
51 347
Die Korona-pandemie gaan nie matrieks se voorbereiding in die wiele ry nie! Danksy die Skoleondersteuningsentrum (SOS) se Wolkskool, kon duisende Afrikaanse matrieks vanoggend afskop met regstreekse uitsendings van klasse.
Matriek-leerders kan tot 9 April 2020 elke weeksoggend om 08:30 inskakel vir regstreekse lesse, om voor te bly met hulle skoolwerk. Hierdie diens word gratis deur Die Wolkskool aan alle matriek-leerders beskikbaar gestel, danksy finansiële ondersteuning van die Solidariteit Beweging en Virseker.
Skole sou vandag vir die tweede kwartaal heropen. Ongeveer 2 100 matrieks wat weens inperkingsmaatreëls tuis sit, het vandag ingeskakel op Die Wolkskool se regstreekse matriek-uitsendings. Die SOS het reeds baie positiewe terugvoer ontvang van waarderende ouers en leerders.
Matrieks kan direk inskakel op uitsendings by live.wolkskool.co.za. ‘n Vaste rooster word gevolg en fokus op agt kernvakke:


- Wiskunde
- Lewenswetenskap
- Afrikaans Huistaal
- Fisiese Wetenskap
- Engels
- Besigheidstudies
- Wiskundige Geletterdheid
- Rekeningkunde
Die afgelope paar dae het meer as 52000 nuwe leerders van alle grade op Die Wolkskool geregistreer. Hierdie drastiese groei in leerdergetalle op die Die Wolkskool, hou bepaalde uitdagings vir die tegnologie in. Om die verhoogte aanvraag te hanteer, word die infrastruktuur-kapasiteit deurlopend uitgebrei. Aanpassings word juis tans gemaak. Die Wolkskool behoort teen Woensdagoggend weer vlot te funksioneer.
Besoek gerus die volgende blad vir algemene vrae en antwoorde met ondersteunende materiaal: https://skole.co.za/wolkskoolvrae/