Sarina Prinsloo
Skakelbeampte: SOS
“Skole bepaal die sukses van ʼn gemeenskap. ʼn Sterk skool beteken ʼn sterk gemeenskap, dit lig ʼn hele gemeenskap se sosio-ekonomiese stand op. As ʼn skool faal, verval die hele dorp of gemeenskap rondom daardie skool,” sê Leon Fourie, uitvoerende hoof van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS). “Daarom is dit so belangrik vir die SOS om die besondere bydrae wat suksesvolle Afrikaanse skole tot die gemeenskap maak te beklemtoon. Ons wil ander gemeenskappe begeester deur hierdie skole se uitstekende prestasies te vier.”
Die top Afrikaanse skole in Suid-Afrika is vanoggend vereer vir hulle uitsonderlike uitslae in die 2022-matriekeksamen. Dié merietetoekenningsgeleentheid, wat by die Afriforum Teater in Menlopark gehou is, is deur tientalle skole vanoor die land bygewoon.
Fourie sê: “Afrikaanse skole se uitstekende resultate is te danke aan moedertaalonderrig én gebalanseerde kultuuroordrag wat waardes vestig en leerders toerus vir die toekoms.”
Die Hoërskool Menlopark het tien toekennings ontvang, onder andere vir topprestasie in Wiskunde, Fisiese Wetenskappe, Rekeningkunde en Afrikaans Huistaal.
Toekennings is gemaak volgens die aantal onderskeidings per skool, asook onderskeidings per kandidaat behaal, sodat kleiner skole se prestasies ook erkenning kry.
Agt uit die top 20-skole in die land is Afrikaanse skole.
Die top 20-skole met die meeste onderskeidings per getal kandidate is:
- Herschel Girls’ High School
- Rustenburg Girls’ High School
- Rhenish Girls’ High School
- Herzlia High School
- Bishops Diocesan College
- Hoër Meisieskool Bloemhof
- Springfield Convent of the Holy Rosary
- Al-Falaah College
- Hoër Meisieskool La Rochelle
- Afrikaanse Hoër Meisieskool
- Westerford High School
- Star College
- Hoërskool Menlopark
- Hoërskool D.F. Malan
- Hoërskool Waterkloof
- Tshwane Muslim School
- Hoër Meisieskool Paarl
- Hoërskool Ferdinand Postma
- Rondebosch Boys’ High School
- Westville Girls’ High School
Enkelgeslagskole het veral uitgeblink. Tien van die top-20 skole in Suid-Afrika met meeste onderskeidings per kandidaat, is enkelgeslagskole. Volgens Wilna van Heerden, hoof van die Hoër Meisieskool Bloemhof, is daar ʼn paar goed wat hulle voorberei het vir die uitdagings waarmee die matriekgroep van 2022 moes worstel. “Ons fokus is nie op prestasie nie, ons fokus is om onsself te verbeter en om te weet wie ons is. Dit tesame met die feit dat ons kinders ʼn uiters gesonde werksetiek en selfdissipline het, maak ons leerders veerkragtig en gereed vir die toekoms.
Die vier skole met die meeste onderskeidings nasionaal, is almal Afrikaanse skole:
- Hoërskool Menlopark (950)
- Hoërskool Waterkloof (860)
- Afrikaanse Hoër Meisieskool (712)
- Hoërskool Garsfontein (709)
Mr. Schalk Reynders, hoof van Hoërskool Menlopark, skryf hulle sukses toe aan ʼn kombinasie van faktore: “Dis ʼn kombinasie van drie faktore – toegewyde kinders, absolute fantastiese onderwysers en dan natuurlik ʼn gemeenskap en ouers wat saamwerk.”