21 Oktober 2026
Miljoene rande se onderwysgeld vloei terug na die Nasionale Tesourie terwyl skole sukkel om kop bo water te hou. Die SOS eis dat amptenare vir die onderbesteding en gebrekkige finansiële bestuur aanspreeklik gehou word.
Die terugbetaling van sowat R630 miljoen se onbestede onderwysfondse aan die Nasionale Tesourie, te midde van ernstige finansiële druk op skole, plaas opnuut die kollig op die bestuur van Suid-Afrika se onderwysbegroting.
Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) sê die terugbetaling is onaanvaarbaar terwyl skole sukkel om noodsaaklike uitgawes te dek en provinsiale onderwysdepartemente versuim om hul finansiële verpligtinge na te kom.
“Dit help nie die regering bewillig miljarde rande vir onderwys as die geld nie uiteindelik die skole en leerders bereik waarvoor dit bedoel is nie. Elke rand wat weens swak beplanning en bestuur onbestee bly, verteenwoordig ’n verlore geleentheid om onderwys te verbeter,” sê Melanie Buys, hoof van Ontwikkeling by die SOS.
Die parlementêre Gekose Komitee oor Onderwys, Wetenskap en die Kreatiewe Nywerhede het op 21 Oktober kommer uitgespreek oor die sowat R630 miljoen aan voorwaardelike toelaes wat die Departement van Basiese Onderwys (DBO) aan die Nasionale Tesourie terugbetaal het.
Die komitee verlang antwoorde oor waarom die geld nie bestee of, waar toepaslik, herprioritiseer is om dringende onderwysbehoeftes aan te spreek nie. Hieronder tel skoolinfrastruktuur, sanitasie, die nakoming van norme en standaarde en ondersteuning aan die grondslagfase.
Die omvang van die bedrag is kommerwekkend. Teen ’n beraamde jaarlikse indiensnemingskoste van R700 000 per onderwyser is R630 miljoen gelykstaande aan die koste van ongeveer 900 onderwysposte vir ’n jaar. Hoewel voorwaardelike toelaes nie sonder meer vir salarisse aangewend mag word nie, illustreer die vergelyking hoeveel geld nie vir die beoogde onderwysdoeleindes benut is nie.
Volgens die SOS word die probleem vererger deur provinsiale onderwysdepartemente wat nie hul statutêre betalingsverpligtinge teenoor skole nakom nie.
In Gauteng het talle skole teen die voorgeskrewe betaaldatum van 15 Mei 2026 minder as 3% van hul jaarlikse staatstoewysings ontvang. Dit volg nadat die Gautengse Onderwysdepartement (GDO) reeds toewysings aan kwintiel 5-skole met ongeveer twee derdes verminder het.
Die gevolge word daagliks in klaskamers en skoolbegrotings gevoel. Noodsaaklike instandhouding word uitgestel, aankope van handboeke en leermateriaal word beperk en skole moet hul reserwefondse gebruik om bedryfskoste te dek. Selfs poste van onderwysers wat deur skoolbeheerliggame aangestel word, kom onder druk.
SOS en Solidariteit het gevolglik op 16 September 2026 ’n petisie aan die Parlement oorhandig waarin hulle versoek dat stappe gedoen word om ingryping ingevolge artikel 100 van die Grondwet in die administrasie van die GDO te bewerkstellig.
“Dit is ’n skreiende teenstrydigheid. Op nasionale vlak word miljoene rande terugbetaal omdat dit nie bestee is nie, terwyl skole op provinsiale vlak moet baklei om geld te ontvang waarop hulle wetlik geregtig is. In albei gevalle dra leerders, onderwysers en ouers die gevolge,” sê Buys.
Die SOS verwelkom die parlementêre komitee se optrede, maar waarsku dat verduidelikings alleen nie voldoende is nie.
Die organisasie eis ’n volledige ondersoek na die redes vir die onderbesteding, die projekte wat daardeur geraak is en die amptenare wat vir die beplanning en uitvoering daarvan verantwoordelik was. Dieselfde aanspreeklikheid moet volgens die SOS geld vir provinsiale departemente wat versuim om skole betyds te betaal.
“Swak finansiële bestuur in die onderwys is nie bloot ’n administratiewe mislukking nie. Dit ontneem kinders van onderwysgeleenthede wat hulle nooit weer kan terugkry nie. Die tyd vir verskonings is verby. Amptenare moet verantwoordelikheid aanvaar wanneer hulle nie hul pligte nakom nie. Ons kinders se toekoms kan nie die prys vir onbevoegde bestuur wees nie,” sluit Buys af.
Vir medianavrae: Melanie Buys, hoof van ontwikkeling | 076 850 3157 | [email protected]