Blog

Van punte tot blokkies: Só het die SOS se Wes-Kaap-minikongres praktiese leer bevorder

Deur Kayla Roets, Jana Terblanche, Melanie Kroukamp en Ané Janse van Rensburg

Kayla Roets, Kommunikasie intern
Jana Terblanche Hoof: Vakspesialiste I Vakspesialis: Afrikaans
Melanie Kroukamp Onderwysspesialis: Kodering, Robotika en KI
Ané Janse van Rensburg Kommunikasiespesialis

Wat vertel ’n leerder se toetspunt werklik oor sy of haar begrip? Hoe ondersteun ’n onderwyser kinders wat nie teen dieselfde tempo leer nie? En wat kan ses eenvoudige blokkies ons oor kreatiewe onderrig leer?

Hierdie vrae was van die uitdagings wat tydens die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se Wes-Kaap-minikongres van 20 tot 22 Oktober 2026 by Laerskool Drakenstein in die Paarl aandag geniet het.

Onder die tema Van strategie tot sukses, het die driedaagse minikongres onderwysers aangemoedig om verder as teorie te dink en praktiese strategieë te ondersoek wat hulle in hul eie klaskamers kan toepas.

Dag 1: Van punte na planne

Die eerste dag, onder die tema Assessering in aksie, het gefokus op hoe assessering meer kan wees as bloot die toekenning van punte.

Onderwysers het wegbreeksessies in Afrikaans Huistaal, Wiskunde, die Grondslagfase en Kodering en Robotika bygewoon, waar hulle ondersoek het hoe assesseringsresultate gebruik kan word om leerdervordering beter te ondersteun.

Jana Terblanch, wat die Afrikaans Huistaal-sessies aangebied het, het deelnemers tydens haar eerste sessie, Van punt na plan, aangemoedig om anders oor assessering te dink.

’n Punt op ’n rapport vertel immers net ’n gedeelte van ’n leerder se verhaal. Agter elke antwoord lê leidrade oor wat reeds bemeester is, waar onsekerheid bestaan en watter ondersteuning nog nodig mag wees.

Wanneer onderwysers hierdie inligting doelgerig gebruik, word assessering ’n hulpmiddel waarmee hulle hul onderrig kan aanpas en leerders beter kan ondersteun.

Die sessie het ook ’n praktiese element ingesluit toe onderwysers aan ’n interaktiewe Plickers-aktiwiteit deelgeneem het. Deur self die tegnologie te gebruik, kon hulle eerstehands ervaar hoe vinnig terugvoer verkry en leerderbegrip gepeil kan word.

Volgens Terblanch was die deelnemers se entoesiasme, spontane deelname en bereidwilligheid om hul eie ervarings te deel van die hoogtepunte van die opleiding.

Dag 2: Van leerhindernisse na praktiese ondersteuning

Op die tweede dag het die tema Ondersteun elke leerder sentraal gestaan.

Deelnemers het wegbreeksessies in Afrikaans Huistaal, Wiskunde, die Grondslagfase en Kunsmatige Intelligensie bygewoon.

Tydens Terblanch se tweede sessie, Van hindernis na hulp, het onderwysers in groepe saamgewerk om ondersteuningstrategieë vir verskillende leerderprofiele te ontwikkel.

In plaas daarvan om bloot na ’n lys uitdagings te luister, moes deelnemers self oplossings voorstel, idees met mekaar bespreek en nadink oor hoe hierdie strategieë in hul eie klaskamers toegepas kan word.

Een van die uitdagings wat telkens na vore gekom het, was leerders se beperkte woordeskat en gebrekkige leesbegrip.

Hierdie probleme raak nie net die Afrikaansklaskamer nie. Wanneer ’n leerder sukkel om ’n vraag te verstaan of betekenis uit ’n teks af te lei, kan dit ook sy of haar prestasie in ander vakke beïnvloed.

Die sessie het daarom gefokus op praktiese maniere om woordeskatontwikkeling te bevorder, afleidingsvaardighede te versterk en leerders te help om met groter begrip te lees.

Vir Terblanch was die samewerking tussen onderwysers een van die waardevolste aspekte van die dag. Deelnemers kon nie net by die aanbieder leer nie, maar ook by kollegas wat met soortgelyke uitdagings in hul eie klaskamers te doen kry.

Dag 3: Ses blokkies ontsluit nuwe leermoontlikhede

Die derde en laaste dag het ’n meer kreatiewe leerervaring gebied toe 55 onderwysers aan die Six Bricks-vlak 1-werkswinkel onder leiding van Melanie Kroukamp deelgeneem het.

In plaas daarvan om net te hoor hoe spel as onderrigmetode gebruik kan word, het deelnemers self gebou, gedink, ontdek, saamgewerk en gelag.

Die aktiwiteite het gewys hoe Six Bricks gebruik kan word om onder meer taalontwikkeling, kommunikasie, samewerking, aandag, geheue, kreatiwiteit en probleemoplossing te bevorder.

Wat die benadering besonder prakties maak, is dat dit maklik by verskillende leeraktiwiteite aangepas kan word. Onderwysers hoef dus nie noodwendig hul hele onderrigbenadering te verander om nuwe leergeleenthede te skep nie.

Die deelnemers se terugvoer het ook op ’n besonder positiewe ervaring gedui. Van die 55 onderwysers wat die werkswinkel bygewoon het, het 36 terugvoer gegee. Die gemiddelde beoordeling was 9,1 uit 10, terwyl 78% van die respondente die opleiding met 9 of 10 uit 10 beoordeel het.

Vir Kroukamp het die waarde van die werkswinkel egter verder as die syfers gestrek. Dit het gegaan oor die praktiese idees waarmee onderwysers huis toe kon gaan en die moontlikhede wat hulle nou in hul eie klaskamers kon ondersoek.

Agter elke sterk skool, staan ‘n sterk skoolbestuur

Benewens die klaskamergerigte opleiding het die SOS op 22 Oktober ook ’n afsonderlike bestuursopleidingsessie aangebied.

Hugo Vermeulen, hoof van opleiding by die SOS, het die sessie vir skoolhoofde, adjunkhoofde, skoolbestuurders en beheerliggaamlede aangebied. Altesaam 18 deelnemers, van wie die meerderheid skoolhoofde was, het dit bygewoon.

Die opleiding het gefokus op praktiese oplossings om skoolbestuur, kommunikasie en organisasiekultuur te versterk.

Onderwerpe soos gesonde kommunikasie, bestuursbelyning, doeltreffende tydsbestuur en konflikhantering het deel van die gesprekke gevorm.

Deelnemers is aangemoedig om die beginsels prakties toe te pas, hul eie bestuurspraktyke te ondersoek en saam oor moontlike verbeterings te besin.

Die sessie het beklemtoon dat doeltreffende skoolbestuur oor meer as vergaderings, roosters en administrasie gaan. Dit behels ook die skep van ’n omgewing waarin onderwysers hul werk met vertroue kan verrig.

Van die werkswinkel na die klaskamer

Wat die drie dae se opleiding verbind het, was die klem op praktiese toepassing.

Of dit nou gegaan het oor ’n beter manier om assesseringsresultate te gebruik, ondersteuning vir leerders met leesprobleme, kreatiewe leer deur spel of sterker skoolbestuur, deelnemers is aangemoedig om die kennis en vaardighede wat hulle opgedoen het, in hul eie skole toe te pas.

Vir die SOS is dit juis waaroor betekenisvolle onderwyserontwikkeling gaan: om onderwysers en skoolleiers toe te rus met praktiese kennis, vaardighede en hulpmiddels wat hulle in hul daaglikse werk kan ondersteun.

Die werklike waarde van die Wes-Kaap-minikongres sal uiteindelik nie net gemeet word aan wat deelnemers tydens die opleiding geleer het nie, maar ook aan hoe hulle hierdie kennis in hul klaskamers en skole toepas.

Teken in op ons nuusbrief