Blog

Die twee gesigte van Wiskunde: Kies jy moed of vrees?

deur Maryke Bellingan

Onderwysspesialis: SOS


Wiskunde – daardie vak wat óf jou kop laat sing van opwinding, óf jou maag laat draai van vrees. Het jy al ooit gewonder waarom sommige kinders Wiskunde vrees, terwyl ander daarvan hou? Is dit die getalle self wat jou bang maak, of dalk die stem wat vir jou fluister hoe jy oor Wiskunde moet voel?

Die Engel en die Duiwel van Wiskunde

Die Engel van Wiskunde, en die Duiwel van Wiskunde. Twee onsigbare magte wat elke dag in klaskamers meeding om kinders se harte en breine te oorheers.

Die Duiwel van Wiskunde – koning van vrees

Die Duiwel van Wiskunde sit agter in die klas, met ‘n grynslag en arms gevou. Sy wapen in die stem van twyfel en onsekerheid.

  • Hy fluister: “Jy is nie slim genoeg hiervoor nie.”

  • Hy laat jou foute soos mislukkings voel.

  • Hy oortuig jou dat wiskunde koud, moeilik en betekenisloos is.

  • Hy vertel dat net sekere mense “Wiskunde-breine” het, en jy nie een van hulle is nie.

Sy grootste truuk? Om te keer dat jy jou eie wiskundige vermoë ontdek. Dat jy bang bly. Dat jy glo jy is nie goed genoeg nie.

Die Engel van Wiskunde – bewaker van nuuskierigheid en koningin van moed

Die Engel van Wiskunde sit voor in die klas, glimlaggend en gereed om jou te inspireer. Gereed met ‘n sak vol vrae en stories. Haar wapen is die vonk van verwondering.

  • Sy fluister: “Weet jy dat getalle stories vertel?”

  • Sy wys jou hoe Wiskunde in musiek, sport en die sterre versteek lê.

  • Sy moedig jou aan om vrae te vra en jou foute as geleenthede te sien.

  • Sy leer jou om jou eie unieke manier van dink en verstaan te ontwikkel.

Haar grootste doel? Dat jy jou eie innerlike wiskundige ontdek en vertrou. Dat jy sien jy is slimmer as wat jy dink.

Kies jou pad: vrees of nuuskierigheid?

Elke dag, in elke les kom hierdie twee stemme saam met jou skool toe. Die Duiwel sê jy kan nie. Die Engel wys jou dat jy sterker en slimmer is as wat jy dink. Watter stem gaan jy volg?

Wiskunde as manier van dink

Wiskunde is nie net ‘n vak nie, dis ‘n manier van dink, ‘n manier om probleme op te los en die wêreld rondom jou te verstaan. Die koningin van moed wil hê jy moet bou — jou selfvertroue, jou denke, jou drome. Die koning van vrees wil hê jy moet breek en jou selfwaarde betwyfel.

  • Kies jy die pad van vrees of nuuskierigheid?

  • Kies jy om jou brein te vertrou, óf twyfel jy in jouself?

Onthou: Jy is reeds ‘n wiskundemens!

Elke som is ‘n kans om jouself te verras. Elke vraag maak nuwe wêrelde oop. Elke fout is ‘n bousteen na iets groter. As jy al ooit gedink het: “Ek is nie ‘n wiskundemens nie,” onthou dat dit ‘n leuen is.

Jy is gemaak om patrone te herken, raaisels op te los en jou eie wiskunde-storie te skryf.

Die vraag is net: Wie gaan jy toelaat om jou storie te bepaal – die Engel of die Duiwel?

Teken in op ons nuusbrief