
Toe iemand jare gelede ’n onderwyser gesoek het om kodering en robotika aan te bied, het Melanie Kroukamp haar hand opgesteek voordat sy mooi kon nadink oor wat dit sou behels. Daardie enkele oomblik van waagmoed het gegroei tot ’n loopbaan waarin sy onderwysers regoor Suid-Afrika help om tegnologie nie as ’n bedreiging nie, maar as ’n hulpmiddel vir kreatiwiteit, probleemoplossing en nuwe moontlikhede te benader.
Dié reis word nou op nasionale vlak erken met Kroukamp se benoeming vir die Edu Women in Leadership Awards 2026 – ’n benoeming wat die kollig plaas op die soort leierskap wat nie voorgee om al die antwoorde te hê nie, maar ander die moed gee om saam te begin.
As vakspesialis wat werksaam is by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) werk Kroukamp saam met onderwysers en skole regoor Suid-Afrika om kodering, robotika en kunsmatige intelligensie (KI) meer toeganklik, prakties en minder intimiderend te maak. Haar werk fokus op die mens agter die tegnologie: die onderwyser wat onseker is, die leerder wat nuuskierig raak en die skool wat verantwoordelik vir ‘n veranderende wêreld moet voorberei.
“Wat my inspireer, is nie noodwendig die tegnologie self nie – dit is immers net ’n hulpmiddel – maar die oomblik wanneer mense besef dat hulle tot veel meer in staat is as wat hulle ooit gedink het,” sê sy.
Volgens Kroukamp gaan kodering, robotika en KI egter oor veel meer as skerms, programme of masjiene. “Dit gaan oor kreatiwiteit, probleemoplossing, nuuskierigheid en die moed om iets nuuts te probeer.” Juis omdat sy self daardie onsekerheid beleef het, vind baie onderwysers aanklank by haar benadering. Haar boodskap aan onderwysers is eenvoudig: kundigheid is nie altyd die vertrekpunt nie; bereidwilligheid om te leer is.
“Jy hoef nie alles te weet voordat jy begin nie. Jy moet net bereid wees om te leer, te groei en die eerste tree te gee,” sê sy.
Kroukamp beskou die nominasie ook nie as ’n individuele prestasie nie. “Ek dink nie enige mens doen hierdie werk alleen nie. Elke werkswinkel, elke vraag, elke plan wat werk en elke plan wat heeltemal skeefloop, vorm deel van die storie.”
Vir haar verteenwoordig die benoeming elke onderwyser, kollega en skool wat bereid was om saam te eksperimenteer, vrae te vra en nuwe onderrigmoontlikhede te ondersoek. Dit is ook ’n herinnering dat die onderwys van die toekoms nie deur een persoon, een groep of een geslag gebou sal word nie, maar deur mense wat bereid is om oor grense heen saam te werk.
“Goeie onderwys en goeie leierskap gaan oor mense wat bereid is om te leer, te groei en ander saam met hulle te neem. Onderwys is nie iets wat ons alleen doen nie; dit is ’n spanpoging.”
Publieke stemme dra 30% van die finale beoordeling in die Edu Women in Leadership Awards 2026. Elke stem is daarom nie bloot steun vir ’n kandidaat nie, maar erkenning van die werk wat gedoen word om onderwysers en leerders met groter selfvertroue vir die toekoms toe te rus.”Ek dink enige onderwyser sal verstaan hoe lekker dit voel wanneer iemand sê: ‘Ek sien die moeite wat jy doen.’ Vir my voel elke stem ’n bietjie soos dit.”
Enigiemand wat glo in praktiese, mensgerigte en toekomsgerigte onderwys, of reeds deur Kroukamp se opleiding geraak is, word genooi om hul stem uit te bring. Stem deur hier te klik.