Blog

Voer jou brein vir ’n gesonde skoolrapport

Jou brein is die gulsigste deel van jou liggaam en moet gedurig gevoer word. Jou brein gebruik 20% van al die glukose, 35% van alle vitamiene en minerale, 40% van alle water en die helfte van vette wat jou liggaam opneem. Daarom is dit belangrik om reg te eet. Hier is die top-tien kossoorte wat bydra tot ’n suksesvolle eksamen.

1. Water

Die belangrikste aspek van ’n gesonde dieet, is om te verseker dat jy genoeg water inneem. Verskeie studies die afgelope paar jaar tref ’n duidelik verband tussen genoeg water en verhoogde konsentrasie, verlaagde stres en selfs beter punte in eksamens.

2. Appels

Appels is propvol asetielcholien, ‘n organiese molekuul wat optree as ’n neurotransmitter wat seine in jou senuweestelsel oordra. Dit veroorsaak dat boodskappe tussen jou liggaam en brein meer effektief oorgedra word. Verder gee die appel se vrugtesuiker jou energie en maak jou positief in die eksamenlokaal.

3. Eiers

Die beste manier om te verseker dat jy reg is vir die dag, is om ’n eier vir ontbyt te eet. Nie alleenlik is eiers proteïenryke voedsel wat jou heeldag energie gee nie, maar dit bevat ook Vitamien B12 wat verder bydra tot ’n dag propvol energie.

4. Hawermout

’n Bord hawermout vir ontbyt is nog ’n lekker, voedsame manier om jou dag aan te pak. Dit het ’n baie lae glukemiese indeks wat verseker dat jou bloedsuikervlakke stabiel bly. Dit bevat ook cholien, een van die boustene van ‘n gesonde senuweestelsel.

5. Joghurt

Gesien die hoeveelheid stres wat leerders tydens die eksamen ervaar, is dit maklik om te verstaan waarom hulle ingewande in ’n warboel is. Biljoene bakterieë, goeies en slegtes, woon in jou ingewande. Wanneer daar ’n wanbalans ontstaan weens spanning en stres, neem die slegte bakteria oor en voel jy afgemat. Deur joghurt te eet, herstel jy die balans in jou ingewande en kry jy weer energie.

6. Bloubessies

Bloubessies is die oorspronklike breinkos, propvol antioksidante. Dit help jou om feite te onthou, jou woordeskat te verbeter en bevorder jou numeriese vaardighede.

7. Neute

Nie net is neute ’n fantastiese bron van nutriënte, vette en proteïene nie, maar hulle is ook jou brein se beste vriend. Neute bevorder die verwydering van afvalstowwe in jou brein, om plek te maak vir al die nuwe inligting wat jy tydens die eksamen moet onthou. Neute help ook om jou gemoed te verbeter en verhoed swelling in die brein. Laastens kan neute jou geheue en jou aandagspan verbeter.

8. Brokkoli

Brokkoli is nie almal se gunsteling nie, maar dit is een van die beste groentes om jou brein te help herstel ná ’n besering. Nie net herstel dit die neuro-verbindings in jou brein nie, maar dit help ook om nuwe verbindings te vorm en help om dementia te verhoed.

9. Laevet proteïene

Die spesiale chemikalieë wat neurone (breinselle) help om met mekaar te kommunikeer, bestaan uit proteïene. Gesonde, laevet proteïene help jou liggaam help om die aminosuur-boublokke te ontvang om daardie neurone te begin. Pluimvee, eiers, boontjies en melk is goeie bronne van proteïene.

10. Donker sjokolade

Donker sjokolade is ’n reuse-hulpmiddel vir elke kind se brein. Dit verminder die negatiewe gevolge van stres, bevorder probleemoplossingsvaardighede en help met bloedtoevoer na die brein. Dit is veselryk, vol yster en magnesium en het dieselfde effek as koffie op ’n kind se energievlakke, sonder enige van die negatiewe newe-effekte.

Die Wolkskool bied hoë kwaliteit videolesse, assesserings en ondersteunende lesmateriaal in vakke soos Wiskunde, Wetenskap en Afrikaans Huistaal. Dit is gratis tot einde 2020. Maak gebruik van Die Wolkskool se kort, kragtige lesse wat jou sal help om die jaar se werk te hersien en in ‘n japtrap te verstaan! Besoek https://wolkskool.co.za/