Deur Melanie Kroukamp

Ons praat gereeld oor kinders wat nie skoolgereed is nie, maar het ons al ooit gewonder of ons gemeenskappe genoeg doen om kinders die geleentheid te gee om skoolgereed te word?
As Pretorianer het ek tydens ’n besoek aan Somerset-Wes iets ontdek wat my behoorlik laat dink het. Ek het vroeër tydens ’n kongres die eerste keer van ’n speelgoedbiblioteek gehoor, en ek moet erken dat my brein destyds behoorlik ERROR 404 uitgegooi het. Hoe op aarde werk ’n speelgoedbiblioteek?!
Ek het toe self by CHEAfrica se Milkwood-speelgoedbiblioteek in Somerset-Wes gaan inloer, en skielik het die hele konsep vir my sin gemaak. Dit werk basies soos ’n gewone biblioteek, behalwe dat jy speelgoed in plaas van boeke uitneem. Gesinne kan teen ’n bekostigbare lidmaatskapfooi opvoedkundige speelgoed en speletjies leen, dit tuis gebruik en weer terugbring.
Die biblioteek is in ’n ou huis ingerig waar elke vertrek iets anders bied, van speelgoed vir babas en opvoedkundige speletjies tot ’n hele LEGO-kamer! Die LEGO mag nie uitgeneem word nie, want ons weet mos daardie klein blokkies het ’n talent om spoorloos te verdwyn. Die interessante deel van my besoek was egter nie die speelgoed nie, maar wat CHEAfrica daarmee regkry.
Dink aan ’n klein, onafhanklike kleuterskool in ’n gemeenskap waar hulpbronne beperk is. Die onderwyser weet hoe belangrik fantasie-, konstruksie- en ontdekkingspel vir kinders se ontwikkeling is, maar die skool beskik eenvoudig nie oor voldoende speelgoed of ingerigte speelareas nie. ’n Speelgoedbiblioteek kan toegang tot hierdie hulpbronne skep sonder dat elke kleuterskool alles self hoef aan te koop.
CHEAfrica neem die konsep selfs verder deur kleuterskole met speelgoedrotasies, opleiding en praktiese ondersteuning te help. Dit gaan dus nie bloot oor speelgoed uitleen nie, maar oor leergeleenthede wat andersins moontlik buite kinders se bereik sou wees.
Volgens UNICEF speel spel ’n belangrike rol in kinders se kognitiewe, fisieke, sosiale en emosionele ontwikkeling. Terwyl kinders bou, sorteer, ontdek, onderhandel en sommer net lekker speel, ontwikkel hulle vaardighede wat later die grondslag vir formele leer vorm.
Ons is dikwels so bekommerd oor kinders wat nie gereed is vir graad 1 nie, dat ons vergeet om te vra of hulle genoeg geleenthede gehad het om die nodige vaardighede te ontwikkel.
Dit is waar ek die grootste potensiaal vir samewerking tussen onafhanklike kleuterskole, gemeenskappe en organisasies soos die Skoleondersteuningsentrum (SOS) sien. Wat daarvan as ’n speelgoedbiblioteek nie net ’n plek is waar speelgoed geleen word nie, maar ook ’n gemeenskapsentrum waar ouers ondersteuning ontvang, onderwysers praktiese opleiding kry en plaaslike entrepreneurs geleenthede skep om vroeëkinderontwikkeling te bevorder?
Stel jou voor dat ’n gemeenskapsentrepreneur so ’n biblioteek bestuur, verskeie kleuterskole van hulpbronne voorsien en terselfdertyd ’n netwerk van ouers, onderwysers en gemeenskapsvennote help bou. Skielik praat ons nie meer net oor speelgoed nie, maar oor ’n moontlike volhoubare model wat toegang tot vroeë leer kan vergroot.
Dit is juis die waarde van ’n sterk onderwysnetwerk: mense en organisasies wat hul kundigheid, hulpbronne en geleenthede saambring om iets te bereik wat hulle nie noodwendig alleen sou kon doen nie.
Ek het Somerset-Wes verlaat met een groot vraag wat steeds in my kop draai: As ons weet hoe belangrik spel vir skoolgereedheid is, waarom maak ons dit nie vir meer kinders toeganklik nie? Gauteng, ek dink ons moet begin gesels oor speelgoedbiblioteke!
