In ’n era waar kunsmatige intelligensie geïntegreer is in die alledaagse lewe, is dit onvermydelik dat leerders daarvan gebruik maak. Die vraag is egter: Hoe gebruik hulle dit? Dink dit vir hulle, of help dit hulle om beter te dink? Daarom stel die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) tydens Wiskundedag by die 2026 Nasionale Kongres ’n nuwe KI-leerassistent bekend: Leerder Bot. Die hulpmiddel is ontwikkel om leerders met begrip, probleemoplossing en akademiese ondersteuning te help, terwyl die onderwyser steeds sentraal tot die leerproses bly. Anders as algemene KI-platforms gebruik Leerder Bot ’n geslote kennisbasis wat op die nasionale kurrikulum en Wolkskool se leerinhoud gebaseer is. Dit dien as ’n aanvullende hulpmiddel wat leerders ook buite die klaskamer kan ondersteun.
Die bekendstelling van Leerder Bot is doelbewus vir die Kongres se Wiskundedag gekies, omdat winskunde huis die vaardigehde beklemtoon wat leerders in ’n KI-era nodig het: kritiese denke, probleemoplossing en logiese redenasie. Hoewel KI vinnig antwoorde kan verskaf, bly die vermoë om self te dink, patrone raak te sien en probleme sinvol op te los noodsaaklik. Dit is juis hierdie vaardighede wat leerders nodig het om verantwoordelik met nuwe tegnologie om te gaan. Die onderwyser bly daarom sentraal tot die leerproses.
“KI vervang nie die onderwyser nie. Dit stel die onderwyser in staat om terug te keer na sy belangrikste rol: menslike mentorskap,” sê prof. Ignatius Gous.
Die KI-manifes dien as ’n rigtingwyser vir onderwysers, leerders en ouers in ’n tyd waar KI toenemend deel van die leeromgewing word. Die manifes beklemtoon onder meer menslike oordeel, akademiese integriteit, deursigtigheid en die verantwoordelike gebruik van KI in die leeromgewing. Die uitgangspunt is dat KI leer moet ondersteun, nie vervang nie.
“Verantwoordelike KI-gebruik beteken dat ’n leerder KI gebruik om beter te dink, nie om minder te dink nie. KI kan help verduidelik, oefen en orden, maar die begrip en finale werk moet steeds die leerder s’n bly,” sê Melanie Kroukamp, KI-spesialis by SOS.
Alhoewel KI nuwe moontlikhede vir leer ontsluit, beklemtoon SOS dat tegnologie nie die rol van die onderwyser kan vervang nie. Onderwysers bly verantwoordelik vir die ontwikkeling van kritiese denke, begeleide leer, waardevorming en die toepassing van professionele oordeel in die klaskamer.
Die Leerder Bot word bekendgestel om die beginsels van die KI-manifes prakties toe te pas. Die KI-leerassistent bied betroubare, relevante en ouderdomsgepaste ondersteuning binne ’n veilige opvoedkundige omgewing. Die hulpmiddel is spesifiek vir die onderwysomgewing ontwikkel om leer te ondersteun en kritiese denke te bevorder. Leerders kry ook toegang tot ondersteuning teen hul eie tempo en op hul eie tyd.
“Die heel belangrikste werk van ’n onderwyser is nie net die inhoud nie, maar die waardes en kultuur wat aan leerders oorgedra word,” sê Valentyn van der Merwe, ontwikkelaar van die bots.
Met die bekendstelling van die Leerder Bot en die KI-manifes wil SOS die gesprek oor verantwoordelike KI-gebruik in die onderwys verder voer, veral oor hoe tegnologie leer kan ondersteun sonder om die rol van die onderwyser te vervang. Tegnologie kan leer ondersteun, maar die onderwyser se begeleiding, oordrag van waardes en kultuur kan nie deur tegnologie vervang word nie.