Deur Melanie Buys, Hoof van Ontwikkeling
“Die wêreld is Engels, daarom moet my kind sommer van kleins af in ’n Engelse skool wees.”
Klink dit bekend? Baie ouers redeneer só, met die beste bedoelings. Hulle wil immers hê hul kinders moet eendag internasionaal kan meeding. Wanneer ouers ‘n skool kies, is die belangrikste vraag egter nie in watter taal hul kind eendag gaan werk nie, maar in watter taal hul kind die beste gaan leer.
1. Taal is deel van identiteit
Taal is veel meer as ’n kommunikasiemiddel. Dit beïnvloed hoe kinders dink, leer, hulself uitdruk en hul plek in die wêreld verstaan. Kinders wat in hul moedertaal skoolgaan, voel makliker tuis, neem met groter selfvertroue aan klasgesprekke deel en identifiseer sterker met die skoolkultuur.
Moedertaalonderrig versterk ook ouerbetrokkenheid. Volgens die Wêreldbank (2005) neem ouers en gemeenskappe makliker aan skoolaktiwiteite deel wanneer onderrig in hul eie taal plaasvind.
Kinders wat veilig in hul eie taal en identiteit voel, kan ook met groter vrymoedigheid ander inheemse tale en kulture leer ken. Daarom behoort die aanleer van nóg ’n Suid-Afrikaanse inheemse taal aangemoedig te word.
2. Bewese voordele van moedertaalonderrig
UNESCO erken die belang van moedertaalonderrig as ’n internasionaal gevestigde onderwysbeginsel.
’n Vergelyking van wêreldkaarte toon ’n opvallende ooreenkoms tussen hoë-inkomstelande en lande waar die meerderheid kinders tot op hoërskoolvlak moedertaalonderrig ontvang. Hoewel verskeie faktore ekonomiese welvaart bepaal, beklemtoon hierdie verband die rol van taal in gehalteonderwys.
Op plaaslike bodem bied Afrikaanse skole ’n treffende voorbeeld van die belangrike rol wat moedertaalonderrig speel. Volgens die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se matriekverslag was Afrikaanse skole se gemiddelde slaagsyfer steeds heelwat hoër as die rekord nasionale slaagsyfer van 88% in 2025. Die top tien skole wat landwyd die meeste matriekonderskeidings behaal het, was boonop almal Afrikaanse skole.
Hierdie prestasie weerspieël natuurlik ook die waarde van goeie skoolbestuur, toegewyde onderwysers en ’n kultuur van uitnemendheid.
3. Moedertaalonderrig sluit nie meertaligheid uit nie
Moedertaalonderrig beteken allermins dat kinders net een taal moet ken. Inteendeel, ’n sterk moedertaalgrondslag vergemaklik die aanleer van konsepte in ’n tweede of derde taal. Wanneer ’n kind byvoorbeeld breuke, fotosintese of ekonomiese beginsels in Afrikaans verstaan, hoef daardie begrippe nie van voor af in Engels aangeleer te word nie. Die kennis bestaan reeds; net die nuwe terminologie moet aangeleer word.
Engels bly ’n belangrike wêreldtaal wat elke kind goed behoort te bemeester. Die doel moet dus nie Afrikaans óf Engels wees nie, maar Afrikaans én Engels, en verkieslik nog ’n inheemse taal daarby.
4. Woordeskat is die sleutel tot begrip
’n Kind kan slegs verstaan en verduidelik waarvoor hy of sy woorde het. Daarom is ’n uitgebreide woordeskat onontbeerlik vir akademiese sukses. Navorsing deur Jessica Logan (2019) het bereken dat kinders vir wie daagliks voorgelees word, teen vyfjarige ouderdom ongeveer 1,4 miljoen meer woorde ken as kinders vir wie nooit voorgelees word nie.
Die boodskap aan ouers is eenvoudig: Lees vir jou kinders, gesels met hulle en moedig hulle aan om hul gedagtes uit te druk.
Moedertaalonderrig is net moontlik as die vaktaal bestaan. ’n Taal se akademiese woordeskat ontwikkel nie vanself nie. In 1950 is die Vaktaalburo onder die vaandel van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns gestig om Afrikaanse vakterminologie te ontwikkel. Só het Afrikaans tot ’n volwaardige wetenskaps- en onderrigtaal gegroei.
Vandag moet ons steeds doelbewus nuwe Afrikaanse terme ontwikkel, namate die wetenskap al vinniger vooruitgaan. Dieselfde geld vir ander inheemse tale.
5. Wat is moedertaalgebaseerde tweetalige onderrig (MTbBE)?
UNESCO beveel aan dat kinders minstens ses tot agt jaar lank op hul huistaal kan steun terwyl hulle addisionele tale aanleer.
Die behoefte hieraan is dringend. Volgens internasionale verlgelykende studies (PIRLS 2021) kon 81% van graad 4-leerders in Suid-Afrika nie met begrip lees nie. Vergelykende studies in Wiskunde en Natuurwetenskappe (TIMSS) toon ook ernstige agterstande. Onderrigtaal is een van die faktore wat hierdie uitdagings beïnvloed.
In baie lae- en middelinkomstelande ontvang kinders nie veel moedertaalonderrig nie. ’n Gebrek aan opgeleide onderwysers, handboeke en ontwikkelde vakterminologie maak dit moeilik.
Moedertaalgebaseerde tweetalige onderrig (MTbBE) bied ’n praktiese oplossing vir hierdie lande. Kinders begin in hul moedertaal leer, terwyl ’n tweede taal geleidelik as onderrigtaal bygevoeg word.
MTbBE kan dus ’n waardevolle brug wees waar volledige moedertaalonderrig nog nie beskikbaar is nie. Die ideaal bly egter volgehoue gehalteonderrig in die kind se moedertaal, met uitstekende addisionele onderrig in ‘n tweede of selfs derde taal.
6. Tegnologie maak moedertaalonderrig makliker
’n Gebrek aan leerhulpbronne hoef nie ’n onoorkomlike struikelblok vir Afrikaanse skole te wees nie. Die SOS bevorder moedertaalonderrig deur onderwysers professioneel te ontwikkel, beste onderrigpraktyk na te vors en skole prakties te ondersteun deur ‘n Afrikaanse onderrigbestuurstelsel (LMS) en uitstekende leerhulpbronne beskikbaar te stel.
Tegnologie maak dit moontlik om kundigheid, vakinhoud en beste onderrigpraktyke oor geografiese grense heen te deel. Die SOS se Wolkskool, met sy KABV-belynde leerinhoud en leerbestuurstelsel, maak gehalteonderrig in Afrikaans toeganklik, ook vir kleiner en afgeleë skole. Dit bied nuwe geleenthede om moedertaalonderrig nie bloot te behou nie, maar voortdurend te verbeter.
7. Wanopvattings oor moedertaalonderrig
Een van die grootste wanopvattings is dat kinders so vroeg moontlik in Engels onderrig moet word om die taal te bemeester. Wêreldbekende taalkundige, Jim Cummins, waarsku teen dié aanname. Hy onderskei tussen alledaagse gespreksvaardigheid en akademiese taalvaardigheid. ’n Kind kan binne ’n jaar of twee gemaklik in Engels gesels, maar dit kan vyf tot sewe jaar neem om die akademiese taalvaardigheid te ontwikkel wat ingewikkelde skoolwerk vereis.
Nog ’n wanopvatting is dat ’n taal vanself sterk genoeg sal bly om moderne kennis oor te dra.
Dit verg doelbewuste inspanning: Ouers en onderwysers moet goeie taalgebruik aanmoedig, kinders moet lees en taalgemeenskappe moet moet voortdurend vaktaal ontwikkel. ’n Taal wat nie saam met die wêreld ontwikkel nie, verloor uiteindelik sy vermoë om daardie wêreld te beskryf.
8. Moedertaalonderrig is ’n grondwetlike reg en internasionale norm
Artikel 29(2) van die Suid-Afrikaanse Grondwet bepaal dat elkeen die reg het om onderwys in die amptelike taal van hul keuse aan openbare onderwysinstellings te ontvang, waar dit redelikerwys uitvoerbaar is.
Internasionaal beklemtoon UNESCO en die Verenigde Nasies die belang van taalregte vir gehalteonderwys, kulturele identiteit en die voortbestaan van gemeenskappe. As ’n gemeenskap sy taal as onderrigtaal verloor, verloor hy sy vermoë om kennis, waardes en kultuur aan volgende geslagte oor te dra.
Daarom is die SOS ’n sterk voorstander vir die behoud en ontwikkeling van Afrikaanse skole en die uitbreiding van gehalteonderwys in Afrikaans.
Wanneer ouers oor die beste skool vir hul kinders besluit, moet hulle nie bloot vra watter taal die meeste mense in die wêreld praat nie. Vra eerder: “In watter taal sal my kind die beste leer en dink om sy of haar volle potensiaal te bereik?”. Die antwoord is: hul eie moedertaal.