Die SOS het op 18 Maart 2026 onderwysers van kleuter- tot hoërskoolvlak by Hoërskool Zwartkop in Centurion byeengebring vir die Kou die Wiskunde-toffie-seminaar. Die doel van die opleiding was om onderwysers toe te rus met vars perspektiewe, praktiese oplossings en toepaslike strategieë om Wiskunde-onderrig in die klaskamer te versterk.
Die seminaar het gefokus op die grootste uitdagings in Wiskunde-onderrig, asook op maniere om meer leerders te motiveer om Wiskunde as vak te neem en daarin te presteer. Daar is ook klem gelê op die belangrike rol wat elke onderwyser, oor elke fase heen, speel in ’n leerder se uiteindelike sukses in Wiskunde.
“Ons het gaan kyk na die onderwysers se grootste bekommernisse met Wiskunde-onderrig. Wat kan ons doen om meer leerders te motiveer om Wiskunde te neem? Hoe kan ons onderwysers se visie verbreed oor ons kinders se toekoms in Wiskunde? Ons het ook gesels oor die feit dat elke onderwyser se rol ’n invloed het op ons leerders se matriekuitslae. Die SOS glo dat elke kind Wiskunde kan doen met die nodige ondersteuning en hulp,” sê Maryke Bellingan, onderwysspesialis en organiseerder van die Wiskunde-seminaar by die SOS.
Een van die sprekers, Marelie Swart, bedryfsielkundige van Opportunity Knocks, het beklemtoon dat elke kind op ’n unieke manier leer en dat almal Wiskunde kán doen. Volgens haar is elke leerder “anders slim” en het onderwysers die geleentheid om daardie unieke potensiaal raak te sien en te ontwikkel. “Jy het die mag om die verskil te maak tussen ’n kind wat twyfel en ’n kind wat begin glo dat hy of sy kan leer,” het sy gesê.
Die SOS se volgende opleiding oor Wiskunde vind op 10 Oktober 2026 plaas en sal fokus op leerderondersteuning in Wiskunde. Onderwysers en skole wat belangstel, kan die SOS se webblad besoek by www.skole.co.za.