Blog

Wat kan Suid-Afrika by Finland en Nederland se skole leer?

Deur dr. Hanrie Bezuidenhout

Dr. Hanrie Bezuidenhout, Kurrikulumspesialis

Internasionale onderwysbesoeke gaan nie daaroor om ander lande se onderwysmodelle na te boots nie, maar om nuwe idees te ontdek, ons eie denke uit te daag en te vra: Wat kan ons in Suid-Afrika anders en beter doen? Wat gebeur wanneer ons buite die grense van Suid-Afrika gaan kyk hoe kinders in ander lande leer? Ons ontdek dikwels dat ons meer in gemeen het as wat ons dink, maar ook dat daar heelwat is wat ons by mekaar kan leer.

Maryke Bellingan en dr. Hanrie Bezuidenhout van die Skoleondersteuningsentrum (SOS) het vanjaar Finland en Nederland besoek om juis hierdie vraag te ondersoek. Hulle besoek het twee hoofdoelwitte gehad: om deel te neem aan internasionale navorsingsgesprekke oor leer en onderrig, en om eerstehands te ervaar hoe skole in dié lande kinders vir die toekoms voorberei.

Die eerste deel van die besoek het hulle na Helsinki geneem, waar hulle ’n byeenkoms van die European Association for Research on Learning and Instruction (EARLI) oor spesiale leerbehoeftes bygewoon het. Een van die SOS se kernbeginsels is dat kurrikulumontwikkeling en onderrigpraktyke op betroubare navorsing gegrond moet wees. Daarom is internasionale konferensies van groot waarde. Dit bied nie net die geleentheid om op hoogte van die jongste navorsing te bly nie, maar ook om deel te neem aan gesprekke met navorsers en kundiges wat soortgelyke uitdagings in ander lande probeer oplos.

Maryke en Hanrie het ook die Active Numeracy-navorsingsgroep aan die Universiteit van Helsinki besoek, met wie hulle reeds ’n gevestigde verhouding het. Die gesprekke het onder meer gefokus op hoe sekere beginsels van die Finse onderwysstelsel binne die Suid-Afrikaanse konteks toegepas kan word. ’n Belangrike vraag het telkens na vore gekom: Hoe verseker ons dat navorsing werklik ’n verskil in die klaskamer maak? Navorsing is immers konteksgebonde. Net omdat ’n bepaalde onderrigbenadering in Finland werk, beteken dit nie dat dit noodwendig dieselfde resultate in Suid-Afrika sal oplewer nie. Ons kinders, gemeenskappe, tale, beskikbare hulpbronne en onderwysomstandighede verskil.

Die waarde lê dus nie daarin om ’n ander land se model net so oor te neem nie, maar om die beginsels daaragter te verstaan. Waarom werk iets? Watter probleem probeer dit oplos? Wat kan ons uit hul suksesse én foute leer? En hoe kan ons hierdie kennis gebruik om ons eie onderwyspraktyke te verbeter?

Een van die mees opvallende kenmerke van die Finse onderwysbenadering is die sterk fokus op basiese vaardighede soos lees, skryf, wiskunde, probleemoplossing en kritiese en kreatiewe denke. Verder spandeer die kinders in die Finse skole wat hul besoek het, 30% van hul ontwikkelingstyd aan maak-vaardighede soos naeldwerk, kuns, houtwerk, swysvaardighede, elektriese vaardighede en so meer. Hierdie vakke ontwikkel nie net ambagsvaardighede nie, maar veral toekomsvaardighede soos kommunikasie, hoe om met empatie terugvoer op jou eie en ander se produkte te kan gee, hoe om planne te evalueer en te verbeter en hoe om tegnologie en kunsmatige intilligensie op ouderdomsgepaste wyses in maak-vaardighede te inkorporeer. Kinders kry geleenthede om met hul hande te werk, te ontwerp, te bou, te eksperimenteer en te skep. Wanneer ’n kind iets ontwerp en maak, leer hy om probleme op te los, planne te beraam, foute reg te stel en aan te hou probeer wanneer iets nie die eerste keer werk nie. Hy leer ook om met ander saam te werk, terugvoer te gee en te ontvang, en sy eie werk krities te evalueer.

Interessant genoeg hoef tegnologie en kunsmatige intelligensie nie hierdie praktiese leerervarings te vervang nie. Dit kan eerder doelbewus en op ouderdomsgepaste maniere gebruik word om kinders se ontwerp-, denk- en skeppingsprosesse te ondersteun. Kinders moet dus nie net leer om kennis te onthou nie. Hulle moet ook leer om kennis te gebruik om iets te skep.

In Nederland word die wêreld buite die skool deel van die klaskamer. Hierdie gedagte het sterk aangesluit by wat Maryke en Hanrie tydens hul besoek aan Technasium-skole in Nederland ervaar het. Een van die interessantste vakke wat hulle daar teëgekom het, is Onderzoek & Ontwerpen (O&O), oftewel Ondersoek en Ontwerp. In hierdie vak kry kinders die geleentheid om aan werklike probleme te werk wat deur eksterne kliënte, soos ondernemings en organisasies, aan die skool voorgelê word.

Stel jou voor ’n onderneming nader ’n skool met ’n probleem waarvoor hulle ’n kreatiewe oplossing soek. ’n Groep van drie of vier leerders kry dan ongeveer tien weke om die probleem te ondersoek en ’n moontlike oplossing te ontwikkel. Hulle moet idees uitruil, take verdeel, met die kliënt kommunikeer, ’n begroting opstel, ’n produk of diens ontwerp en uiteindelik hul oplossing aan die kliënt voorlê. Skielik kry dit wat kinders op skool leer, ’n baie duidelike doel.

Wiskunde word gebruik om te meet, te bereken en te begroot. Taalvaardighede word ingespan om navorsing te doen, met die kliënt te kommunikeer en aanbiedings voor te berei. Wetenskaplike kennis help om materiale en prosesse te verstaan. Tegnologie word gebruik om oplossings te ontwerp en te toets. Terselfdertyd ontwikkel kinders vaardighede wat nie altyd maklik in ’n tradisionele toets gemeet kan word nie: leierskap, selfkennis, verantwoordelikheid, deursettingsvermoë, samewerking en die vermoë om konflik op te los.

Leerders voltooi verskeie projekte deur die jaar en bou mettertyd ’n portefeulje van hul werk en vaardighede op. Hierdie portefeulje vertel ’n veel ryker verhaal van ’n kind se ontwikkeling as bloot ’n reeks toetspunte. Dit wys wat die kind kan doen, waarin hy uitblink en waar daar nog ruimte vir groei is.

Die waarde van hierdie benadering lê veral daarin dat leer nie as ’n versameling losstaande vakke beleef word nie. Kinders ontdek hoe verskillende kennis- en vaardigheidsgebiede saamwerk om werklike probleme op te los. Die vraag verander van “Waarom moet ek hierdie leer?” na “Hoe kan ek dit wat ek leer, gebruik om ’n verskil te maak?”

Nog iets wat in beide lande waargeneem is, was die doelbewuste ontwerp van skole se leerruimtes. ’n Klaskamer is immers veel meer as vier mure, tafels en stoele. Die manier waarop ’n ruimte ingerig word, kan ’n invloed hê op hoe kinders leer, beweeg, saamwerk en skep.In Finland en Nederland is daar aandag gegee aan ruimtes waar kinders prakties kan werk, hul produkte kan uitstal, met mekaar kan gesels en saam oplossings kan ontwikkel. Selfs gange en buiteruimtes word as deel van die leeromgewing beskou.

Daar is ook ruimtes waar onderwysers saam kan beplan en oor vakke en grade heen kan saamwerk. Dit is veral belangrik wanneer skole geïntegreerde leerervarings wil skep waarin verskillende vakke en vaardighede bymekaar aansluit.

’n Belangrike les hieruit is dat ’n goeie leeromgewing nie noodwendig die duurste of modernste gebou vereis nie. Dit vra eerder dat ons doelbewus dink oor hoe beskikbare ruimtes kinders se ontwikkeling kan ondersteun. Soms kan ’n eenvoudige verandering aan ’n klaskamer se uitleg reeds nuwe geleenthede vir leer skep.

‘n Volgende les is dat die onderwyser die sleutel bly. Ten spyte van al die interessante programme, tegnologie en leerruimtes, het een beginsel duidelik uitgestaan: geen onderwysmodel kan suksesvol wees sonder goed toegeruste onderwysers nie. Deurlopende professionele ontwikkeling behoort daarom nie bloot ’n bykomende aktiwiteit te wees nie. Dit moet deel vorm van ’n skool se kultuur. Onderwysers het geleenthede nodig om hul vakkennis te verdiep, nuwe onderrigstrategieë te ondersoek, saam te beplan en oor hul eie praktyke te besin. Die doel is om onderwysers te ondersteun om mettertyd meesteronderwysers te word wat nie net die inhoud van hul vakke goed ken nie, maar ook verstaan hoe kinders leer en ontwikkel. Dit beteken ook dat onderwysers die professionele ruimte en verantwoordelikheid moet hê om ingeligte besluite oor hul onderrig, kinders se leer en oor assessering te neem.

Nog ’n belangrike les is die waarde van samewerking tussen skole. Waarom moet goeie idees binne die mure van een skool bly? Wanneer onderwysers en skoolbestuurders oor skoolgrense heen kennis en ervaring uitruil, ontstaan nuwe geleenthede vir groei.

Wat neem ons saam huis toe?

Die besoek het ’n paar belangrike beginsels bevestig wat ook vir Suid-Afrikaanse skole waardevol kan wees.

  • Bou ’n sterk grondslag. Lees, skryf, wiskunde en probleemoplossing bly die kern van ‘n goeie onderrigsisteem. Sonder hierdie vaardighede is dit moeilik vir kinders om nuwe kennis te verwerf en onafhanklik te leer.
  • Gee vir kinders meer geleenthede om te maak, te ontwerp en te skep. Praktiese vaardighede is nie minderwaardig aan akademiese vaardighede nie. Dit bied juis geleenthede om kennis toe te pas en kreatiewe denke te ontwikkel.
  • Ontwikkel die hele kind. Sosiale, emosionele en selfreguleringsvaardighede behoort doelbewus aandag te kry, veral reeds in die vroeë kinderjare. Kinders moet nie net akademies groei nie, maar ook leer om hulself te verstaan, met ander saam te werk en verantwoordelikheid te aanvaar.
  • Maak leer betekenisvol. Wanneer kinders aan werklike probleme werk, begin hulle die waarde van hul kennis en vaardighede raaksien. Leer word dan iets wat hulle aktief doen, eerder as iets wat bloot met hulle gebeur.
  • Belê in onderwysers en samewerking. Goeie onderrig ontwikkel nie vanself nie. Dit verg professionele groei, ondersteuning, refleksie en die bereidwilligheid om van ander te leer.

 

Ons hoef nie Finland of Nederland te word nie. Dit is maklik om ná ’n internasionale besoek opgewonde terug te keer met ’n lang lys idees wat ons graag in Suid-Afrika wil toepas. Maar ons moet versigtig wees om nie te dink dat daar iewers in die wêreld ’n perfekte onderwysmodel bestaan wat ons bloot kan invoer nie. Suid-Afrika is ’n land met ’n besondere taal- en kultuurdiversiteit, uiteenlopende sosio-ekonomiese omstandighede en unieke onderwysuitdagings. Ons moet ook erken dat daar reeds baie goeie onderwyspraktyke en vernuwende idees in ons eie skole bestaan. Wat ons wel kan doen, is om met ’n oop gemoed na ander lande te kyk, hul praktyke krities te ondersoek en die beginsels te identifiseer wat ons kan help om beter oplossings vir ons eie kinders te ontwikkel.

Vir die SOS bevestig hierdie besoek die waarde van ’n navorsingsgegronde, geïntegreerde benadering tot onderwys waarin basiese vaardighede, praktiese leerervarings, toekomsvaardighede en die ontwikkeling van die hele kind hand aan hand loop. Die grootste waarde van internasionale blootstelling lê dalk nie in die antwoorde waarmee ons terugkeer nie, maar in die nuwe vrae wat ons begin vra en in die verhoudings wat ons bou.

Uiteindelik gaan dit nie daaroor om te vra: Hoe kan ons soos Finland of Nederland onderrig gee? nie. Die belangriker vraag is: Hoe kan ons dit wat ons by ander leer, gebruik om die beste moontlike onderwys vir Suid-Afrikaanse kinders te ontwikkel?

 

Dr. Hanrie Bezuidenhout saam met prof. Uaion, prof. Korhonen en dr. Vanhala van die Active Numeracy-navorsingsgroep aan die Universiteit van Helsinki, Finland.

 

Maryke Bellingan en dr. Hanrie Bezuidenhout tydens hul besoek aan die Technasium-sentrum in Lelystad, Nederland, waar leerders deur die vak Ondersoek en Ontwerp (O&O) kreatiewe oplossings vir werklike probleme ontwikkel.

 

Leerruimtes word doelbewus ingerig om interaktiewe leer, groepwerk en samewerking tussen leerders te bevorder.

 

Finland en Nederland beklemtoon die belangrikheid van maakvaardighede, soos ambagsvaardighede, om leerders se kritiese en kreatiewe denke, probleemoplossingsvermoë, kommunikasie en sosiale en emosionele vaardighede te ontwikkel.

 

Technasium versterk doelbewus samewerking tussen skole deur streeknetwerke te vestig waar skole en personeel by mekaar kan leer. Dit vorm die grondslag van kollektiewe effektiwiteit.
Teken in op ons nuusbrief