Elsabe Aldrich
Motiveringskonsultant

Die bekende motiveringskonsultant oftewel “pretprater” soos sy verkies, Elsabe Aldrich, het kragte saamgesnoer met Vlam Stander, ’n taalonderwyser met meer as 30 jaar ondervinding en ’n passie vir berading. Hulle bied ’n unieke tienerkursus by hoërskole aan. Tydens die opwindende Woema-week help hulle tieners om van wanklank na wenklank te vorder.
Die inhoud van die kursus is dié twee ervare aanbieders se antwoord op die vraag:
Wat hoort alles in ’n tiener se gereedskapkis om verhoudings, negatiwiteit, stres, druk en papgeklaptheid te hanteer?
Daar is ’n groeiende behoefte by tieners om meer in beheer van hul lewens te voel. Hulle benodig kennis van tegnieke wat verhoed dat hulle soos slagoffers voel. Elsabe en Vlam, of “tannie Vuur en tannie Vlam” soos die tieners hulle gedoop het, gee aandag aan dié dinge wat binne elkeen se Kring van Invloed lê.
Elsabe bied sedert begin 2014 haar Triomfantelike Tienerkursus by hoërskole aan. Tot dusver het ongeveer 25 000 hoërskoolleerders die hele kursus of ’n gedeelte daarvan bygewoon. In die oorweldigende positiewe terugvoering noem hulle dit prettig, leersaam en lewensveranderend.
Hierdie trefferkursus is hersien om toerusting te voorsien vir die uitdagings van hierdie veeleisende tydsgewrig. Die doel is steeds om tieners te motiveer en toe te rus om as moderne jongmense hul unieke pad te vind.
Tydens die Woema-week, wat gewoonlik in die skoolsaal aangebied word, word elke dag aan ’n ander graadgroep gewy. Dit skep ’n gevoel van samehorigheid en die geleentheid vir wyer interaksie met graadmaats. Die vyfuurlange program is ouderdomspesifiek en behels verskeie verfrissende aktiwiteite. Daar is sessies wat interaktief en humoristies van die verhoog af gedoen word deur tannie Vuur (Elsabe), terwyl ander berus op leerderdeelname met gonsgroepbesprekings in ’n werkswinkel-formaat. Tienerkwessies en toerusting vir die lewe is die warm onderwerpe onder bespreking.
Die eerste tema is INTRAPERSOONLIKE SUKSES. Die belangrikheid van ’n gesonde selfbeeld, persoonlike leierskap en bestuur word beklemtoon. Daar word tyd ingeruim vir privaatwerk oor drome en doelwitte. Selfkennis, visie, beplanning, waardesisteem, positiewe binnepraatjies, kommunikasie, lyflike kwessies, seksuele besluitneming en ankers is van die onderwerpe wat gedek word.
Die tweede tema is INTERPERSOONLIKE SUKSES en verhoudings. Die tieners geniet die dinkskrum in groepe (verkieslik seuns en dogters gemeng) baie. Hierdie werkswinkel-formaat benodig tafels met stoele rondom. Dit is opvallend hoe leerders groei in selfvertroue hoe meer hullle gewoond raak aan terugrapportering na die hele groep. Die atmosfeer is opwindend en die idees oorspronklik.
Die kursus vind in die eerste kwartaal of vroeg in die tweede kwartaal plaas.
Dit werk soos suurdeeg en die hele skool word vroeg in die jaar bemagtig, bemoedig en beraad om vuur en vlam oor die lewe te wees – uitdagings en al.
Navrae:
Gesels met Elsabe oor beskikbare datums en die koste. Op aanvraag word ’n spesifieke kwotasie verskaf volgens die getal leerders en die geografiese ligging van die skool.
E-posadres: [email protected]
Huistelefoon: 028 3163739
Selnommer: 082 895 9899
Kyk gerus na www.elsabealdrich.co.za vir meer besonderhede.
Referente:
Mnr Pierre van der Westhuizen – skoolhoof van Curro Hermanus: 028 3164911
Mnr Nicholas Pelser – skoolhoof van Hoërskool Swellendam: 028 5141361