Blog

77 000 kinders sonder skoolplek: ’n Aanlynstelsel kan nie besluite neem wat die GDO al jare lank vermy nie

16 November 2026

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) waarsku dat die Gautengse Departement van Onderwys (GDO) se plasingskrisis vir 2027 nie aan ’n rekenaarstelsel, ouers of bevolkingsgroei toegeskryf kan word nie. Volgens die SOS is dit die voorspelbare gevolg van ’n gesentraliseerde plasingsmodel wat besluite uit die hande van ouers en skole neem, asook jare se versuim om disfunksionele skole reg te ruk en goeie skole te bou waar dit nodig is.

Volgens syfers wat Lebogang Maile, Gauteng se LUR vir onderwys, op 15 November bekend gemaak het, het die GDO 346 495 aansoeke vir graad 1 en graad 8 ontvang. Teen 11 November was 267 742 leerders geplaas, terwyl 77 414 nog ongeplaas was. Hiervan is ongeveer 46 000 graad 8-leerders. Meer as ’n maand nadat die eerste plasingsaanbiedinge uitgestuur is, weet ongeveer een uit elke vyf gesinne steeds nie waar hul kind volgende jaar skoolgaan nie.

’n Stelsel doen net waarvoor mense dit vra

Die GDO verdedig sy aanlynstelsel deur daarop te wys dat dit voedingsgebiede, woon- of werksadresse en broers en susters in ag neem. Volgens die SOS spreek dié verduideliking egter nie die kern van die probleem aan nie.

“’n Aanlynstelsel is bloot ’n instrument. Dit kan en moet presies doen waarvoor die mense wat dit ontwerp en bestuur, vra. Dit kan nie klaskamers bou, onderpresterende skole regruk of ouers se vertroue herwin nie,” sê Leon Fourie, uitvoerende hoof van die SOS. “Wanneer die departement elke jaar sy toevlug neem tot die stelsel en die getalle, verberg dit die werklike vraag: Waarom is daar nog steeds nie genoeg goeie skole waar gesinne woon nie?”

Sentralisering neem die besluit weg van ouers en skole

Volgens die SOS lê die grootste probleem by die sentralisering van skoolplasings. Skole en hul beheerliggame ken hul gemeenskappe, hul kapasiteit en die gesinne wat hulle bedien. Ouers ken hul kinders. Tog word die finale besluit al hoe meer deur distrikskantore en ’n provinsiale stelsel geneem, ver van die mense wat met die gevolge moet saamleef.

Die GDO bevestig dat 278 van die 2063 openbare skole in Gauteng hul kapasiteit bereik het. Leerders wat nie in daardie skole plek gekry het nie, sal na “die naaste skool met beskikbare plek” oorgeplaas word. Die LUR het ook erken dat die meer as 139 000 beskikbare skoolplekke nie noodwendig by skole is waar die aanvraag die grootste is nie.

“Gauteng het op makrovlak genoeg plek.” sê Fourie, “Die probleem is dat ouers tereg weier om hul kinders na skole te stuur waar onderrig en dissipline swak is. Om ’n kind administratief na die ‘naaste skool met plek’ te stuur, is nie ’n oplossing nie. Dit skuif die probleem net na die gesin en die skool wat dit moet hanteer.”

Elke jaar dieselfde verrassing

Die SOS wys daarop dat hierdie krisis nie nuut is nie. Vroeg in Januarie 2026 was byna 5000 leerders steeds ongeplaas. Die finale plasings is eers op 13 Maart 2026 afgehandel, byna twee maande nadat die skooljaar begin het.

“Die GDO weet al jare lank watter skole disfunksioneel is en in watter gebiede goeie skole dringend nodig is. Die data is in sy eie stelsels,” sê Fourie. “Tog skrik die departement elke jaar wakker wanneer dit te laat is om die probleem wesenlik aan te spreek. Kinders en hul ouers betaal die prys.”

SOS vra dringende optrede

Die SOS doen ’n dringende beroep op die GDO om:

  1. plasingsbesluite terug na skole te bring en skoolbeheerliggame se rol in toelating te respekteer, eerder as om plasings verder te sentraliseer;
  2. ’n openbare, tydgebonde plan bekend te maak om onderpresterende skole in hoëdrukgebiede soos Ekurhuleni, Johannesburg-Oos en Tshwane reg te stel;
  3. infrastruktuur te beplan en te bou waar die aanvraag werklik is, gebaseer op die departement se eie aansoekdata van die afgelope jare;
  4. ’n vaste datum te bevestig waarteen alle leerders wat betyds aansoek gedoen het, geplaas sal wees, in plaas van die LUR se oop belofte: “totdat alle leerders geplaas is”.

Vir medianavrae: Ané Janse van Rensburg, Kommunikasiespesialis | 076 593 6468 | [email protected]

Teken in op ons nuusbrief