Blog

HEEEEELP, my kind doen Wiskunde!

deur Hendrik de Kock, Wolkskooldosent

“Maar ma, waar gaan ek nou ooit hierdie Wiskunde in die regte lewe gebruik?”

As jy ʼn ouer van ʼn laerskoolkind is, het jy tien teen een hierdie woorde al menigmale gehoor. Jy besef dat jy jou kind moet help om met goeie begrip en vaardigheid, basiese Wiskunde-konsepte te bemeester, sodat hy/sy voorbereid op sukses, nie net vir die huidige nie, maar veral vir die toekoms sal wees.

Deur vaardig te raak met basiese konsepte soos optel, aftrek, vermenigvuldig en deel, lê die grondslag vir hoër-orde Wiskunde (soos bv. Algebra), maar veral die vermoë om probleme op te los.

“Education is not the learning of facts, but the training of the mind to think.”

Albert Einstein

Die vraag bly steeds, hoe verduidelik jy dit aan ʼn laerskoolkind? Hier volg tien wenke vir jou as ouer om ʼn liefde vir Wiskunde by jou laerskoolkind te kweek, sodat dit nie vir hul nodig sal wees om te vra hoekom hul Wiskunde moet baasraak nie.

  1. Taal en Wiskunde: Wiskunde is ʼn “taal” opsigself, maar sonder om die onderrigtaal, sê Afrikaans, goed te verstaan, sal hulle ook sukkel met definisies van wiskundige begrippe, soos bv. “groter as” en “kleiner as”. Dit sal baie moeilik wees om die Afrikaans, in ʼn som, in Wiskunde te “vertaal”, sodat die som met begrip opgelos kan word.
  2. Vestig getalbegrip eerder as “truuks” en memorisering of “slim”-maniere/metodes: Om ʼn truuk in Wiskunde aan te leer sonder begrip, is baie skadelik. Om vir ʼn kind te leer dat by ʼn desimale getal die komma na links skuif met vermenigvuldiging sonder die begrip dat die getal groter word, is sinneloos. Moet ook nie strategieë afdwing nie – laat hulle liewer toe om dit self te ontdek.
  3. Fundamentele- en basiese Wiskunde: ʼn Kind moet sy basiese bewerkingsreëls (soos volgorde van bewerkings en vermenigvuldigingstafels) ken.
  4. Gebruik hulpmiddele: Telraam, albasters, blokkies, breukstelle, ens. moet altyd beskikbaar wees. Klippies-en-stokkies is baie beter as pen-en-papier.
  5. Wys op die relevansie: Ons leef in ʼn Wiskundige wêreld. Wiskunde is oral om ons te sien.
    • Betrek hulle by kosmaak (resepte), wanneer hoeveelhede afgemeet moet word, ens.
    • Tyd: Hoe laat is dit? Hoe lank nog?
    • Afstand: Hoe ver nog? Wat is die afstand?
    • Kombinasies van afstand en tyd: Hoe ver kan ek ry as ek 3 ure ry teen 60 km/h, spoed, ens. Geld: Hoeveel kleingeld? Ongeveer hoeveel gaan die volgende kruideniersware items saam kos?
  6. Speel Wiskunde-speletjies: Wiskunde moet pret wees!
    • Getalle: Nommerplaatspeletjies in die motor. Ludo, Slangetjies-en-leertjies, ens.
    • Vorms: Boublokkies van verskillende vorms, ens.
    • Om Wiskunde in die vorm van speletjies te doen, bring baie pret in die vak (dit voel nie soos werk nie).
    • Doen wiskunde speletjies gedurende gesinstyd.
    • Kompetisies by die huis, maar ook olimpiades, ens.
https://skole.co.za/registreer-hier-vir-gratis-toegang-tot-die-wolkskool/

7. Gebruik tegnologie tot hulle voordeel: Rekenaarspeletjies: laat hulle wiskunde speletjies en -oefeninge op die rekenaar doen.

8. Fokus op logika, nie op reg en verkeerd nie. Leer uit die foute wat in die bewerkingstappe gemaak is, sodat die antwoorde uiteindelik ook reg kan wees. Moenie op perfeksie fokus nie, plaas eerder jou fokus op logika en die stappe wat op mekaar volg eerder as op die antwoord self. Kweek denkvaardighede en probleemoplossingstrategieë – dit sal op baie gebiede baie handig wees.

“A person who never made a mistake never tried anything new.”

Albert Einstein

9. Let op jou woorde. Sê deurlopend: Wiskunde is maklik, fassinerend, pret, bruikbaar en handig. Moet nooit sê: jy kan nie wiskunde doen nie; jy is nie aangelê om wiskunde te doen nie; ons familie kan nie wiskunde doen nie; jou ma is nie ʼn “Wiskunde”-persoon nie. Pasop vir etikettering: Wiskunde is net vir “nerds” en slim mense; almal sukkel met wiskunde. Weerhou jou om negatief van die onderwyser te praat. Te veel prys is ook ʼn probleem. As ʼn kind gedurig hoor hy ʼn wiskunde-genie, kan hy ʼn vrees ontwikkel vir mislukking. Help hulle om aan hulle wiskunde selfbeeld te bou. Motiveer positief: Gesonde aanmoediging, prys harde werk en uithouvermoë. As jou kind moedeloos word en sê hy is moeg en kan nie meer nie, verduidelik hoe goed dit vir jou brein is om te oefen, te groei en strek te word.

Everybody is a genius. But if you judge a fish by its ability to climb a tree it will live its whole life believing that it is stupid.”

Albert Einstein

10. Kweek ʼn “groei” ingesteldheid. Niemand word goed in wiskunde gebore nie. Dit kos harde werk om uiteindelik te kan presteer. Word wiskundig fiks! Vergelyk dit met ʼn atleet, ʼn pianis, ens., wat oefen, oefen, oefen. Aanhouer wen!

It’s not that I’m so smart; it’s just that I stay with problems longer.”

Albert Einstein

Soos dit goed is om elke dag vir jou kind te lees, so is dit ook noodsaaklik om elke dag wiskunde saam met jou kind te doen. Hulle leer dat as hulle bereid is om hard te werk aan iets waarvoor hulle lief is, sal hulle dit koester en nog harder daaraan WIL werk, nie omdat hul moet nie, maar omdat dit vir hul lekker is. Hulle sal ook nie bang wees, of ʼn vrees vir Wiskunde ontwikkel nie. Dis nie nodig vir jou kind om uit te blink in wiskunde om daarvoor lief te wees nie. Dit maak nie saak of hulle goed is in Wiskunde nie, maar dit maak saak hoe hulle daaroor voel.

Met ʼn bietjie aanmoediging, tyd en entoesiasme kan hierdie wenke jou kind help om Wiskunde selfs nog meer te geniet en lief te hê.

Die Wolkskool is ’n nuwe generasie leerplatform vir leerders. Onderwysers en ouers word ingelig, bemagtig en betrek by hul kinders se vordering. Leerders kan ter enige tyd leerinhoud bemeester deur middel van hoë kwaliteit videolesse, assesserings asook ondersteunende lesmateriaal in vakke soos Wiskunde, Wetenskap en Afrikaans Huistaal – gebaseer op die KABV-kurrikulum, in Afrikaans, alles teen ’n fraksie van die koste wat ekstra klasse sou kos.

Kry HIER al jou antwoorde oor registrasie, hoe om in te skryf, vakkeuses, grade, voordele, koste en betalingsopsies vir Die Wolkskool.


Ontvang ons nuusbrief

En bly op die voorpunt van onderwys in Afrikaans
[gravityform id=36 title=false description=false ajax=true tabindex=49]