Blog

Meet om te verbeter: Die waarde van basislynassessering vroeg in die skooljaar

Deur Melanie Buys, Hoof van Ontwikkeling

Gehalteonderwys begin by die vermoë om betroubaar vas te stel wat leerders weet, wat hulle kan doen en waar verdere ontwikkeling nodig is. Met hierdie inligting kan skole onderrig doelgerig beplan, akademiese vordering meet en leerbehoeftes en -agterstande vroeg in die skooljaar identifiseer. Basislynassesserings stel skole ook in staat om die progressie van leerinhoud oor grade en fases te verbeter.

Internasionale assesserings soos TIMSS en PIRLS beklemtoon die belangrikheid van sistematiese meting van leeruitkomste. Die doel is nie bloot om prestasie te vergelyk of tekortkominge uit te wys nie, maar om betroubare inligting te gebruik om onderrig te verbeter en skole te versterk. Basislynassessering is ‘n spieël van die skool se huidige vermoë en ‘n kompas vir toekomstige ontwikkeling.

Neem gratis deel aan die SOS se 2027-basislynassesserings

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) bied aan alle skole in Suid-Afrika geleentheid om gratis aan die 2027-basislynassesserings deel te neem. Die assesserings vind van 15 Januarie tot 1 Maart 2027 plaas en is aanlyn beskikbaar. Die assesserings bied skole ’n waardevolle geleentheid om leerders se kennis en vaardighede vroeg in die akademiese jaar te bepaal, leeragterstande te identifiseer en doelgerigte ondersteuning te beplan.

Deelnemende skole ontvang ’n omvattende verslag wat leerders se prestasie volgens vak, graad, kognitiewe vlak en inhoudsarea uiteensit. Hierdie inligting sal skole help om sterk punte en ontwikkelingsbehoeftes te identifiseer. Die’ datastel wat skole ontvang  kan direk in SA-SAMS of D6 ingevoer word.

Die terugvoer aan individuele skole is vertroulik en word slegs aan die betrokke skoolbestuur beskikbaar gestel. Individuele skole se prestasie sal nie in die nasionale verslag gepubliseer word nie.

Die SOS sal ’n nasionale verslag vir graad 5 en 8 saamstel om prestasiepatrone en gemeenskaplike uitdagings uit te lig. Hoewel die basislynassesserings vir verskeie grade beskikbaar is, moedig die SOS skole veral aan om hul graad 5- en 8-leerders te laat deelneem. Hoe meer skole deelneem, hoe meer verteenwoordigend en waardevol sal die nasionale bevindinge wees.

Die volgende assesserings is beskikbaar:

  • Wiskunde: Graad 4-10, in Afrikaans en Engels.
  • Afrikaans Huistaal: Graad 5-10.  

Hoe registreer skole?

Skole kan reeds vir die 2027-basislynassesserings registreer deur die aanlyn inskrywingsvorm te voltooi.

Gee jou skool én leerders ’n voorsprong in 2027

  • Verbeter onderrig deur betroubare data. Gebruik assesseringsresultate om onderrigbeplanning en leerondersteuning op leerders se werklike behoeftes te fokus.
  • Versterk taal- en wiskundevaardighede. Leesbegrip, taalvaardigheid en gesyferdheid vorm die grondslag vir suksesvolle leer in feitlik alle vakke.
  • Ondersteun akademiese beplanning. Identifiseer patrone en ontwikkelingsbehoeftes oor klasse en grade heen en gebruik die bevindinge om meetbare akademiese doelwitte te stel.
  • Identifiseer leeragterstande vroegtydig. Bepaal watter inhoud en kognitiewe vlakke leerders reeds bemeester het en waar doelgerigte ondersteuning nodig is.
  • Bou ‘n breër beeld van onderwysgehalte. Hoe meer openbare en onafhanklike skole deelneem, hoe waardevoller word die gesamentlike data om prestasiepatrone en gemeenskaplike uitdagings te identifiseer.

Waarom is basislynassessering so belangrik?

Internasionale navorsing dui op kommerwekkende uitdagings wat leerders se leesbegrip en vermoë om inligting krities te interpreteer, betref. In ‘n wêreld waarin kunsmatige intelligensie toegang tot inligting toenemend vergemaklik, word die vermoë om selfstandig te lees, te redeneer, verbande raak te sien en probleme op te los al belangriker.

 Tegnologie kan leer ondersteun, maar nie die denkprosesse vervang waardeur leerders kennis en begrip ontwikkel nie. Basislynassesserings help skole om vroegtydig leeragterstande én besondere prestasies te identifiseer, goeie onderrigpraktyke uit te lig en leergeleenthede doelgerig te beplan. Só word voortgebou op leerders se sterk punte, terwyl tekortkominge aangespreek word om ’n stewige grondslag vir verdere leer, kritiese denke en probleemoplossing te vestig.

‘n Belegging in beter onderwys

Matriekuitslae is tans die enigste barometer van Suid-Afrika se onderwysstelsel en skole se standaard. Daar is egter min geleentheid om agterna veel te doen vir leerders wat reeds aan die einde van hulle skoolloopbaan gekom het.

Die SOS moedig soveel moontlik openbare en onafhanklike skole aan om jaarliks aan die SOS se basislynassesserings deel te neem. Breë deelname sal individuele skole se akademiese beplanning versterk en waardevolle insig bied in die stand van taal- en wiskundevaardighede in deelnemende skole landwyd.

Die waarde van basislynassessering lê uiteindelik nie in die punte wat individuele leerders behaal nie, maar in wat skole met die resultate doen om onderrig en leer te verbeter.

Meet wat saak maak. Identifiseer wat aandag nodig het. Verbeter wat moontlik is. Neem deel aan die SOS se jaarlikse basislynassesserings en help bou aan ‘n sterker grondslag vir gehalteonderwys in Suid-Afrika.

Registreer jou skool hier

Teken in op ons nuusbrief