Blog

Dit gaan nie oor die NNT’s nie: dit gaan oor gereedheid vir universiteit

Professor Albert Weideman

Taalvaardigheidspesialis

Graad 12’s verdien om voorbereid universiteit toe te gaan

“Dit wil my nou voorkom,” skryf ’n Graad 12-leerling se ma onlangs vir my, “dat geen tersiêre inrigting meer van die kinders verwag om die Nasionale Normtoetse af te lê nie (vir BAIE van die vakrigtings).”

“Is dit waar?” vra sy.

Die Nasionale Normtoetse (NNT’s) oftewel National Benchmark Tests (in die omgang: NBT’s) is ’n instelling waarvan die meeste skole min weet, baie leerlinge nie in belangstel nie, heelparty onderwysers niks wil weet nie en heelparty ouers nie genoeg van weet nie.

Dis toetse wat enkele jare gelede deur baie Suid-Afrikaanse universiteite ingestel is en word deur die Universiteit van Kaapstad administreer. Aanvanklik sou universiteite die resultate slegs gebruik as inligting bykomend tot die Graad 12-eindeksamenuitslae, om bv. diegene wie se akademiese geletterdheid nie op peil was nie, op taalontwikkelingskursusse te plaas. Na daar ʼn Wiskunde-komponent toegevoeg is, het die gebruik van hierdie toetse begin medebepaal of toelating tot gesogte kursusse verkry word. Veral by rigtings waar raskwotas aansoekers uit veral een demografiese groep kan benadeel, het die NNT’s ’n al meer deurslaggewende rol begin speel by toelating.

Is dit dan so dat universiteite dit nie meer vereis nie? Of in die toekoms gaan vereis nie? Dis te betwyfel.

Sommige universiteite vereis dit inderdaad steeds en sommige nie. Universiteite verander egter maklik van plan. Twee voorbeelde: een groot residensiële universiteit in die noorde het in Januarie op hulle webwerf gesê hulle vereis dit nie. Teen Februarie het hulle Fakulteit Ingenieurswese laat weet dat dit steeds vir een van hulle keuringsprogramme vereis word. Kort op die hakke daarvan laat weet die Fakulteit Opvoedkunde hulle vereis ook die NNT’s. Die tweede voorbeeld: in Januarie word ek oorval deur navrae van ouers wat, soos die ouer hierbo, sê dat ’n groot residensiële universiteit in die suide nie meer die NNT’s vereis nie. Geen verrassing egter toe hulle Fakulteit Regte kort daarna laat weet het dis nie so nie – hulle vereis dit wel.

Kortweg: universiteite verskil nie net onder mekaar nie, maar daar kan ook binne universiteite verskille wees tussen fakulteite, soms tussen departemente en dikwels tussen verskillende studieprogramme. Soos die Latynse spreekwoord sê: Caveat emptor. Oppas vir goeie ‘raad’, of vermoedens. Wees versigtig om alles wat jy verneem vir soetkoek op te eet.

As die leerling slegs vir een kursus by een universiteit aansoek doen en doodseker is hy/sy aansoek gaan slaag (hoe kan dit anders?). Ontspan. Oorweeg egter tog: wat as hierdie kind nie by daardie universiteit inkom nie? Wat as hy/sy by ’n ander universiteit, wat die NNT’s wel vereis, ook aansoek moet doen? Miskien is daar egter universiteite waar demografiese posisie tot aansoekers se voordeel benut kan word. Veral by instellings waar sulke aansoeke skaars is. Hoe? Met behulp van goeie uitslae op die NNT’s.

Word die NNT’s nie vereis nie? Ek twyfel. As dit so is, is dit waar slegs in ’n beperkte sin. Caveat emptor.

Laastens en positief: Geen voorbereiding vir universiteit is ooit vermorste tyd of energie nie. Sou my geslag en twee geslagte daarna, beter voorbereid daar aangeland het, sou ons baie minder tyd, geld en moeite (ook vir ander) gemors het. Die huidige geslag Graad 11’s en 12’s het ambisie wat, om dit sagkens te bewoord, hulle ouers en voorouers in die skadu stel. Hulle verdien om voorbereid universiteit toe te gaan. As die onderwysstelsel dit vir hulle gebied het, was die wêreld reg. Dit gaan dus nie oor die NNT’s nie; wel om gereed te wees vir die uitdagings van 2022 en 2023, onderskeidelik die moeilikste jare vir die Graad 12’s en 11’s van 2021.

Volgende geleentheid 2021:

Gr. 11 NNT – voorbereidende toetse – virtueel en/of fisies in Pretoria:

DatumWatTydFormaat
7 OktoberTaal09:00 – 11:30Lewende lywe
 Taal14:00 – 16:30Aanlyn
8 OktoberWiskunde10:00 – 13:00Lewende lywe
 Wiskunde14:30 – 17:30Aanlyn

Navrae:

Professor Albert Weideman  (Taalvaardigheidspesialis – [email protected])

Duard le Roux (Wiskunde-spesialis) – [email protected]

Hugo Vermeulen – Hoof van Opleiding by Solidariteit Skoleondersteuningsentrum in Centurion en koördineerder van die NNT voorbereidende eksamens vir gr.11’s en gr.12s – [email protected]