoefen word. Dit is baie nodig vir lees en skryf.
- Laat u kind toe om buite te speel. Maak ’n plek beskikbaar waar hy in die sand of modder kan speel.
- Gee ou bakkies en lepels waarmee hulle kan speel. Hulle MOET vuil word!
- Praat baie met u kind en vra gedurig oop-einde vrae.
- Laat u kind voorwerpe in die huis tel en vorms en kleure uitwys.
- Lees vir u kind elke dag ’n storie of maak gebruik van die vele internet-webblaaie waar stories beskikbaar is.
- Laat Pappa vir u kind ’n houtplankie en spykers gee. Hy moet die spykers inkap. Natuurlik onder toesig. Berei ook ’n plankie voor waar boutjies ingedraai kan word. Dis ‘n baie goeie fyn-motoriese aktiwiteit om in te oefen.
- Gooi en vang, rol, bons en slaan van alle soorte grootte balle is baie belangrik.
- Om ’n tafel se blad af te vee of te was bevorder middellyn kruising wat nodig is vir handskrif.

- Vra dat u kind die klanke moet identifiseer waarmee woorde begin en eindig. Mondelings, nie skriftelik nie.
- Leer hulle om met ’n besem te vee, skoenveters vas te maak, brood te smeer en hulpvaardig in die huis te wees.
- Leer kinders om nie te skree terwyl hulle speel nie. Dit veroorsaak konflik in die skool. Hulle kan lag en dit geniet, maar daar is ’n verskil in gil, skree en normaal hard lag.
- Leer kinders hoe om planne te maak as hulle ’n probleem sou ervaar. Hou op om alles vir u kind te doen. ’n Mens leer net as jy eers gesukkel het.
- Probleemoplossingsvaardighede is ’n baie belangrike vaardigheid wat u kind gaan nodig hê in die tydperk van die 4IR (Vierde Industriële Revolusie).
Tegnologie is nie noodwendig jou vyand nie
Glo dit of nie, kinders raak moeg vir hulle tegnologie. Wanneer dit gebeur, is daar heelwat alternatiewe. Die belangrikste om hier te onthou, is: maak dit pret!
Tegnologie het, sonder twyfel, sy voordele. Tegnologie kan ingespan word vir ontspanning of huiswerk. Sommige skole beskou tablette deesdae as ‘n noodsaaklikheid in klaskamers. Toegang tot die internet met hope idees of nuttige inligting is nou makliker as ooit tevore.
Daar is ʼn magdom hulpbronne beskikbaar om leer, speel-speel lekker te maak.
Besoek gerus die webwerwe hieronder en ontdek die aanlyn wonderwêreld wat reeds tot ouers se beskikking is:
- Bly by met skoolwerk:
- Google bied gratis virtuele toere van meer as 1 000 museums:
https://artsandculture.google.com/project/virtual-tours
- Laai jou virtuele paspoort af en gaan op ʼn (virtuele) wêreldreis:
- Lekker Afrikaanse kleuteraktiwiteite:
Gebruik dié kosbare tyd by die huis, saam met jou kinders, om hulle weer spesiaal te laat voel en kosbare herinneringe te skep. Hulle smag daarna om meer positiewe tyd saam met hul ouers deur te bring!