Blog

SOS waarsku oor matriekrooster: Tot agt vraestelle in agt skooldae

13 Oktober 2026

Terwyl byna een miljoen kandidate vandag met die 2026-Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen (NSS) begin, waarsku die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) dat sommige matrikulante weens hul vakkombinasies tot agt vraestelle binne agt skooldae moet aflê. Die organisasie wens elke matrikulant, onderwyser en skool sterkte toe, maar vra dat die eksamenowerhede leerders se welstand en billike assessering voorop stel.

Volgens die minister van Basiese Onderwys, Siviwe Gwarube, het ‘n rekordgetal van 962 832 kandidate vir vanjaar se NSS-eksamen geregistreer. Hiervan is 815 051 voltydse en 147 781 deeltydse kandidate. Die minister het Sondag 11 Oktober bevestig dat sowat 7 100 eksamensentrums gereed is om die eksamen af te neem.

Die SOS verwelkom dié versekering, maar beklemtoon dat eksamengereedheid nie bloot oor administratiewe voorbereiding gaan nie. Elke kandidaat behoort ‘n billike geleentheid te hê om sy of haar kennis en vermoëns te demonstreer.

“Ons wens elke matrikulant, onderwyser en skool sterkte toe met die eindeksamen en vertrou dat die eksamenowerhede sal verseker dat elke leerder ná jare se harde werk ‘n billike geleentheid kry om sy of haar beste te lewer,” sê Maryke Bellingan, onderwysspesialis by die SOS.

Ongebalanseerde eksamenrooster wek kommer

Die SOS is veral bekommerd oor die opeenhoping van veeleisende vraestelle vir leerders met bepaalde vakkombinasies.

Leerders wat Wiskunde, Fisiese Wetenskappe, Rekeningkunde en Engels neem, sal tussen 22 Oktober en 2 November sewe vraestelle binne agt skooldae aflê. Dit sluit twee Wiskunde-, twee Rekeningkunde- en twee Fisiese Wetenskappe-vraestelle, asook Engels Vraestel 1 in.

Op 28 Oktober moet dié leerders Engels Vraestel 1 in die oggend en Rekeningkunde Vraestel 2 in die middag skryf. Daar is dus min tyd tussen die twee sessies om te rus en vir die volgende vak voor te berei.

Die druk is selfs groter vir sekere ander vakkombinasies. ‘n Leerder wat Wiskunde, Fisiese Wetenskappe, Ingenieursgrafika en -ontwerp (IGO), Geografie en Engels neem, kan binne dieselfde agt skooldae agt vraestelle skryf. Ander vakke se vraestelle is oor ‘n langer tydperk versprei.

‘n Ouer van ‘n matrikulant aan ’n Hoërskool Garsfontein in Pretoria, wat verkies om anoniem te bly, meen die rooster plaas onnodige druk op leerders wat verskeie berekenings- en toepassingsgerigte vakke neem.

“Dit lyk nie asof die departement die uitwerking van hierdie vakkombinasies behoorlik deurdink het nie. Vakke soos Wiskunde, Fisiese Wetenskappe en Rekeningkunde verg baie konsentrasie, oefening en toepassing. Wanneer soveel vraestelle kort ná mekaar geskryf word, raak dit vir leerders moeilik om voldoende vir elkeen voor te berei,” sê die ouer.

Die ouer spreek egter ook waardering uit teenoor die skool, wat leerders volgens haar reeds van graad 11 af voorberei word om die druk van veeleisende eksamenroosters beter te hanteer.

Die SOS het in Junie 2026 ‘n formele skrywe aan dr. Rufus Poliah, hoofdirekteur van Nasionale Assessering en Openbare Eksamens, versoek dat die rooster hersien word om onnodige druk op leerders te beperk.

Die organisasie het ook kommer uitgespreek oor ander vakke wat op dieselfde dag geskryf word, waaronder Afrikaans Huistaal Vraestel 3 en Geskiedenis Vraestel 1 op 20 Oktober, wat saam ses uur se skryftyd behels.

Vir leerders wat vir eksamentoegewings kwalifiseer, kan die druk selfs groter wees. Waar ‘n leerder vyftien minute ekstra skryftyd per uur ontvang, kan twee drieuurvraestelle tot sewe en ‘n half uur se skryftyd op een dag beteken.

“By die SOS is die ontwikkeling van die geheelkind vir ons ononderhandelbaar. ‘n Eksamenrooster moet daarom nie net rondom ‘n kalender beplan word nie, maar ook ouderdomsgepaste druk, emosionele welstand, voorbereidingstyd, voldoende rus en verstandelike moegheid in ag neem,” sê Bellingan.

Die SOS beklemtoon dat eksamentoegewings bedoel is om leerders met bepaalde leer- en assesseringshindernisse ‘n billike geleentheid te bied. Toegewings behoort nie deur ‘n oorvol rooster ondermyn te word nie.

Vorige eksamenfoute mag nie herhaal word nie

Benewens die rooster vertrou die SOS dat die departement uit vorige eksamenfoute geleer het en voldoende voorsorg getref het om soortgelyke probleme vanjaar te voorkom.

Foutiewe Wiskunde vrae moes al uit die nasienproses verwyder word en drukfoute is in Fisiese Wetenskappe en Siviele Tegnologie, asook gebrekkige vertaling in die Afrikaanse Geografievraestel, uitgewys.

Die uitlek van sewe vraestelle tydens die 2025-eksamen het verdere kommer oor die beveiliging van eksamenmateriaal laat ontstaan.

Die SOS verwelkom die departement se bevestiging dat ‘n 24-uur-aanmeldingslyn vir vermoedelike eksamenbedrog en onreëlmatighede beskikbaar is en moedig skole, ouers en leerders aan om enige verdagte aktiwiteite aan te meld.

Die organisasie beklemtoon egter dat voorkoming voorkeur moet geniet. Vraestelle moet deeglik gemodereer word, vertalings moet akkuraat wees en onreëlmatighede moet vinnig en deursigtig hanteer word.

“Leerders wat deur die jaar hard gewerk en met toewyding vir hul eindeksamen voorberei het, verdien die gemoedsrus dat hul uitslae ‘n billike weerspieëling van hul kennis en harde werk sal wees en dat hulle met trots kan terugkyk op goeie punte wat hulle op eie meriete behaal het,” meen dr. Leandie Bräsler, skolenetwerkbouer van die SOS.

Onderwysgehalte behels meer as ‘n slaagsyfer

Die SOS verwelkom minister Gwarube se erkenning dat die gehalte van Suid-Afrika se onderwysstelsel nie bloot aan die jaarlikse matriekslaagsyfer gemeet kan word nie, asook haar voorneme om ‘n groter verskeidenheid aanwysers te gebruik om onderwysprestasie te beoordeel.

Volgens die organisasie moes hierdie verskuiwing lankal plaasgevind het.

Die laaste landswye Jaarlikse Nasionale Assesserings (ANA) is in 2014 afgeneem. Hoewel beperkte assesserings daarna plaasgevind het, is die oorspronklike jaarlikse ANA-program nie hervat nie.

Suid-Afrika beskik gevolglik nie meer oor dieselfde jaarlikse, landswye ANA-maatstaf waarmee leerders se taal- en wiskundeprestasie oor opeenvolgende jare vergelyk kan word nie.

“Gereelde, betroubare assessering is noodsaaklik om leeragterstande vroegtydig te identifiseer. Die sukses van die onderwysstelsel kan nie eers aan die einde van graad 12 bepaal word nie,” sê Bräsler.

Terwyl die 2026-eindeksamen vandag begin, bedank die SOS die onderwysers, skoolhoofde, ondersteuningspersoneel en ouers wat matrikulante met toewyding op hul skoolreis begelei het.

Die organisasie moedig leerders aan om hul voorbereiding verstandig te bestuur, voldoende rus te kry en met selfvertroue die eksamen aan te pak.

Vir media navrae: Dr. Leandie Bräsler | [email protected]

Teken in op ons nuusbrief