deur Hendrik de Kock – Wolkskooldosent
Johan is ʼn gewone seun, uit ʼn gewone huis, in ʼn gewone skool, in ʼn gewone graad 8-klas, maar niks het in 2020 vir Johan gewoon gevoel nie. Vir groot dele van die jaar kon hy nie skooltoe gaan nie, hy kon nie in sy gunsteling klas by sy gunsteling onderwyser uitkom nie. In ʼn groot mate was Johan op homself (met baie hulp van sy ouers en onderwysers) aangewese. Johan het videolesse bygewoon, handboeke met baie oefeninge deurgewerk. Tog weet Johan nie hoe vanjaar gaan eindig nie – is hy gereed vir die eksamen, het hy al die werk gedoen, verstaan hy al die werk …? So baie onsekerhede vreet aan Johan. Hy wil sterk eindig in 2020 – soos al die vorige jare!
Dis die verhaal van só baie seuns en dogters in 2020.
Die Wolkskool (www.wolkskool.co.za, gratis tot einde 2020) is daar om te help!
Die Wolkskool het in samewerking met die Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers (VAW) ʼn geleentheid geskep vir alle leerders in Grade 4 – 9 om aanlyn Wiskunde-vraestelle kan uitwerk om seker te maak hulle is gereed vir vanjaar se eindeksamens – om seker te maak hulle eindig sterk. Die vraestelle is beskikbaar op Die Wolkskool onder die opskrif: Toets jou kennis – 2020 Voorbereidingseksamen.
Die Wiskunde Voorbereidingseksamens is vanaf 2 November 2020 op Die Wolkskool beskikbaar.
Hoe lyk die Wiskunde Voorbereidingseksamens?
- Gebaseer op die Nasionale Kurrikulum (KABV) wat
- Inhoud,
- Moeilikheidsvlakke en
- Kognitiewe vlakke aanbetref.
- Beskikbaar in Wiskunde vir Grade 4 tot 9.
- Opgestel deur kundige- en ervare Wiskunde-onderwysers.
- Elke fokusarea het ʼn afsonderlike eksamen, wat dit makliker maak om ekstra aandag aan ʼn spesifieke fokusarea, waarmee ʼn leerder gesukkel het, te gee.
- Die eksamens bestaan uit veelkeusige vrae waar leerders onmiddellik terugvoer kry oor die korrektheid van hul antwoorde, asook hulle prestasie in geheel.
- Daar is nie ʼn tydsbeperking op die voltooiing van die eksamens nie, sodat leerders genoegsame aandag kan gee om seker te maak van hulle antwoorde.
- Eksamens kan meer as een keer afgeneem word – totdat leerders tevrede is met hulle vordering en seker is hulle verstaan die inhoud wat getoets word.
- Ouers kan hulle kinders begelei deur eksamen-omstandighede te simuleer.
- Eksamen-angs word oorkom deurdat leerders vertroud raak met die inhoud, asook die tipe vrae wat hulle in die werklike eindeksamen kan verwag.
- Voorbeeld van ʼn vraag in die Wolkskool Toets jou kennis – 2020 Voorbereidingseksamen vir Graad 5:

Ouers (en leerders) vra soms: “Wanneer is genoeg, genoeg?” Het my kind hard genoeg, lank genoeg en met genoeg hulp voorberei vir sy/haar eksamen om genoegsame kennis te verwerf om eendag sy/haar lewensroeping uit te leef?
Die Wolkskool kan ‘n skakel in die leerketting wees, sodat die vraag met sekerheid beantwoord kan word en dat elke leerder die geleentheid sal kry om 2020 sterk te eindig!