Blog

’n Aand van stories, musiek en onthou waar ons vandaan kom.

Deur Jana Terblanche

Jana Terblanche Hoof: Vakspesialiste I Vakspesialis: Afrikaans

Die Liedjietuin by die Voortrekkermonument kon kwalik ’n meer gepaste ruimte vir die Storievertelaand “My storie. My pad. Ons vandaankom tel.” gewees het. Tussen die rose en lowergroen tuin, met die geroep van poue in die agtergrond en feetjieliggies wat teen skemeraand in die bome begin blink het, is gaste met ’n glasie sjerrie en sagte Afrikaanse agtergrondmusiek verwelkom.

Jana Terblanche, hoof van GeRAT en organiseerder van die aand, het die gaste hartlik verwelkom en die aand gepas geopen voordat die verhoog aan die storieverteller, Marika du Toit-van Heerden, behoort het.

Vir ’n volle uur het Marika die gehoor met haar egte, eerlike en boeiende vertellinge meegevoer. Haar stories oor haar eie komvandaan, die mense en plekke wat ’n mens vorm en die paaie wat elkeen van ons stap, het die tema van die aand op besondere wyse laat leef.

Tydens die pouse kon gaste verder kuier terwyl hulle heerlike verversings van Jack’s Bagels saam met ’n glasie rooi- of witwyn geniet het.

Die tweede deel van die program het die storie van die aand deur woord en musiek verder vertel. René Roux en Evarni Lee het met digkuns tot die program bygedra, terwyl Leandie Bräsler en Jolan van Vuuren die gaste met pragtige sang vermaak het.

Die aand was ook ’n besondere voorbeeld van hoe organisasies binne die beweging hande kan vat. Yolandi Theron van Helpende Hand se Studietrust het vertel van die fondse en beurse waardeur jongmense ondersteun word om verder te studeer en hul drome vlerke te gee, terwyl Karien Brits, dosent en koshuismoeder, die gaste opgewonde gemaak het oor al die verwikkelinge by Akademia.

Gaste het ook die geleentheid gehad om Marika se boek, Daar’s sand in my are, aan te skaf en persoonlik deur haar te laat onderteken.

’n Paar gelukstrekkings en dankiegeskenkies aan die gaskunstenaars en ander betrokkenes het die program op ’n vrolike noot afgesluit. Maar dalk was die mooiste kompliment van die aand die vraag wat reeds begin opklink het: “Wanneer doen ons dit weer?”

Dit lyk dus of hierdie eerste Storievertelaand dalk net die begin van ’n nuwe tradisie is – ’n geleentheid om weer saam te kom, na mekaar se stories te luister en te onthou:

My storie. My pad. Ons vandaankom tel.

 

May be an image of text
Marika du Toit-van Heerden se boek, Daar’s sand in my are. Die aand het om haar boek en persoonlike verhaal gedraai, wat sy met die gaste gedeel het.

 

May be an image of one or more people and crowd
Marika du Toit-van Heerden op die verhoog waar sy haar persoonlike verhaal met die gehoor deel.

 

May be an image of one or more people
Jana Terblanche bedank almal wat deel van die besondere aand was en tot die sukses daarvan bygedra het.

 

May be an image of one or more people
Die gehoor luister aandagtig en met groot belangstelling na Marika du Toit-van Heerden terwyl sy haar persoonlike verhaal tydens die Storievertellersaand deel.

 

Teken in op ons nuusbrief