Blog

Op 14 Augustus vier ons Taaldag sowel as GeRAT se verjaardag!

deur Jana Terblanche

Onderwysspesialis: SOS

GeRAT staan vir die Genootskap van Regte Afrikaanse Taalonderwysers en sinspeel op die destydse vereniging, die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA), wat op 14 Augustus 1875 (145 jaar gelede) in die Paarl gestig is. Die GRA het die eerste Afrikaanse koerant, Di Patriot en vele ander boeke en geskrifte die lig laat sien. 

‘n Interessante verhaal oor die rede vir die naam “Genootskap van Regte Afrikaners” is dat die stigters gevoel het daar in daardie stadium drie verskillende soorte Afrikaners in Suid-Afrika was, naamlik:

  • Afrikaners met Hollandse harte, wat nog vasklou aan hul Hollandse verlede en die moederland in Europa wat hulle reeds 225 jaar gelede verlaat het.
  • Afrikaners met Engelse harte, wat die taal en kultuur van die Engelse regering aanvaar het as hul eie.
  • Regte Afrikaners met Afrikaanse harte, wat die taal en kultuur van die nuwe land aangehang het.

Hierdie laaste groep was die mense wat hulle wou verenig in die GRA. Die doel van die Genootskap was nie net om die Afrikaanse taal te bevorder nie, maar ook om die Afrikaanse kultuur in geheel te ondersteun.

Die meeste GeRAT-lede skaar onsself waarskynlik by die laaste groep wat glo dat, solank as wat elke Afrikaner Afrikaans praat, ons taal nie sal uitsterf nie.Ons vier immers oor twee jaar Afrikaans as amptelike taal se 100ste verjaarsdag!

GeRAT se stigting het voortgevloei uit ‘n behoefte aan ondersteuning (ín Afrikaans) vír Afrikaans Huistaalonderwysers en beywer hom vandag ook (nes die GRA) vir die bevordering van Afrikaans en die ondersteuning van Afrikaans onderwysers deur hul werkslas te verlig. GeRAT vorm deel van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se 15 verenigings. Elke vereniging bied unieke voordele soos werkkaarte, toetse en eksamenvraestelle met nasienriglyne en word aan lede beskikbaar gestel deur Die Wolkskool in die vorm van Raadsale.


Hier is ‘n paar kort videos wat jou stap-vir-stap sal verduidelik hoe die hele registrasieproses werk, hoe en waar jy nou moet inteken en hoe jy toegang tot die hulpbronne kan verkry:

  1. Ek het reeds geregistreer en betaal vir die SOS-vakverenigings. Wat nou? (Sluit aan by Die Wolkskool): https://youtu.be/vJT65JxHxt0
  2. Hoe kan ek by ‘n SOS-vakvereniging se Raadsaal aansluit en dit gebruik?: https://youtu.be/wh6-KcWtdpo
  3. Hoe om jou eie Raadsaal te skep: https://youtu.be/WKnVpK8Tubw
  4. Hoe werk Die Wolkskool se aanlyn klaskamers? https://youtu.be/hjdVihSnICE
  5. Hoe werk Die Wolkskool se inhoud? https://youtu.be/GI-QfJKufJk