deur Maryke BellinganOnderwysspesialis: SOS
As jy in die oggend jou register neem en hoor dat jou “probleemkinders” afwesig is of dat jy die moeilike klas vir die dag misloop, ervaar jy ‘n sekere verligting. Tog bly jy bekommerd, want jy weet dat hierdie kinders nie kan bekostig om agter te raak nie. Hierdie gevoel is iets wat net ‘n onderwyser regtig verstaan.
Maar daar is hoop. Op Saterdag, 5 Oktober, bied die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) ‘n werkswinkel aan wat daarop gemik is om onderwysers te help om kinders met leerhindernisse beter te ondersteun. Hierdie geleentheid bring verskeie kenners bymekaar om waardevolle insigte en praktiese wenke te deel.
Die dag begin met ‘n verwelkomende koppie koffie en beskuit. Ons gaan ook in die skoene van ons leerders staan en self ervaar hoe dit is om met leerhindernisse te leef—van die gebruik van ‘n Irlen-bril tot die ervaar van die hiperaktiewe energie van ‘n leerder met ADHD. Heloise Bredenhann, ‘n Opvoedkundige Sielkundige, sal gesels oor die konsepte van neurotipiese en neurodiverse kinders. Martelean Venter, ook ‘n Opvoedkundige Sielkundige en ‘n gesertifiseerde Irlen-diagnostikus, sal ons vrae oor visuele prosesseringsprobleme en die Irlen-sindroom beantwoord.
Carol Eloff, ‘n arbeidsterapeut, sal die rol van arbeidsterapie in die ondersteuning van leerders met uitdagings soos dispraksie bespreek. Prof. Lidia Pottas en Dr. Carmen Milton van die Universiteit van Pretoria se Departement Spraak-Taalpatologie en Oudiologie, kenners op die gebied van spesifieke taalgestremdhede, sal insig gee oor hierdie komplekse kwessie.
Die diagnose van ADHD word soms vinnig gemaak—of so voel dit ten minste. Dr. Johan Erasmus sal die werklike feite oor ADHD aan ons voorlê.
Ons sluit die dag af met ‘n praktiese sessie waarin ons leer hoe om leerders met leerhindernisse effektief te akkommodeer in ‘n klas van 30 of meer. Ons beloof dat jy met meer antwoorde as vrae sal wegstap en dat die werkswinkel ‘n waardevolle bydrae tot jou professionele arsenaal sal lewer.
Registreer hier